danelle_en_soldate
Lewe + Liefdes

Opwindende en ontwrigtende tydjie vir Danelle Kritzinger in Suid-Korea

Die laaste maand as Suid-Afrikaanse onderwyser in Suid-Korea was nie altyd maklik nie. Dit het op 25 Februarie 2013 begin met die inhuldiging van me. Park Geun-hye as die nuwe president. Sy het haar ampseed afgelê en is met ope arms deur die Suid-Koreane as hul nuwe president toegejuig. Elke koerant, TV-kanaal en plakkaat teen ‘n lamppaal het haar verwelkom. Omdat alles in Koreaans is, kon ons buitelanders geen berigte verstaan of die nuuskanale volg nie – maar dis niks nuuts nie. Ons het darem al elf maande se oefening gehad om aan hierdie “outsider-lewe” gewoond te raak.

En toe begin die dreigemente deur die nuwe, jong Noord-Koreaanse leier.

Met twee en ‘n half weke van ons jaarkontrakte oor, word ons gedwing om besluite oor ons lewe en ons eie veiligheid te neem. Wat dit veral moeilik gemaak het, was die onsekerheid en die uiteenlopenede boodskappe wat ons uit verskillende oorde ontvang het.

Ons sien geen verandering in die Koreane se daaglikse roetine rondom ons nie. Die skole gaan voort. Alles verloop klopdisselboom soos voorheen. Die logiese redenasie is dat dit jou veilig moet laat voel. As hulle nie bang is nie, hoef jy ook nie bang te wees nie. Maar dan kry jy op jou selfoon waarskuwings via BBC dat alle buitelanders moet evacuate.

Die media het dit ook reggekry om my ma-hulle, wat 12 477 km van my af sit, paniekerig te maak. Met elke nuwe brokkie inligting is ek in die middernagtelike ure wakker gebel en aangeraai om huis toe te kom. Wat die hele tyd deur my kop warrel, is: “Dis my ouers, hoekom sal ek nie vir hulle luister nie?”

Dan vra jy rond: “Wat doen ons as Kim Jong-oen besluit om wel ’n kernoorlog te begin? Waarheen vlug ons as mense rondom ons begin skuiling soek? Sal ons die noodseine kan verstaan? Watter nuuskanale is akkuraat en betroubaar?” Ek het my Koreaanse kollega om raad gevra en elke keer ’n onbevredigende driewoord-antwoord ontvang: “Danny, we safe”, “This is normal”, “Sure, don’t worry”. Hulle antwoorde moes my eintlik kalmeer, maar het die teenoorgestelde uitwerking gehad. My Amerikaanse vriende se siening was: “We will wait for further instruction from our embassy. They haven’t given us the green light to evacuate or seek shelter.”

Ek slaap vir omtrent ‘n week nie, want die Suid-Afrikaanse ambassade in Seoel se webwerf is nog nie opgedateer sedert 2009 nie. Daar is geen inligting rakende ons veiligheid of planne om Suid-Afrikaners te ontruim sou daar iets gebeur nie. Hulle weet nie eers ek sit in Suid-Korea nie.   

Terwyl my foon elke vier sekondes vibreer met ‘n nuwe BBC-waarskuwing, word elke paar minute toere na die Demilitarized Zone tussen Noord- en Suid-Korea (DMZ) gereël. Groepe Koreane en buitelanders vertrek daagliks na die DMZ om foto’s te neem en in die “oorlogstonnels” rond te loop. Ons agentskap laat weet dat ons veilig is (nadat ek ’n noodnavraag aan hulle deurgegee het). Dit maak net nie sin nie. Ek kry waarskuwings en benoude oproepe van my ouers, so wie glo ek? Ek ken hierdie omstandighede GLAD NIE!

Dinsdag 9 April om 16:35 ontvang ek die volgende ontstellende nuus: “North Korea: Foreigners should evacuate South Korea.” Steeds sê my Koreaanse kollega geen woord oor hierdie hele affêre nie. Ek besluit om nie kanse te vat nie. Niemand anders kan my van my veiligheid verseker nie. Ek pak my tasse en besluit om die volgende oggend Goensan toe te ry. Ek bly in Intsjeon, reg langs Seoel en heeltemal te naby aan die grens tussen Noord- en Suid-Korea! Goensan is heel suid en ook waar my verloofde, Christo Bosch, bly en skoolhou. Daar’s volgens News24 en BBC twee datums gegee wanneer Kim Jong-oen moontlik sal kan aanval: Woensdag 10 April en Maandag 15 April. Terwyl ek in die bus sit, siek van onsekerheid en benoudheid, stel ek my werkgewer in kennis ek gaan nie die volgende dag skool toe kom nie, en dat ek beplan om in Goensan te bly tot die volgende Maandag.

Woensdag gebeur daar niks, en nadat ek rustiger geraak het, pak ek die busrit terug aan en is 11 April terug by die skool. UITEINDELIK word ek ingeroep en word die hele situasie aan my verduidelik. Die Koreaanse onderwyser wat die vertaalwerk doen, verduidelik hoe die Noord-Koreane sy bure Suid-Korea al jare lank dreig. Hoekom hulle nie hierdie gesprek twee weke gelede met my kon hê nie, gaan my verstand te bowe.

Maar nou weet ek: Noord-Korea dreig – dis wat hulle doen. Elke vier jaar, wanneer Suid-Korea ‘n presidentsverkiesing het, begin Noord-Korea met hul dreigemente. Nie ‘n enkele Koreaan reageer of neem hierdie dreigemente ernstig op nie.

So, volgens my, sodra jy die nuuskanale se apps op jou foon verwyder, is daar geen gevaar vir enige Suid-Afrikaner of buitelander in Suid-Korea nie. En ek is verseker AS daar enigsins gevaar sou wees, sal die Suid-Koreane in elke taal moontlik ontruimingsplanne deurgee. Ons vlieg môre terug Suid-Afrika toe met vrede in ons hart en ‘n opwindende amper-oorlogstorie om te vertel.