Lewe + Liefdes

Penang – ’n ware lus vir die oog

Tjaart Herbst, ’n SARIE-leser, het daar gaan rondreis en vertel meer.

Die ou stadsgedeelte van Georgetown (histories die hoofstad van Penang) is in 2008 as Wêreld-erfenisgebied verklaar weens die unieke argitektuur. En dit is inderdaad ’n belewenis wat menige toeris in vervoering het. Vir my ook!

Ek moet binnekort weer soontoe gaan, want ek moet elke maand Thailand verlaat om ‘n nuwe visum te kry. Suid-Afrikaners het nie ‘n visum nodig vir Maleisië nie en dis daarom baie gerieflik om soontoe te gaan. Daar is soveel om te sien en die klein eilandjie het heelwat om te bied. Met my volgende besoek wil ek die vuurvliegie-reservaat langs die Sungai Kerianrivier, die vlermuisgrotte, die 25 hektaar groot tropiese vrugteplaas waar meer as 250 tropiese – en subtropiese vrugte van regoor die wêreld gekweek word, en ook die skoenlapper-natuurreservaat met sy onder meer 50 skaars en eksotiese skoenlappers, gaan verken.

‘n Vliegtuigrit van Bangkok na Penang duur sowat 2 uur. Jy sien van ver af die hoë geboue. Die indrukwekkende Komtargebou het 65 verdiepings. Konstruksie het in 1974 begin en die hele projek is eers in 1986 voltooi. Dit was tóé die naashoogste gebou in Asië. In 1983 het ‘n brand op die 43ste vloer ontstaan. Dit kon nie geblus word nie en al die boonste verdiepings is beskadig. Die sentrum huisves talle winkels, staatsdepartemente, kantore, eetplekke en ‘n kruidenierswinkel met ’n groot verskeidenheid kosprodukte. In dié winkel het ek die heerlikste lekkergoed gesien, soos toffielekkers gemaak van koejawels en ander van mielies. ‘n Restaurant in die omgewing het ‘n baie gewilde Penang-gereg op hul spyskaart: ryspap met gebraaide paddas. Nee wat, ‘n tradisionele ontbyt is steeds vir my smaakliker! En veiliger!

Die Pinang Peranakan-herehuis waar rolprente en TV-reekse gereeld verfilm word, is ‘n besoek werd.  Dit getuig van die rykdom van weleer en het behoort aan Kapitan Cina Chung Keng Kwee, wat in 1821 gebore is. Hy het in 1841 hierheen gekom op soek na rykdom in die mynbedryf en om sy droomhuis hier te kon bou. Dis in die Peranakaanse styl gebou met ‘n binnehof. Daar is ook ander invloede soos Chinese houtgekerfde panele, Engelse Stoke-on-Trent-vloerteëls, gebrandskilderde vensters en pilare. Die Skotse gietyster-handrelings van die hooftrap is tipies van daardie era, met ‘n fleur-de-lis-motief  soortgelyk aan dié van die Louis Vuitton-ontwerp. 

Die Pinang Peranakan Herehuis Die huis is gebou om 'n binneplein.
Die Pinang Peranakan-herehuis waar rolprente en TV-reekse gereeld verfilm word. Die huis is om ‘n binneplein gebou.
Gebrandskilderde vensters Vloerteëls
Pragtige gebrandskilderde vensters. So lyk van die vloerteëls.

Nog ‘n indrukwekkende plek is die Cheong Fatt Tze-herehuis, alombekend as die Blou Herehuis.  In die jaar 2000 het dit spesiale status gekry van UNESCO vir kultuur- en erfenisbewaring. Hoewel dit in ‘n Oosterse styl gebou is, is daar Westerse argitektoniese invloede soos die luike voor die vensters, gebrandskilderde vensters en vloerteëls, ook van Stoke-on-Trent in Staffordshire, Engeland. Die huis en buitegeboue is nie parallel met die straat soos die res van die ander wonings nie. Cheong Fatt Tze wou nie sy rykdom op die spel plaas nie en het sy huis laat ontwerp volgens die feng shui-konsep en boustyl.  ‘n Meesterontwerper en bouer is gehuur om alles uit te werk. Die huis moes op die regte tyd gebou word, die regte soort boumateriaal moes gebruik word, en selfs die rigting waarin die water moes afvloei, asook dié van die wind, is in berekening gebring. Die geskiedenis van Cheong Fatt Tze is baie interessant. Hy het as ‘n waterdraer begin werk en is later jare deur die Chinese regering beloon vir sy harde werk en bevorder tot die minister van landbou.

Cheong Fatt Tze se jongste seun het die huis bewoon tot met sy dood in 1989, waarna dit aan ‘n groep restoureerders van historiese geboue verkoop is. So is die landmerk van sloping gered. Vandag word dit gebruik vir die maak van films en TV-reekse, en het dit ook in 2011 ‘n toekenning van die Maleisiese regering gekry vir die beste boetiekhotel.

Die Blou Herehuis Die Blou Herehuis
Die Blou Herehuis is ‘n geskiedkundige gebou. Interessante detail.
Die Blou Herehuis Lanterns
Die gietyster-traliewerk is iets besonder. Kyk hoe romanties!

Die sogenaamde slang-tempel is enig in sy soort.  Ek is soontoe uit blote nuuskierigheid, want ek het eintlik ‘n vrees vir slange. Met die eerste oogopslag het ek nie gedink dis so indrukwekkend nie en het gewonder waar die slange is, tot my oog op die ‘kapstokke’ geval het. Daarop het die slange roerloos gelê. Die waarskuwingsteken is ook duidelik sigbaar. Jy mag nie die slange aanraak of optel nie, aangesien hulle beseer kan word. Hulle is boonop giftig. Wierookwalms vul die tempel en hulle glo dat dít die slange onskadelik maak. 

Bord met waarskuwing in die Slangtempel. Slange op die kapstok.
Jy word duidelik gewaarsku dat die slange lewendig is. Lekker lê slang se kind so op die kapstok.

Die legende vertel hoe Chor Soo Kong, ‘n Boeddhistiese monnik wat glo genesingskrag besit het, in die bosse gewoon en huisvesting aan die slange gegee het. Ná voltooiing van die tempel het die slange hul intrek daar geneem en dit nooit weer verlaat nie as eerbetoon aan Chor Soo Kong. Al is daar nie meer so baie slange soos voorheen nie, moet jy steeds maar versigtig trap. Die slangtemmer het vir my gelag omdat ek nie aan ‘n ‘onskadelike’ slang wou vat en om my nek hang sodat hy ‘n foto kon neem nie.  Daar’s geen manier dat ek OOIT aan ‘n slang sal raak nie, wat nog te sê om my nek hang!

  • Jeanette

    Dankie, my vriend, geniet die artikels sommer baie. Voel ek is saam met jou daar wanneer ek soveel detail kry. Baie Blessings en liefde!

  • Nicolene

    Gits, Tjaart, jy maak vir my deure oop en laat my wêrelde sien waarvan ek nooit eers geweet het nie. Jou vertellings is ongelooflik interessant – jy moet dit saam met uitsonderlike foto’s in ‘n boek omskep.

  • Erika Horn

    Mal oor die interessante artikels, ongelooflike foto’s en entoesiasme waarmee jy reis en skryf!

  • Beppie

    Dankie Tjaart vir hierdie wonderlike juweeltjies. Ons geniet dit regtig baie.

  • Tania

    soos altyd, te lekker gelees . . . . kannie wag vir die volgende!