Lewe + Liefdes

Redi Tlhabi en Karen Jayes wen literêre pryse

Redi Thlabi het die Alan Paton-toekenning gekry vir haar eerste boek, Endings & Beginnings (Jacana), waarin sy ‘n persoonlike verhaal deel van ‘n onwaarskynlike vriendskap en die verlies daarvan en haar latere aanvaarding en heel word. Sy het die prys as een van die beste oomblikke van haar lewe beskryf.

Toe Redi sewe jaar oud was is haar pa gewelddadig vermoor in Soweto waar hulle gewoon het. Hierdie was vir haar ‘n traumatiese ervaring, want sy het gesien hoe die gemeenskap om haar pa se lyk in die straat saamdrom en darem uit respek ‘n koerant oor sy gesig plaas. Twee jaar later staan sy weer by ‘n straathoek in Soweto en weer kyk sy na ‘n lyk. Hierdie keer is dit haar vriend, Mabegzo. Maar die keer is die gemeenskap maar te dankbaar dat die verkragter en moordenaar self ‘n bloedige en gewelddadige dood gesterf het. Hulle vier sy heengaan en gebruik sy dood as ‘n waarskuwing vir ander jongmense.

Redi en Mabegzo het twee jaar na haar pa se dood ’n onwaarskynlike vriendskap gevorm en ’n emosionele band gehad.  Dit het Redi laat wonder waarom iemand wat met soveel geweld gelewe het geen moeite ontsien het om hom oor haar te ontferm nie. Hulle het ’n rare vriendskap gehad. In die gemeenskap was hy ‘n wreedaard, maar vir haar het hy altyd net ‘n sagte woord en ‘n glimlag gehad.  Sy teenstrydige lewe en Redi se vriendskap met dié skurk het deur haar lewe lank by haar bly spook. Sy moes uiteindelik op ‘n emosionele reis gaan om vrede te probeer vind met wie Mabegzo was en dit wat hy verteenwoordig het. Dis ‘n intense persoonlike reis wat haar na almal in sy lewe neem. In die proses ontbloot sy nie net sy lewe nie, maar ook haar eie siel. Een van die belangrikste kwessies wat sy in die boek aanraak is hoe die samelewing en families dikwels kinders faal en hulle nie die nodige liefde en opvoeding gee om as volwaardige mense te ontwikkel nie. Baie keer is die kinders se enigste uitweg geweld, om ander te boelie, omdat dit die enigste manier is hoe hulle hulself kan laat geld.

Dis ‘n boeiende verhaal wat jou laat wipplank ry tussen trane en wanhoop. Tog hou jy aan met lees, want Redi se verhaal bring ook insig en hoop. Deur hierdie proses kry sy ook antwoorde en maak vrede met hierdie dinge wat so lank ongemaklik in haar lewe was. Aan die einde van die boek kan jy nie anders as om beïndruk te wees met hoeveel sorg Mabegzo se verhaal vertel word en met hoe ’n mate van waardigheid aan sy lewe gegee word. Jy besef ook almal van ons is net mense wat die produk is van die samelewing se invloed.

Op die kortlys vir nie-fiksie het haar boek te staan gekom teen:

The Last Afrikaners deur Herman Giliomee (Tafelberg)

Biko: A Biography deur Xolela Mangcu (Tafelberg)

Rat Roads deur Jacques Pauw (Zebra Press)

Killing for Profit deur Julian Rademeyer (Zebra Press)

Die fiksie-prys is toegeken aan Karen Jayes vir haar boek, For the Mercy of Water (Penguin Books SA).  

Die ander finaliste was:

The Institute for Taxi Poetry deur Imraan Coovadia (Umuzi)

Entanglement deur Steven Boykey Sidley (Picador Africa)

The Unlikely Genius of Dr Cuthbert Kambazuma deur Chris Wadman (Jonathan Ball)

The Book of War deur James Whyle (Jacana)

Nadine Gordimer het die Lifetime Achievement-prys ontvang.

 For The Mercy of Water

For the Mercy of Water, Karen Jayes (Penguin Books, R153)
Dié verhaal speel af in ‘n droogte-geteisterde land waar al die water streng beheer word en waar enigiemand wat water steel swaar gestraf word deur amptenare van die watermaatskappy. Ná ‘n reënbui in ‘n afgeleë deel van die land verskyn berigte dat ‘n ou vrou en ‘n paar jong meisies daar woon en onregmatig water gebruik. ‘n Joernalis vertrek op ‘n tog na die dorpie om uit te vind wat die amptenare van die watermaatskappy aan hulle gedoen het. Wat sy daar uitvind, plaas haar ook in die visier van die watermaatskappy, maar sy ontdek krag in haarself waarvan sy nie bewus was nie.

Die boek verkry ‘n universele karakter deurdat geen plekke genoem word nie en dat net een karakter benoem word – Eve. Hierdie is beslis nie ligte leesstof nie, maar dis so pragtig geskryf dat dit absoluut die moeite werd is om dit te lees en te herlees.  – Retha Burger