jul05reisartikel1a
Reise

48 uur in Dublin

Dis 18°C, vir die Iere ’n warm somermiddag in Dublin. “Kýk net die bloublou lug!” roep Ted die taxibestuurder uit, en gooi so in die ry sommer albei sy hande in die lug. Die Iere, sê hy op pad van die lughawe, waardeer elke liewe mooiweersdag, want hier is dit selfs in die somer dik wels gryserig en bewolk.

Ons ry ’n ent met die Liffey-rivier langs, die natuurlike grens tussen die stad se noordelike en suidelike deel. Aan hierdie einste oewer aan Ierland se ooskus het die Wikings in die tiende eeu ’n vesting kom oprig en dit Dubh Linn genoem. En nie ver van hier nie het die komponis Händel vir die eerste keer sy Messias uitgevoer. Die Iere is van Europa se grootste lesers – Dublin was die tuiste van gróót literêre geeste soos James Joyce, Oscar Wilde, George Bernard Shaw, William Butler Yeats, Samuel Beckett en Jonathan Swift, lg. die skrywer van Gulliver’s Travels.

 

Dis dié kuiergees en humorsin, sê sy, wat die Iere se behoud was

 

Ted het my skaars afgelaai by my fraai gastehuis met sy tamatierooi houtdeure, of ek kom agter die inwoners is so warm en hartlik soos die son wat vandag skyn. “Fáilte!” (welkom) groet ’n uitgelate Helen, my gasvrou, en verduidelik dat hoewel net ’n klein deel van die Ierse bevolking vandag nog vlot Iers (Gaelies) praat, is dit saam met Engels hierdie groen land, ook genoem die Smarageiland, se twee amptelike tale. En, lig sy my met ’n tipies singerige Ierse aksent in, in dié stad maak al wat leef en beef craic. Dit beteken jy kuier, vertel grappe, sing, eet en drink. Dis dié kuiergees en humorsin, sê sy, wat die Iere se behoud was toe duisende van hulle in die middel negentiende eeu weens die aartappelhongersnood dood is en duisende na veral Amerika geïmmigreer het.

Kroegtoer
Ná Helen se aandete – geurige Dublin-baked crab cakes en nagereg van soetsuur rabarber-pastei met romerige, dik vla – laai sy my vir ’n literêre kroegtoer af by die Brown Pub. Braain Pub, spreek sy dit uit. Toe ek frons, spot sy: “Ons Iere kan mos nie ordentlik praat nie.” “Come make lovely craic daain (down) here,” roep die akteursgidse Seamus en Sean, en sommer op die sypaadjie buite die kroeg begin dramatiseer hulle ’n gedeelte uit Joyce se beroemde Ulysses. Van kroeg tot kroeg (hier is minstens duisend!) vermaak hulle jou met poësie en komiese vertellings. Ek hoor van die legendariese leprechauns, die Ier se aardmannetjies wat volgens volksoorlewerings glo kosbare skatte het, en dat Oscar Wilde hier naby gebore is by Merrion Square met sy Georgiaanse geboue en deure met die mooiste houtsneewerk.

In Dublin sal jy baie nuwe vriende ontmoet, want omtrent al 1,5 miljoen inwoners is lus vir gesels. Soos hulle sê: “We Irish have the gift of the gab.” Hulle is gek oor hul eie stemme en stories, maar hulle luister ook graag na jóú. “What’s the story?” is hul tipiese aanknoopsin, en jy leer vinnig om met feite te borduur om ook jóú storie interessant te maak. Die Iere se gunsteling-drankies is Ierse whiskey, nogal monnike van eeue gelede se resep (hulle het dit uisce beatha genoem, wat “water van die lewe” beteken), en Guinness-bier  – ryk en donker, afgerond met ’n dik, romerige skuimlaag. Die Dubliners noem dit “the dark stuff” en “the blonde with the black skirt”. Slante! (spreek uit: “slaantje”), klink dit op in ál wat ’n kroeg is soos die kuier broers en -susters hul glase lig en mekaar die vyf goeie dinge van die lewe toewens: liefde, geluk, vrede, gesondheid en voorspoed.

 

‘Daar’s ‘n stille vertroue dat ons Iere ons deur net mooi niks laat onderkry nie.’

 

Elke kroeg het sy eie atmosfeer, van The Dawson Lounge, Dublin se kleinste een, waar omtrent net tien mense met gemak kan staan, tot groot dubbel verdiepingkroeë met lang kuiersale en sagte leerbanke wat ’n paar honderd mense kan huisves. Sommige het karaktervolle houtvloere en losies waar groepies vriende eenkant sit en kuier, ander het sementvloere met die mooiste geverfde kunswerke. Dis reeds laataand wanneer ons ons laaste kroeg besoek, en Sean en Seamus vir oulaas ’n stukkie letterkunde opvoer, dié keer van Yeats. Die stap in die fris aandluggie het my eetlus aangewakker en ek smul aan ’n bakkie warm uiesop en sodabrood. “As blas do bheil,” wens Sean my ’n smaaklike ete toe. Terwyl hy ’n laaste Old Jameson-whiskey op ons gesellige aand klink, groet hy groot oog met die nuus dat die skrywer Bram Stoker hier naby die St. Stephen’s Greenpark gewoon het. En dat sy bekende monsterkarakter, Dracula, glo nog nie tot rus gekom het nie . . . Toe ek taamlik poot-uit by my blyplek aankom, is dit nóg nie klaar gekuier nie. Helen wag my in met ’n uitnodiging dat ons voor inkruiptyd ’n “What’s the rush?” drink. Dis whiskey gemeng met rooibosbessiesap en glo baie gewild.

Kultuurstad
Vroeg die volgende oggend hop ek op ’n oopdak-dubbelverdiepingbus vir die 75 minute lange rit verby die stad se belangrikste bakens, so tussen die mengsel van Middeleeuse, Georgiaanse en moderne argitektuur deur. Pat, die busbestuurder, sing Ierse liedjies en vertel staaltjies. Daar’s Christ Church-katedraal, Dublin se oudste gebou (sedert 1030), St. Patrick-katedraal, Dublin-kasteel uit 1204, die skrywersmuseum op Parnell Square en daar naby die James Joyce kultuursentrum, die distilleerdery waar Old Jameson Whiskey sedert 1780 gemaak word, en Phoenix Park, Europa se grootste omheinde park.

Een van die eerste pubs wat Guinness verkoop het.

Net noord van die Liffey-rivier groet ek Pat, en loop rustig oor die moderne Millennium-brug na die Temple Bar-distrik, die kulturele hart van die stad met sy smal kronkelstraatjies van klip, interessante kunswinkeltjies en ateljees met veral kontemporêre kunswerke. Met Ierland se sterk ekonomie en sy euro-geldeenheid is Dublin vir ’n Suid-Afrikaner allermins ’n winskoop-mekka. Pleks van middagete in ’n restaurant, spaar ek ’n hele klompie euros deur in ’n Dunnes-supermark ’n sodabroodjie, forelslaai en bessiesap te koop. Op ’n parkbankie langs ’n dammetjie in St. Stephen’s Green hou ek piekniek terwyl ’n strykorkes ’n etensuurkonsert met Vivaldi se musiek uitvoer. ’n Paar straatblokke verder is Trinity College, ook genoem die Universiteit van Dublin, met sy koepel-klipingang en Elisabethaanse binnehowe. Die kampus se biblioteek is ’n belewenis, veral sy Book of Kells, ’n versameling 9de-eeuse volumes van die Evangelie. Daar is ’n 63 m lange dubbel verdiepingsaal, met marmerborsbeelde van wysgere en skrywers, donker houtrakke vol kosbare geskrifte tot teen die plafon.

Laatmiddag verken ek die sentrale inkopiegebied, van Grafton Street tot O’Connell Street. Tussen die vyfsterboetieks, oudhede- en snuisterywinkeltjies deur is dit ’n gewoel van energieke straat kunstenaars en koop- en kykgeesdriftiges. Eers laatmiddag stap ek onwillig weg met ’n sak vol Ierse sjokolades gevul met whiskey, lekkerlees-boeke en knussagte wolkouse van die Connemara-skaapstreek in Noordwes-Ierland. Die meeste Iere sal vir jou sê ’n besoek is nie afgerond voordat jy die uitmuntende viskosse geproe het nie, veral forel, rog, salm, kabeljou en garnale. Dus bederf ek myself vanaand in ’n restaurant in die teaterdistrik met ’n “supreme of salmon rested on a confit of fennel and sun blushed tomatoes surrounded by a lime and dill sauce”. My mond water nou nog . . .

Ek moet groet
Dis my laaste aand in Dublin. In sy oudste teater, Gaiety, wag die Ierse treffermusiek spel Riverdance, waarmee Ierland se klopdansers en vioolspelers die wêreldverhoë verower het. Ek het dit voorheen in New York gesien, maar hier tussen die Iere met hul swaarkry-verlede, kry dit ekstra dimensie. Soos Shelly McColgan in haar teaterstoel neffens my sê: “Agter die energieke bewegings en die wilde ritmes straal ’n stille vertroue uit dat ons Iere ons deur net mooi niks laat onderkry nie.”

Die volgende oggend op pad terug lughawe toe neem die taxi my weer al langs die Liffey verby. Soos ek die stad vir oulaas indrink, weet ek: Al sou ek mettertyd al dié plekname vergeet, sal die gesigte, die stories en stemme van Dublin se warm mense my altyd bybly.