FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

90 mm reën per maand vir Lezanne en Walter Fieuw in Skotland!


Die weer is nogal ’n tamaletjie vertel sy. Boonop kan jy die weer voorspel deur net deur die venster te kyk! Die Fieuws woon op die oomblik in Glasgow, terwyl Waler daar studeer.

Waar woon julle en waarom daar?
Ons bly tans in Glasgow, Skotland. Die deel waar ons woon, Shawlands, is ’n nuwerwetse deel van die stad aan die suidekant van die Clyderivier. Glasgow staan bekend as Dear Green Place weens die talle pragtige parke. Ons woonbuurt is tussen Pollok Country Park en Queen’s Park, vernoem na Mary, koningin van die Skotte. Sy het in 1568 die Geveg van Langside hier verloor.

Pollok Country Park in die winter.

Pollok Country Park in die winter.

Wat doen julle daar?
Walter, my man, doen sy meestersgraad in stadsbeplanning aan die Universiteit van Glasgow. Dié stad was eens aan die front van skeepsbou tydens die industriële revolusie. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die aanvraag egter afgeneem, met werkloosheid en armoede die gevolg. Die plaaslike regering het planne beraam om sosiale behuising te verskaf as ’n oplossing vir vervalle geboue, oorbevolking en ’n behuisingstekort. Glasgow bied dus die ideale platform om meer te leer oor stadsbesplanning en die kreatiewe oplossings vir sosiale uitdagings.
Ek is ’n arbeidsterapeut en werk by Obair, ’n private maatskappy wat dienste verskaf met betrekking tot werksrehabilitasie.

Hier is ons by die Glenfiddich distillery naby Dufftown.

Hier is ons by die Glenfiddich distilleerdery naby Dufftown.

Wat was die moeilikste om aan gewoond te raak?
Om nie beskuit in die supermark te kan koop nie!

Die weer?
Ja, die weer kan nogal ’n tamaletjie wees. Die mense sal sommer so tong-in-die-kies sê dat jy die weervoorspelling vanuit jou venster kan maak: as jy wolke kan sien, beteken dit dit gaan reën; en indien jy geen wolke sien nie, dan reën dit!  Dit reën gemiddeld meer as 90 mm per maand in Glasgow. As jy ’n sonskyndag kry, is dit ’n bonus! In die lente en somer is die dae lekker lank. Op die oomblik sak die son tienuur in die aand – ’n groot verskil tussen sonsondergang rondom vieruur in die winter. Hierdie tyd van die jaar gaan die mense gereeld ná werk park toe vir ’n vinnige barbeque op ’n klein weggooi-braaier. Nou nie heeltemal dieselfde as ’n Suid-Afrikaanse braai nie!

Naby Mull-eiland.

Naby Mull-eiland.

Is dit duur om daar te woon?
Die lewenskoste kan nogals taai wees, so mens moet maar jou sente omdraai. Om te fliek kos byvoorbeeld £10 (R220). Daaglikse inkopies is soortgelyk aan pryse in Suid-Afrika.  Natuurlik kan mens vir baie goedkoper reis. Dit help ook darem om in ponde te verdien.

Die Moher-krans.

Uitsig van die Moherkrans.

Hoe is die mense?
Ons is mal oor die Glaswegians! Glasgow is ’n baie hartlike stad en ons het vinnig hier tuis gevoel. Hulle geniet dit om te gesels. En mens sal sommer met iemand by ’n bushalte begin gesels en hul lewensverhaal ken teen die tyd wat die bus kom. Ons het onlangs ’n vertoning by ons plaaslike pub bygewoon. Oorkant ons het ’n afgetrede paartjie gesit. Teen die einde van die aand was ons sommer ou vriende! Ons geniet die plaaslike aksent en al die skerpsinnighede. Wee beteken bevoorbeeld “klein”, maar dit word ook gebruik as ’n beskrywing van kostelikheid. Yaldi!

Walter klim 'Goatfell' op Aran-eiland.

Walter klim ‘Goatfell’ op Aran-eiland.

 

Hoe is die gevoel in Skotland ná die uitslag van die Brexit referendum?
Oor die algemeen is die Skotte ontsteld oor die uitslag van die referendum, aangesien dit Skotland baie baat om deel te wees van die EU. Dit mag dus in die toekoms ’n tweede Skotse referendum tot gevolg hê.

Die verlatendheid van Mull-eiland is beeldskoon.

Die verlatendheid van Mull-eiland is beeldskoon.

Kry julle tyd om te reis?
Ek is bevoorreg deurdat ek regoor die Verenigde Koningryk reis vir werk.  Ek het die geleentheid gehad om die Shetland-eilande te besoek, asook dele in Engeland en Wallis. Ek reis ook binnekort na Guernsey vir werk. Die eilande is fassinerend en ek en Walter het al ’n draai gemaak op Mull-, asook Aran-eiland. Beide bied wonderlike natuurskoon en ons geniet dit om die omgewing te verken deur berg te klim. Ons het Ierland besoek, waar ons ’n draai gemaak het by die Moherkrans. Ons beplan ’n reis na Oos-Europa in September, en sal onder andere Boedapest, Boekarest en Praag besoek.

Mis julle SA?
Natuurlik! Ons is baie lief vir ons land en sien uit om terug te keer nadat Walter sy studies voltooi het  Daar is niks wat naby familie en die Suid-Afrikaanse landskap kom nie.

Die koeie hier dra winterjasse!

Die koeie hier dra winterjasse!