sr1001kuber01
Reise

Sally Harmse skryf uit Al-Khobar, Saoedi-Arabië

Waar werk jy?
Ek is kantoorbestuurder vir die hoof van ortopediese en rehabilitasie-dienste by ‘n private spesialishospitaal wat soos ‘n 5-sterhotel lyk. Dis in Al-Khobar, naby die Persiese Golf se kus, in die olieryke Oostelike Provinsie.

Waarom Saoedi-Arabië?
Buitelanders word gewerf vanweë hul kwalifikasies en bekwaamhede en maak een derde van die bevolking uit. Net 5% van die plaaslike vroue werk. Die regering is besig om die opvoedingsplan te hersien, wat mettertyd die vraag na buitelanders sal laat afneem. Voordele aan hier werk, sluit in ‘n belastingvrye pakket, gemeubileerde verblyf, vervoer na en van die werk, mediese dekking, ‘n jaarlikse vliegtuigkaartjie huis toe en 30 dae vakansie per jaar. Die banke hier verhaal geen bankkoste nie en sakeondernemings verhaal geen verkoopsbelasting nie. Personeel kan by die hospitaal se eie opleidingsentrum enige van die kursusse wat aangebied word, volg. Ek het basiese Arabies en mediese terminologie gedoen.

Die lewe vir ‘n Westerse vrou daar?
Dis beperkend. Jy moet in die openbaar ‘n abaya dra (‘n warm swart oorrok), maar ons word hoofbedekkings gespaar. Werk toe dra ek gewone kantoordrag met lang moue, en my enkels moet bedek wees. Juwele en grimering is toelaatbaar. Indien jy in die openbaar saam met ‘n man verskyn, moet jy dokumente hê wat bewys dis óf jou man, jou seun, jou broer óf pa. Anders kry jy moeilikheid van die godsdienspolisie (Mutawas). Daar’s aparte gedeeltes in banke en restaurante vir vroue, en ons mag nie motor bestuur nie. Motorpryse is wel baie billik.

Het die slegte ekonomie die lewe daar beïnvloed?
Saoedi-Arabië is grootliks selfonderhoudend en maak nie staat op sterk finansiële steun van die buiteland nie. Baie private maatskappye herstruktureer. So het baie mense hier hul werk verloor.

Hoe ontspan jy?
In die kompleks waar ons bly, is ‘n swembad, DVDLinks, ‘n biblioteek, internet, tennis- en muurbalbane, ‘n gimnasium en ‘n supermark. Baie aktiwiteite word in die woestyn aangebied. Ons is net 30 minute van
Bahrein af – daar’s alle vermaak soos in Westerse lande.

Is daar spesifieke uitdagings?
Kommunikasie weens die multikulturele opset.  Vroue is aangewese op openbare vervoer en winkels maak toe in gebedstye. Hier is nie aanpaskamers in winkels nie. Maar ek voel nooit bedreig nie en kan vrou-alleen souk of mall toe gaan, want misdaad is nie algemeen nie.

Die mense se leefwyse?
Die hitte bring mee dat almal lewe vir die nag wanneer dit koeler is. Die locals eet aandete eers van elfuur saans af. Inkopies word tot laataand gedoen. Gesinne is groot – ‘n vrou van 30 het maklik 5 kinders. Hul leefwyse is ongesond – passiwiteit, vetsug en diabetes is groot probleme. Vroue se risiko op osteoporose is groot omdat hulle nie sonlig kry nie. Maar hier is ‘n rustigheid en verdraagsaamheid. Mense het ‘n positiewe uitkyk op die lewe en stres nie maklik nie.

Is jy nog betrokke by SA?
Ek gaan elke jaar in Maart huis toe omdat die verlange my dryf. Wanneer die ongelooflik warm winde my brand, die sandstorms my wil wegwaai, die son my skroei, die humiditeit my grimering laat smelt en my hare laat krul, troos ek myself die dag sal aanbreek wanneer ek huis toe sal gaan, vir altyd.

Wat mis jy?
Demokrasie, my kerk, my kinders, familie en vriende, reën en donderweer, die seisoene, die bome en plantegroei en om mý moedertaal in die winkels te hoor.