Alleen deur die woestyn
Foto’s: Gallo Images/gettyimages.com, Anette Grobler, Kelly Walsh, Terry de Vries N Galery
Vyf jaar gelede het Anette Grobler in die woestyn verdwaal en by die dood omgedraai. Waarom het sy dan teruggegaan?
In die ongenaakbare woestyn aan die Skedelkus van Angola, as jy van ver sou kyk, is ’n enkele stippeltjie in die uitgestrekte, windverwaaide sand. Kom jy nader, sal jy merk die stippeltjie beweeg. Dis ’n mens. En niemand sal jou kwalik neem as jy jou oë nie kan glo nie.
Dis ’n vrou, alleen. Sy trek ’n soort sleepwaentjie agter haar aan. “My hele hemp is vol salpeter en ek het in ses dae nog nie gebad nie. Die dag het moeilik begin: Gastro van die seewater, voel pap en sielkundig afgerem, bang vir die wilde honde. Bel Annelie in die middel van die dag en huil. Voel soos die wilde honde wat vir mens op die Camino (die pelgrimsroete in Spanje) wag - kan nie glo ek moet nog hiermee ook deal nie!” lui die dagboekinskrywing van Anette Grobler op Sondag 9 Oktober 2005. Sy is die eerste mens wat alleen én sonder ondersteuning meer as 300 km deur die onherbergsame woestynkus van die Kuneneriviermond tot by die Angolese hawedorp Namibe gestap het. “Die eerste twee dae was verskriklik. Ek sal dit nooit vergeet nie,” sê sy.
Die wind het stormsterk gewaai. So sterk dat Anette nie seewater kon ontsout vir drinkwater nie, want teen die tyd dat sy by haar tent kom, is die houer water so vol sand dat sy dit moet weggooi. Tentopslaan was ’n nagmerrie. Maar die 41-jarige Kapenaar en oud-majoor, tans studente-ontwikkelingspraktisyn aan die Kaapse Skiereiland se Universiteit vir Tegnologie, laat haar nie onderkry nie. Sy het haar bagasie in die tent gesit voor sy dit opslaan sodat dit nie wegwaai nie. Sy moes eers die wiele van haar spesiaal ontwerpte liggewig-sleepkarretjie waarop sy haar kos en toerusting van 30 kg getrek het, goed vaswoel in die sand, anders waai dié ook weg. Snags het sy nie veel geslaap nie. Die storm-rukwinde het haar tent so geruk dat sy elke uur uitgeloer het om te kyk of die tentpenne nog hou. “Dan is daar ’n voor reg rondom die tent en ek lê op ’n eiland soos die wind die sand weggewaai het.” Sy moes op haar knieë teen die wind beur en weer sand onder haar tent inkrap.
Die storm-rukwinde het haar tent so geruk dat sy elke uur uitgeloer het om te kyk of die tentpenne nog hou
Dolfyn van hoop
Anette, wat mal is oor avonture en al Kilimandjaro uitgeklim het, kon ook nie vuur maak in die woeste winde nie en moes vele dae tevrede wees met net biltong, droëwors, energiestafies, rosyntjies en neute. “Ek was die eerste paar dae onseker van myself. Moet ek nou water drink of nie? Moet ek nou stop of nog ’n kilometer loop? Ek het elke aand oor die satellietfoon in iemand se ore gehuil!” Toe die wind die derde dag steeds so sterk waai - en dié keer van voor - het sy gevoel sy gaan knak. “As dit net ongerief was, was dit nog goed, maar ek het toe gevoel ek gaan nie oorleef nie.”En skielik, uit die hoek van haar oog, het sy iets in die baai sien beweeg: ’n Massiewe dolfyn, skaars twee meter van haar af. “Ek het in trane uitgebars. Dit was ’n boodskap vir my.” ’n Boodskap van hoop, oorlewing. Vir drie uur lank het die dolfyn sporadies langs haar geswem en sy het sonder twyfel geweet sy sál oorleef.
Vyf jaar gelede . . .
Die woestyn het ’n manier om ’n mens te intimideer op ’n amper traumatiese manier, vertel Anette. “Met hoogwater was ek onbereikbaar en niemand het toegang tot my gehad as ’n skerpioen my sou steek of ’n slang my sou pik nie. Ek het gevoel soos ’n korreltjie sand.” En besef hoe klein en weerloos en afgesonder sy in werklikheid is. “Vyf jaar gelede het ek iets van myself verloor in die woestyn. Ek het teruggekom om dit te kom haal. Ek het die heeltyd vir die natuur gesê ek is nie hier om hom uit te daag nie - eerder om hom al die eer te gee. Laas het hy gewen en ek weet hy kan weer wen. Maar ek wou die stukkies van myself wat agtergebly het, kom optel en iets vir die ongelooflike geleentheid teruggee.” Anette het in daardie voorval amper haar lewe verloor. Sy het aan haar eerste solo-avontuurresies in Namibië deelgeneem. Sy het verdwaal in ’n sytak van ’n groot, droë rivierloop en so ontwater en gedisoriënteer geraak dat sy beheer oor die meeste van haar liggaamsfunksies verloor het.
Aanhouer wen
Dié keer het Anette dit gedoen vir ’n groter doel: Om geld in te samel vir landmynslagoffers van Angola as deel van die Walk 4 Wheels-projek. “Dapper?” vra sy. “Nee. ’n Vrou wat haar gesin soggens groet, vir die soveelste keer vir chemoterapie gaan en al die stukke bymekaar hou - dís dapper.” Fisiek was Anette goed voorberei. Sy het ses maande lank vele naweke in wind en weer op verskeie strande gestap en vier weke voor haar vertrek met haar sleepkarretjie op die duine van Atlantis begin oefen. Altyd van suid na noord sodat haar linkerbeen en -voet gewoond kon raak aan die harde werk weens die helling van die sand. Sy het vir meer as 1 000 km geoefen.
Sielkundig kon sy haarself nie indink in die absolute alleenheid wat haar sou tref nie. “Mens kan jouself nie psigies voorberei nie. Ek het die hoogste hoog en die laagste laag binne ’n kwessie van minute beleef.” Sy het nietemin baie na aan die natuur gevoel. “Ek het kaal geloop, smiddae wanneer ek my tent opslaan, kaal met net die maan en die getye wat my dag bepaal.” Soms het sy net gesit en staar na die see en die ritme van die getye probeer bepaal - is dit elke vyfde, sewende of elfde brander wat groot is?
Daar was altyd die wete dat iemand nie noodwendig by my kan uitkom in nood nie
“Ek was te eensaam om gelukkig te wees. Die eensaamheid, die grootheid van die uitdaging en die verwagtinge van mense en die media het dit moeilik gemaak. Ek dink ek sou dit geniet het as ek dit saam met iemand gedoen het. Daar was altyd die wete dat iemand nie noodwendig by my kan uitkom in nood nie.” Wilde diere wel. Saans het honderde spookkrappe teen haar tent opgeklouter en ggggg aan die ander kant afgegly. Hiënaspore het soggens rondom haar tent gelê. ’n Jakkals het kom loer. Die wilde honde het gelukkig gelê en slaap in die hitte van die dag, maar nie sonder dat Anette ’n paar hartslae verloor het nie. “Die wind het van voor gewaai. Die oomblik toe ek verby hulle stap, het ek begin hardloop. Voor ek verby is, het ek my sproeikannetjie gereed gehad, maar besef die wind sal dit in my eie oë terugwaai. Toe haal ek biltong en droëwors uit en sit dit in my sakke, reg om te gooi!”
Daar’s mense!
Eers ná tien dae het sy vir die eerste keer mense en tekens van die beskawing gesien. Halfses die oggend het ’n voertuig nader gekom. Dit was vier vissermanne. Bon dia, het hulle geroep en Portugees met haar begin praat. Non comprendo, het sy grootoog gesê en vir hulle haar Portugese brief gewys wat sê sy stap om geld in te samel. Dit het hulle ’n halfuur geneem om te besef dié wit vrou stap alleen die hele pad van die Kunene af - en sy rý nie die karretjie nie, sy trek hom. En die 30 kg bo-op het ingesluit: ’n Tent (4 kg), ontsouter/watermaker (4 kg), satellietfoon en sonpaneel (2 kg), 4 liter noodwater (4 kg), mediese tassie, kos vir 16 dae (biltong, energiestafies, neute, 2 energiedrankies, gedroogde vrugte, gedroogde rantsoene), kopliggie, kamerabatterye en MP3-speler, skroefsleutels en ekstra skroewe vir die sleepkarretjie, fietspomp, jagmes, titanium-ketel, selfopblaasbare matras, slaapsak, kamera, videokamera, warm klere, tandeborsel, sonbrandroom, spieël, skalpel om blase af te sny, spieëltjie en fluitjie vir as sy in nood is, noodfakkel, sproeikannetjie, petrol en diesel (5 liter elk) om met sand te meng sodat sy kan kosmaak, opvoubare houer om seewater te skep, seeskoene vir die rotse in die see, dagboek en kaart. Sy het ’n wye draai om Tombua, die eerste kusdorp ná 180 km, geloop omdat sy nie Portugees magtig is nie.
Vir Ingrid Jonker was haar gereedmaak vir die niks haar dood. Vir my was dit as ’t ware die regmaak vir ’n nuwe lewe, gestroop van ego en grootheid, status en aansien
Op ’n kol het sy vroue met bakke vis op hul koppe van agter ingeloop. Hulle het rustig gestap en suikerriet gekou. “Ek moes soos ’n weerwolf gelyk het. Een van die vroue het omgekyk en ’n helse gil gegee. Almal het hul bakke neergegooi en gillend die veld ingehardloop. Die volgende groep vroue het presies dieselfde gereageer!” Saans het Anette drie vertroostings gehad. Een oproep met haar satellietfoon, een sigaret, hoewel sy nie eens ’n roker is nie (“dit was so ’n after action satisfaction-gevoel”).
En die luister van vyf of agt liedjies op haar MP3. Sy het 99 liedjies gehad om uit te kies: Ingrid Jonker se getoonsette gedigte deur Chris Chameleon, Sinéad O’Connor, Lize Beekman en Claire Johnston. Dit was juis “Korreltjie sand” van Ingrid Jonker wat haar aangespoor het: "Korreltjie klein is my woord, korreltjie niks is my dood". "Vir Ingrid Jonker was haar gereedmaak vir die niks haar dood. Vir my was dit as ’t ware die regmaak vir ’n nuwe lewe, gestroop van ego en grootheid, status en aansien. Selfs die kleinste sandkorreltjie is ‘geskape’ en die blote bestaan daarvan impliseer dat daar ’n doel is . . . vir ons almal.”

Bid en wees dankbaar
Sy het twee dinge geleer: Om te leer bid en om dankbaar te wees. Dankbaar vir ’n stukkie harde sand, die wind wat gaan lê vir ’n rukkie (maar dan pak 50 vlieë op haar mond dat sy weer bid vir wind!), bevestiging dat sy nie verdwaal is nie, ’n oproep wat sê die ondersteuningsgroep van 14 vroue wat opgery het om haar by haar eindbestemming te ontmoet is oor die grenspos . . . Die vreeslike lang wag elke dag - vir die gety om laag te raak sodat sy vier uur kan stap, die dag om verby te gaan sodat dit môre kan raak, die batterye om te laai sodat sy ’n telefoonoproep kan maak - het haar laat besef sy lewe te gejaag, sy moet rustiger raak. Waarna sy die meeste uitgesien het, was om die ondersteuningsgroep by Namibe te kry.
“Toe ek omkyk en sien hier kom die 4x4’s aangery, het my hart letterlik ’n klop gemis en ek het na my asem gesnak. Dit was my absolute hoogtepunt!” Anette het die sowat 320 km in 14 dae afgelê, 4 dae vinniger as wat sy verwag het. Sy skryf dit toe aan die wind die eerste paar dae wat haar aangehelp het en die getye wat in haar guns was.
Het die staptog haar lewe verander? “Ek is rustiger in my hart. Ek raak nie meer opgewerk oor klein goedjies nie. Ek weet nou wat is die belangrikste in die lewe - nie die soort kar wat in my garage staan en waar ek woon nie, maar die gehalte lewe wat ek lei gemeet aan wat ek vir ander mense kan beteken.”
Vir Walk 4 Wheels
Die Walk 4 Wheels-projek kry wêreldwyd momentum.
Paul McCartney se vrou, Heather Mills, wat die organisasie Adopt a Mine Field begin het, het van Anette se staptog te hore gekom en ’n voorlegging gevra. Die gevolg? Anette se kop staan nou Mosambiek toe, maar dié keer nie alleen nie.
“Om jou passie te kan uitleef vir ’n goeie doel is wonderlik. Maar die staptog in Angola was die moeilikste ervaring wat ek tot nog toe gehad het. Ek sal nie weer so iets alleen aanpak nie.”
Die plan om ’n solostaptog aan te pak as ’n bewusmakings- en geldinsamelingspoging het in 2004 ontstaan nadat Anette en ’n groep vroue in Angola gereis en besef het hoe ongelooflik swaar duisende landmynslagoffers kry. Een uit elke 334 Angolese het ’n ledemaat in landmynontploffings verloor, weekliks is daar tot 200 nuwe slagoffers, baie daarvan kinders, en daar is steeds meer as 7 miljoen landmyne en niemand weet waar dit geplant is nie.
Anette en ’n paar vriendinne het eiehandig Walk 4 Wheels begin om geld en borge te kry sodat onder meer rolstoele gekoop kan word. Verskeie Rotariërklubs het onderneem om elk $1 000 te skenk. Saam met die bydrae van Rotariërs Internasionaal is sowat R75 000 geïn.


















Kry jou SARIE oral, enige tyd