FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Andel de Beer se luilekker lewe in Mauritius

Eilandlewe pas Andel de Beer soos ’n handskoen en sy gebruik haar tyd in Mauritius om inspirasie vir haar kunsloopbaan bymekaar te maak.

Sy vertel meer oor haar onverwagse verblyf daar:

andel en manEk en my verloofde, Pieter, woon vir die volgende 3 jaar in Mauritius. Hy is ’n ontwikkelingsbestuurder vir ’n groot Suid-Afrikaanse maatskappy wat saam met ’n plaaslike maatskappy winkelsentrums en kantore bou. Ek is ’n illustreerder en kunstenaar wat saam met die liefde van my lewe hierheen getrek het.

Ons is sedert Februarie hier en woon aan die weste kant van die klein eiland in ’n dorp met die naam Tamarin. Ons bly teen die hange van Mount Carlos, met pragtige panoramiese uitsigte van die turkoois see, en dis sowat 1 km weg van die mooiste tropiese strande. Die hele eiland is sowat 60 km x 45 km groot.

Ek het ’n klein studio by die huis ingerig en werk van hier af. Ek verken te voet my hoekie van die eiland, opsoek na inspirasie vir tekeninge en skilderye. Elke oggend gaan stap ek op die strand voor ons huis. Dan tel ek skulpe en dooie korale op. Ek hoop om my versameling hartvormige korale eendag weer huistoe te kan bring. Ek sit onder die denne- en palmbome by die strand en teken. Ek spandeer ook tyd in die plaaslike winkeltjies en markte om myself behoorlik in die kultuur in te grawe.

My gunstelingdinge van my lewe hier sover:

Rustige leefstyl: Na my vorige hoëdruk werk in Sandton, pas die rustige eilandleefstyl soos ’n handskoen. Niemand is haastig nie en almal kom goed oor die weg. Dis asof die mense hier in ’n ander tydsone leef. Ek maak ’n punt daarvan om twee keer daagliks by die strand uit te kom, een keer in die oggend, en ek en Pieter gaan meeste middae om na die sonsondergang te gaan kyk. Dis ’n droom wat waar word.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Kos: As ’n voormalige Durbaniet geniet ek ’n goeie bunnnychow en kerrie meer as die redelike leek, maar niks kon my vir hierdie kerries voorberei nie! Jy proe die hele eiland in elke mondvol. Seekos, vrugte, kokosneut, blatjang – als in een vir ’n ware smaakervaring. Ek is gek oor ’n dholl puri (’n soort gevulde pannekoek), en natuurlik die brandrissie pynappels wat hulle by die strande verkoop. Dis ’n geskilde pynappel op ’n stokkie, met sout, rissiepoeier, rissie stukkies en tamarynsous (’n soet-suur sousie wat van ’n inheemse saad gemaak word). Dis die beste alternatief vir die westerse roomyse op die strand.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Branderplank ry: As tiener het ek op Durban se strande leer surf en saam met vriende en familie heerlike memories daar gemaak. Nadat ek die koue waters van die Kaap gevoel het (waar ek studeer het), het ek byna in 10 jaar nog nie weer op ’n branderplank geklim nie. Vandat ons hier woon, het ons albei weer begin branderplankry. Daar’s werklik niks lekkerder as om langs mekaar, die sonsondergang vanuit die water te kyk nie. Dis towermooi as die water oranje/pienk rondom jou word soos wat die aand nader kom.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Markte: So opwindend – die mense groei en verkoop hulle eie produkte by die markte. Daar’s so ’n lewendige atmosfeer op die markte. Die reuke, geure en teksture by so ’n mark is rêrig mal. Vrugte en groente wat ek nog nooit gesien of van gehoor het nie, poeiers en brandrissies vir spotgoedkoop. Sommige stalletjies deel sommer gratis kerrieresepte uit wat ek dan later by die huis gaan probeer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Mauritius staan bekend as ’n oord-eiland en dis waar, meeste toeriste wat hier kom vakansie hou, sien nooit die buitekant van die oord nie. Vir my is dit nogal hartseer. Daar is soveel verrykende ervarings om te hê, pragtige dinge om te sien, en die lekkerste plaaslike restaurante en prentjiemooi verskuilde strande om te geniet. Dis regtig die moeite werk om ’n bietjie te gaan verken.

Ons mis natuurlik almal by die huis, maar sien hierdie as ’n eenkeer-in-’n-leeftyd-geleentheid en kon dit nie laat verbygaan nie. Ek maak seker ek tap elke druppel uit elke dag uit, en maak seker my ervaring hier is sigbaar in my illustrasies en skilderwerk. Ek dokumenteer ook my ervarings op my Instagram en begin nou ook ’n blog oor alles wat ek hier beleef.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf