aug06reisartikel1a
Reise

Asem skep in Namibië

Die trein kom rukkerig aan die beweeg ná sy sluimerslaap om passasiers ’n onverstoorde nagrus op die Kranzberg-stasie te gun en skommel dan gerusstellend voort. Binne oomblikke slaap jy weer. ’n Paar uur later skuif jy die gordyntjie sommer vanuit die treinbed met jou toon oop en sien dít waarvoor ons Namibië toe gekom het: Die groot, oorvloedige oopheid. Uitgestrekte, kwartskleurige vlaktes met spatsels rooi, oker en donkergroen tussenin. Net gister nog was dit vlesige doringbome, knoetserige koppies, rysige miershope en bossies – steeds blakend groen ná die oordadige reënseisoen vroeër vanjaar. (Almal praat nou nog oor die geil reën – die beste in meer as 30 jaar.)

Soos die luukse Desert Express-passasierstrein van Windhoek see se kant toe beur, sien jy uit ’n gerieflike leerbank hoe die landskap verander. Reusagtige kameeldoringbome staan in rivierlope, helder wasgoed wapper langs plaashuise en maak later plek vir volstruise en swartwildebeeste langs die spoorlyn. Stasiename soos Brakwater, Waldau en Vogelsang flits verby. Laatmiddag stop die trein by Okazize vir ’n wildrit by Oropoko. Behendig spoor die gids drie van die witrenosters op die wildplaas op. Hulle blaas en trippel naby die voertuie, min gepla  deur die flitsende kameras en ingehoue asems.

Die treinrit
Terug in die trein swaai-slinger ons voor ete nostalgies deur die slaapwaens waar kompartemente name het soos Meerkat, Springbok en Kokerboom na Spitzkoppe, die kroeg, vir ’n SA rooiwyn (Hazendal). Met ete in die restaurantwa, die Welwitschia, is die keuse oorweldigend – beesvleis-carpaccio, pampoensop met rissie-steurgarnale, gerookte salm, beesvleis-filet met sampioene, gebraaide koningklip, malvapoeding, sjokolade-fudgekoek . . . Angela Doëses, aanboord-bestuurder van die Desert Express, werk al byna 7 jaar op die trein. Dis vir haar ’n hartsaak. “Die mense maak die trein besonders. Dis ’n spesiale produk vir Afrika.”

Die luukse Desert Express-passasierstrein.

En versit jy ’n voet buite die trein, sien jy die woestyn léwe. Halfpad op teen ’n duin speel klein toktokkies kat en muis, verkleurmannetjies groet. Dis ’n loom Saterdagmiddag as ons Swakopmund tref. Ons stap deur ’n stil, palmbesaaide strandfront met kurio’s – meestal uit Midde-Afrika – en soek sterk koffie om die omgewing te verken. Al die paaie hier lei blykbaar na Café Anton (“. . . by die vuurtoring,” dui almal rigting aan). Soos in Windhoek hoor jy hier steeds nét Afrikaans en Duits. Die glastoonbanke blink met Bienenstich, Swartwoudkoek, verruklike Nuss Dreieck (driehoek met haselneute) en kaaskoek. Maar dis nie net Duitse gebak wat jou laat swig nie. Oesters, hemelse oesters. In die befaamde strandfrontrestaurant The Tug waak die bestuurder besitlik oor sy spyskaart. Mossels in ’n romerige rissie-en-witwyn-sous, sappige Weskus-tongvis met vars Swakopmund-aspersies, steurgarnale uit Mosambiek met ’n knoffelgeurtjie. En natuurlik die oesters. Vars. En wie wil eiers vir ontbyt hê as jy vars oesters, mossels en salm by die Swakopmund-hotel kan kry? Toerisme is die snelgroeiendste bedryf in Namibië en bewaring is hoog op die voorkeurlys vir die regering. En watter beter manier as om die twee te kombineer? ’n Luukse oord wat spa-en koesterbehandelings bied – reg in die middel van ’n reservaat.

SARIE & Brad Pitt

“Pak maar verpleegster-uniforms in en doen julle voor as vroedvroue,” is gespot voor ons vertrek na Namibië, die land wat in daardie stadium skuiling gebied het aan die gesogte Brad Pitt en die toe nog swanger Angelina Jolie. Om hulle op kamera vas te lê was egter nie op ons
doenlysie nie. Maar ons moes seker geweet het – selfs dié wat nie soek nie, vind soms.
In Swakopmund – al wandelende in die arkade met tientalle kuriowinkels – hoor ons Angelina was “’n uur gelede hier deur en het in ’n Italiaanse restaurant geëet”.
Ons kom toevallig op die eetplek af, neem ’n foto en dink ’n uur is net sowel ’n week, ’n maand, ’n jaar . . .
Die volgende oggend stop ons op die Walvisbaai-lughawe – rég agter die voertuig wat Brad kom haal. Hy het pas geland van Windhoek. Lounette, SARIE se dekorredakteur, gewaar die rankerige figuur eerste – toe sien ek een van die twee stoepsitters vroetel met ’n selfoon en mik in die rigting van die man met ’n sonbril so groot soos Duin 7. Ek gaan aan die bewe, dink vlugtig aan die stories van al die paparazzi wie se kameras afgeneem en in die tronk gestop is, en besluit om tog maar die kamera uit te pluk. Dis immers ’n kans op ’n skinkbord dié. Al bewend zoem ek in op die donker figuur in die groot voertuig. Elke keer as ek daarheen mik of effens nader staan, versper een van die intimiderende lyfwagte die deur.
Die foto wat ek geneem gekry het, sal beslis nie die Pulitzerprys wen nie, maar ons het vermag wat min ander publikasies kon. Al was dit nie van die paartjie saam nie, was dit van die man wat die personeel oomblikke gelede nog in die aankomssaal vriendelik gegroet het en geduldig geposeer het saam met kelnerinne (“die foto’s mag net nie in die koerante verskyn nie”) – glad nie primadonna-rig soos sy reputasie wil voorgee nie.

 

GocheGanas
By GocheGanas, weggesteek teen ’n heuwel sowat 30 km suidoos van Windhoek, verlangsaam die tyd. Die naam is ontleen aan ’n Damara-woord wat “plek van kameeldoringbome wat wemel van kerspeul-akasias” beteken. Die grond glinster van die fyn kwarts en ons kies koers na die gesondheidsoord. Ons koppe sing van al die keuses. (Die graniet-sauna en aanloklike verhitte swembad met ’n uitsig oor die boggelrug-rantjies los ons vir later.) ’n Rug- en nekmassering wat maande se spanning laat verdwyn en ’n kristalbad met aromaterapie-olies, wat met mikromassering en magnetiese velde werk, roep eindelik die hardste.

Die begeesterde Helder Culenda, ons Angolees-Namibiese veldgids by GocheGanas, ken elke grassie, elke voëlsoort se eksentrieke gewoontes, elke dier se nukke. “Ek hou nooit op leer nie. Ek is versot op my werk, dit is interessant, dinamies.” Twee tienerrenosters skuifel aan die ander kant van die pad, aan dié kant trippel ’n klomp gemsbokke weg, en selfs ’n paar skaam elande staan ’n oomblik lank stil. En ’n nuuskierige kameelperd agtervolg ons voertuig ’n ruk lank. Tarentale nael vooruit en die son spoel oor die donsige gras. Ná skemerkelkies in die middel van die reservaat met swartwildebeeste as veraf toeskouers, kom perfek bereide gemsbokfilet met spek, aartappels en vars groente aan die beurt. Vir oulaas kom groet ’n koedoekoei die oggend langs die stoepie van die oornaghuisie.

Die rit terug is byna ’n vakansie op sy eie. In ’n vliegtuigie waarin elkeen ’n venstersitplek het, vlieg ons van Walvisbaai kuslangs terug. Die ontsagwekkend groot duinlandskap het soveel lewe . . . ook die geplooide maanlandskap van Sossusvlei. Soos fyn aartjies lê die berge sand, met waterpoele plek-plek ná die reën. Groot en grootse Namibië ontvang jou met uitgestrekte arms, maar laat jou nie sommer los nie.

10 dinge om te weet

  1. Net ’n paspoort is nodig – geen visum vir Suid-Afrikaners nie.
  2. Stel jou horlosie van 1 April tot 31 Augustus ’n uur terug.
  3. Die Namibiese dollar is aan die SA rand gekoppel. Jy kan byna oral met SA geld (note) betaal, maar kry kleingeld in die Namibiese geldeenheid.
  4. Bekende kredietkaarte soos Mastercard, Visa en Diners word aanvaar.
  5. Met ’n bevolking van sowat 1,8 miljoen in 824 290 km², is die digtheid van 2,2 mense per km² een van die laagste ter wêreld.
  6. Die land is verdeel in 13 streke, 13 etniese kulture en 16 tale en dialekte. Engels is die amptelike voertaal, maar Afrikaans en Duits kraai koning.
  7. Pak vir warm en koud, ongeag wanneer jy gaan. Kies die somer (Oktober tot April, ook die reënseisoen) as jy ’n stiller toerismeseisoen, groen landskap en migrerende voëls verkies. Wild is egter minder sigbaar. Die winter (Mei tot September) is ’n woeliger toerismetyd en die groot aantrekking is dan wild kyk.
  8. Baie kuriowinkels is soortgelyk aan dié in SA, net met baie meer halfedelstene en juweliersware. Iets ongewoons is robleer-pantoffels by L’Dorado op Swakopmund. (Terloops, Angelina Jolie het al by dié winkel kinderklere gekoop.)
  9. Gemütlich = gemoedelik = Namibië. Dwarsdeur die land kom jy dieselfde hulpvaardigheid
    teë. Jy wonder nog hardop oor iemand se aksent, ’n vreemde plant, die maak van sauerkraut, en iemand antwoord, uitvoerig en akkuraat.
  10. Drink in Wecke & Voigts in Windhoek cappuccino en eet hul behoorlike kaaskoek saam met die gereelde besoekers (soms sukkel dit om ’n tafeltjie te kry).