Richard en Almyna Rademan

Richard en Almyna Rademan

Reise

Baie dinge het Almyna Rademan in Nederland verras

Die aanpassing in hul nuwe tuiste in Nederland was nie maklik nie en baie dinge het Almyna Rademan daar verras.

Sy en haar man, Richard woon in Bussum, in die Noord-Holland-provinsie. Die dorpie is sentraal geleë vir Richard wat in die buurdorp Hilversum werk. Lees ook in die Mei 2015 uitgawe van SARIE meer oor Almyna-hulle se ervarings daar.

Hoe moeilik was dit om Suid-Afrika te verlaat om ’n nuwe lewe daar te begin?
Ons is Suid-Afrikaners in hart en siel. Solank ons as gesin bymekaar is, kan ons enige iets aanpak. Toe Richard aansoek gedoen het vir werk hier, het ons lank al die voor- en nadele van verhuis na Europa oorweeg. Ons was baie gelukkig in SA. Die trek hierheen was een groot avontuur en uitdaging. Dit het onwerklik gevoel terwyl ons in die proses was om ons eiendom te verkoop. Die werklikheid het ingeskop op OR Tambo-lughawe, toe ons daar staan met net tasse, ons honde in kratte en die wete dat alles wat ons besit in ’n vraghouer is iewers op pad Nederland toe. Dit was ’n baie moeilike oomblik vir my.

Was dit maklik om aan te pas daar en het jy vinnig nuwe vriende gemaak?
Nee, maklik was dit nie! Met ons aankoms Februarie 2009 op Schiphol het dit saggies gesneeu. Dit was so mooi en terselfdertyd so angswekkend. Ons het ’n minibus gehuur, moes die honde by doeane gaan afhaal en ons pad vind na die huurwoning. Die eerste agt maande het ons in ’n piepklein vakansiehuis gewoon in die woud naby Lage Vuursche, so nege km vanaf Hilversum. Suid-Afrikaners dink ons kan Nederlands verstaan en praat, maar glo my, ons sit die pot ver mis! As hulle stadig praat, verstaan mens so 80%, maar as ons Afrikaans praat, verstaan hulle glad nie. Daar’s baie Afrikaanse woorde wat heeltemal ’n ander betekenis het in Nederlands. Die taal was ’n struikelblok. Meeste Nederlanders praat wel Engels en sal oorslaan daarna as hulle besef jy is ’n buitelander.

Groesstraat, Hilversum

Groesstraat, Hilversum

Dit het tyd geneem om aan die daaglikse verskille gewoond te raak. Die winkels maak net een keer per maand op ’n Sondag oop. Verder is alles toe op Sondae. Hier en daar is ’n supermark wat wel teen 16:00 Sondagmiddag oop maak vir vier ure. Ander winkels maak eers weer Maandagmiddag teen 13:00 oop. Apteke maak glad nie oop op naweke nie. Die eerste ruk was vreeslik stresvol.

Richard moes die dag na ons aankoms begin werk en ek moes ons dogter, Meg by die Internasionale skool inskryf. Natuurlik moes ons so gou moontlik fietse koop, want ALMAL ry fiets hier. Meg moes soggens drie km fiets ry na die naaste treinstasie om die trein na Amsterdam te haal. Dis nog stikdonker, want die strate word nie baie goed verlig nie. Ek het die eerste drie dae saam met haar die trein geneem Amsterdam toe en terug. Van die derde dag af het sy self haar ding gedoen. Sy’t ’n paar keer by verkeerde stasie afgeklim en moes dan weer die volgende trein kry om by haar stasie uit te kom. Haar aanpassing by die Internasionale skool was ontsettend moeilik. Sy het in die middel van die Nederlandse skooljaar hier aangekom en sy moes twee nuwe vakke neem. Die gebrek aan dissipline op skool was vir haar vreeslik. Menige dae het sy tuis gekom en dan hoor ek “Mamma you will not believe how these kids speak to the teachers!” En ja, sy’t baie gesê dat sy haar Hyde Park skooluniform mis.

Ek was die eerste week vrek bang om agter die huurmotor se stuurwiel in te klim. Mens sit nie net aan die verkeerde kant van die motor nie, jy ry aan die verkeerde kant van die pad ook! Na die eerste week het ek die bul by die horings gepak en ’n ent gaan ry. Jy voel so paar keer na die ratte aan die verkeerde kant en draai ’n paar keer in voor aankomende verkeer, maar dan kom alles reg. Die grootste aanpassing was om gewoond te raak aan fietsryers, want hulle kry voorrang en mag ry, sonder om eers te kyk.

Hier’s geen hipermarkte nie, net klein supermarkte. Jou keuses is nogal beperk. Die grootste “probleem” was die vleis, of eerder gebrek aan goeie vleis. Die mense eet baie hoender en vark en baie min lam en beesvleis en die snitte is ook byna onherkenbaar. Jy sien byna nooit ’n lamstjoppie nie. As jy wel een sien, is dit so dun, maer ou tjoppie (hulle sny die vetrandjie af) en betaal jy maar net ongeveer 26 Euro per kg daarvoor! Tot die varktjoppie word van sy kosbare vel beroof! ’n T-been kry jy net gevries by die groothandelwinkels wat aan restaurante verkoop. Ons het gelukkig gou agtergekom ons kan lamsvleis by die Turkse of Marokkaanse slagter koop. As jy lekker boerewors wil hê, moet jy maar self maak. Ons gaan na die groot Oosterse Basaar so 45 km van ons af, koop lamstjoppies en maalvleis en maak ons eie boerewors, blatjang, biltong en droë wors.

Jy kan kaas, vleis, drop, groente en nog vele meer  koop by Hilversum se mark!

Jy kan kaas, vleis, drop, groente en nog vele meer koop by Hilversum se mark!

Ons moes ook aan die verskillende seisoene gewoond raak. Winter is vreeslik lank en dit word eers ongeveer agtuur lig en weer halfvyf donker. Somers is fantasties! Dis lekker vroeg lig en saans word dit eers ongeveer 22:30 donker.

Nuwe vriende maak neem baie lank, tensy jy by die expat-gemeenskap aansluit. Omdat ons met ’n permanente kontrak hier is, wou ons ten volle in die Nederlandse samelewing integreer. Nederlanders is vriendelik en beleef, maar geslote. Hulle nooi jou nie maklik oor vir koffie of ete nie. Gevolglik het ons lank Nederlandse kennisse gehad, maar geen vriende nie. Dit was baie moeilik, want ons het ongelooflike goeie vriende met wie ons al ’n baie lang pad kom (30 jaar), agtergelaat. So drie en ’n half jaar gelede het ons ’n Afrikaanse vrou in ’n winkel raakgeloop. Jou ore is permanent gespits vir enige iets wat net amper na Afrikaans of SA Engels klink! Ons het vir koffie ontmoet en toe het sy my aan ’n ander SA vrou voorgestel en so het ek my vriendin ontmoet.

So lyk een van die winkelstrate in ons tuisdorp, Bussum.

So lyk een van die winkelstrate in ons tuisdorp, Bussum.

Het jy nog bande met SA en sal julle terugkom?
Ons sal altyd bande hê met SA. Ons is, en bly mal oor ons land! My hele familie woon daar en sommige van Richard se familie ook. Natuurlik studeer my kind nou in Bloemfontein. Ons probeer ten minste een keer per jaar daarheen gaan. Dis ’n ding om by almal uit te kom, want ons het vriende en familie regoor die hele land. Sal ons teruggaan SA toe? Dis so moeilike vraag. Ek reken mens wil maar naby jou kind wees eendag as jy aftree. Nou weet ons nog nie waar dit gaan wees nie. Bly sy in SA en maak haar lewe daar, sal ons dit sterk oorweeg om terug te gaan. Vir nou geniet ons alles wat hierdie landjie en Europa ons bied.

Die tradisonele manier waarop jy haring eet.

Die tradisonele manier waarop jy haring eet.

 

  • Santie Quanjer

    Ek woon al 5 jaar in Den Haag, Nederland. Ek is getroud met ‘n Nederlander. Hier gaan dinge darem bietjie makliker omdat daar altyd iewers ‘n winkel oop is. Op Sondae sien jy baie mense wat van ver af reis om in Den Haag te kom inkopies doen.

    Vir my was die taal ook die moeilikste aan die begin. Afrikaans en Nederlands is verwant aan mekaar maar dis waar dit ophou. Omdat Den Haag bekend staan as Internasionale stad, hoor jy hier baie Engels en allerhande ander tale.

    Vriende maak is inderdaad bitter moeilik. Die Nederlanders is beleef maar niks meer nie. Tot lede van my skoonfamilie behandel my nog as totale vreemdeling. Om te voorkom dat ek vereensaam het ek in ‘n boekwinkel begin werk net om ten minste kontak met die buitewêreld te behou. Ek werk by BRUNA op Den Haag Cetraal Station, so ek ontmoet mense van oral oor.

    Die lewe hier is wel baie lekker. Jy kan veilig oral reis, ek werk tot laat in die aand soms en loop heeltemaal veilig terug huistoe. Ons het ‘n Thomas Green waar jy Suid-Afrikaanse produkte kan koop en met die tyd saam leer jy waar om boerewors te koop.

    Miskien keer ons eendag terug na Suid-Afrika, maar vir eers geniet ons dit hier.

    Groete uit ‘n sonnige Den Haag.