Reise

Beijing – stad van 1000 gesigte

Beijing is reusagtig. Enorm. Uitgestrek. Dis ’n stad met 13 miljoen mense, 6 miljoen motors en 9 miljoen fietse elke dag op sy paaie – wat soms tot oor tien bane strek! Dís die 21ste-eeuse stad wat internasionaal nou vol in die kollig staan: die hoofstad van die wêreld se mees dinamiese ekonomie. Boonop is Beijing die gasheer van die 2008 Olimpiese Spele. Jy kan maar sê dié stad is die crème de la crème van China. Dit pols van verslawende energie, lees ek met verwondering voordat ek na Beijing vertrek.

Dis reeds stikdonker toe my Cathay Pacific-vlug uit warm, humiede Hongkong oor Beijing begin daal. Ek sien liggies ver na onder flikker. Eers hier en daar, en dan ’n massa met geen ophou nie. Byna geruisloos sweef ons oor die stad, en steeds kom ’n see van ligte soos branders aangerol – met aanhoudende reëlmaat. Dis groot, dink ek. Baie groot! Meteens gly ons oor die aanloopbaan en ek stap uit op Capital-lughawe. Dis snerpend koud, maar die gids Colin Ma groet warm, en so ewe in Engels. Ons vind die pad na my hotel, op ’n breë snelweg, onder skerp spreiligte deur en verby die donker weerkaatsings van massiewe grys geboue. “Ons gaan die heel beste Olimpiese Spele nóg hier aanbied,” sê Colin ongevraagd, “baie beter as die Amerikaners.” En so begin my reis in die stad van duisend gesigte . . .

Al die stad se gesigte

Ondanks sy geskiedenis van meer as 700 jaar is Beijing nie China se oudste, of selfs grootste stad nie, maar sonder twyfel is dit die hartklop en hoop van die nasie. ’n Nasie wat ’n verbysterende vyfde van die wêreldbevolking uitmaak. Op ’n koue, blou oggend en met nie ’n sweempie besoedeling waarvoor Beijing so berug is nie, ry ek af met die Chang’an Jie – die reuse-boulevard wat tussen die antieke Verbode Stad en die nou al ikoniese Tian’anmen-plein verbyloop én Beijing van oos na wes halveer. Motors, motorfietse en fietse kom uit alle rigtings gejaag en die sypaadjies wemel van haastige mans en vroue. Elk hipermodern aangetrek. Elk met ’n funky haarstyl. En elk met ’n selfoon!

 

Motors, motorfietse en fietse kom uit alle rigtings gejaag en die sypaadjies wemel van haastige mans en vroue.

 

Die kinders val my op. Oral klou prentjiemooi dogtertjies en seuntjies aan hul ouers. Gou stel ek vas in China geld die eenkind-per-gesin-wet steeds, en hier word kinders soos klein godjies behandel. Voor nuwe, hoë geboue, wat duidelik besig is om Beijing se silhoeët te verander, verras reuse-advertensieborde met bekende Westerse handelsname my: Prada, Gucci, Hugo Boss, Kentucky, McDonald’s, Pizza Hut, Häagen Dasz. Kentucky adverteer selfs sy eie variasie van Beijing-eend – sekerlik China se bekendste inheemse lekkerny. Dis strate soos dié wat ook saans lewe onder helder neonligte en jong, moderne Beijingers wat die glans van die polsende naglewe opsoek. Tot in die vroeë oggendure blêr karaoke en Canto-popmusiek uit elke moontlike kroeg. Maar ’n paar strate weg wys Beijing vir my ’n ander gesig.

Plein van smarte
Op Tian’anmen-plein, in die hart van die stad, hou ek kinders dop waar hulle hul vrolike vlieër hoog teen die blou lug laat hang. Vir baie Chinese is dit hul ideologiese Mekka – die plek waar hulle hulde bring aan hul helde en die slagoffers van hul onstuimige verlede. Die reusagtigheid van die plein laat my byna beangs voel. Omring deur grys, Stalin-agtige geboue aan elke kant, lyk alles op die plein klein en onbelangrik. Die wêreld het in April 1989 wel deeglik bewus geword van Tian’anmen toe die regerende Kommunistiese Party hier ’n gewelddadige einde gebring het aan studente se pro-demokrasie-betogings. Duisende studente is dood. Maar dis ook na Tian’anmen-plein dat Beijingers verlede jaar in hul duisende gestroom het om fees te vier toe die Olimpiese Spele aan hulle toegeken is.

Aan die bokant van die plein stap ek deur Tian’anmen-hek met ’n foto van Voorsitter Mao wat kil op my afkyk. En eensklaps is ek in ’n ander wêreld. ’n Onwerklike wêreld. Die skimme van antieke keisers en hul sameswerende houvroue en eunugs, van paleis-revolusies, intriges en passie hang in die lug. So ver die oog kan sien (9 999 vertrekke en lokale ver) strek majestueuse hout-strukture versier in imperiale rooi en goud, unieke bladgoud en kosbare keramiek en porselein. Marmertrappe, brûe, terrasse en bronsbeelde trek jou in, lei jou verder en verder tot by die hart van die paleis-kompleks . . . die Keiserlike Tuin met sy eeue oue sipresse en die Palace of Heavenly Purity, waar die keisers self gebly het en nuwe keisers aangekondig is. Dís Beijing se Verbode Stad.

* Colin Ma, my toergids, kan gekontak word by China Experience Beijing (010 6609 5636).
* Cathay Pacific vertrek daagliks van Johannesburg na Hongkong, en 2 keer per dag van Hongkong na Beijing. Vir meer inligting oor pakkette en vlugpryse kontak Cathay Pacific by 011 700 8900.

 

Vanaf die 1400’s het 24 keisers van die Ming- en Qing-dinastie hier geheers, en meer as 400 jaar lank was dít die imperiale hart van die Chinese beskawing. Kenners meen meer as 10 000 ambagsmanne en ’n miljoen arbeiders het oor verskillende tydperke hier gearbei. Vir gewone mense was die Verbode Stad destyds inderdaad verbode, maar vandag stroom toeriste (en Chinese!) om hierdie ongelooflike paleis van nader te beskou. Ek kyk na die Chinese om my. Hul uitdrukkings is ’n mengsel van trots, en soos myne, totale verstomming, oor die prag en die praal van ouds. In die somermaande het die keisers 12 km buite die stad tuisgegaan, en ek haal die bus soontoe. Ek kyk na ’n idilliese skildery, was my eerste gedagte toe ek die Somerpaleis sien. Die rykes se speelplekke van vandag vergelyk nie hiermee nie! Dis ’n fantasiewêreld met paleise, torings, paviljoene, binnehowe, treurwilgers en brûe – en was veral keiserin Cixi se speelplek. Die konserwatiewe Cixi was een van talle houvroue van die Verbode Stad. Haar geluk sou draai. In 1834 het sy keiserin van China geword en regeer tot 1908. Kunming-meer slaan inderdaad my asem weg. Met die son wat laag sit, is die water ’n spieël en weerkaats dit perfek elke tak en elke blaar. In die winter, sê hulle, is Kunming-meer stil en wit onder die sneeu. 

 

Oor die Olimpiese Spele is sy opgewonde. Sy glo sy sal my dan weer sien, want almal gaan Beijing toe kom . . .

 

Ou stad
Terug in Beijing en naby die tradisionele woonbuurt Houhai besluit ek op ’n riksja-rit deur die ou gangetjies – die hútòng. Baie van dié ou stadsdele word nou platgestoot vir uitbreidings en bouwerk voor die Olimpiese Spele, kla ou Beijingers. Dié gesig herken ek – dis die prentjie in my kop! Klein winkeltjies wat enigiets van vars groente tot vleis en materiaal verkoop, mans wat ’n pot mahjong op die sypaadjie speel, mense op fietse, koerantverkopers, bamboes-voëlhokkies, teewinkels en rooi Chinese lanterns. Die mans staar en raak voorbarig, maar die vroue is oop en gemoedelik. Hulle vra uit oor SA en vat-vat aan my hare. Ons kibbel met handgebare oor ’n prys en lag dan lekker vir mekaar. By 17 Hei Zhi Ma Hútòng nooi Ling Xiang Zhang my vriendelik binne. Haar huis het ’n klein tradisionele sihéyuàn (binnehof) met voëlhokkies wat in die bome hang. Van haar familielede bly in die ander vertrekke wat op die binnehof uitloop. Ling is ver oor die 70, maar ek verstom my aan haar grasie en haar wakker oë. Sy praat entoesiasties oor dinge wat nou beter is in China. Dis oper en dis vryer, en dis goed so, sê sy. Sy vertel van haar kinders wat vandag almal in stewige professies staan en haar kleinkinders wat gedrewe is om iets van hul lewe te maak. Sy was bevoorreg, sê sy, sy kon drie kinders grootmaak. Haar eie kinders smag na meer as een kind elk, maar die regering straf hulle finansieel sou hulle die wet oortree. Oor die Olimpiese Spele is sy opgewonde. Sy glo sy sal my dan weer sien, want almal gaan Beijing toe kom, sê sy. Dit gaan mense verenig . . .

Magtige China
Dit laat my dink aan wat ek gelees het oor die Groot Chinese Muur. Êrens op dié 7 200 km lange muur staan die volgende woorde geskryf: “Once intended to ward off the enemy, today it brings together peoples of the world!” So 60 km buite Beijing, by Badaling, sien ek die Muur wat my van kleins af gefassineer het. Dis groter, steiler, hoër en kouer as wat ek gedink het. Ek klim die ongemaklike trappe dat ek hyg totdat ek by ’n tweede en derde uitkyktoring kom. So ver soos ek kan sien, kronkel die muur oor die berge – in dele meer as 2 000 jaar oud (die eerste deel is reeds in die 5de eeu v.C. gebou). Ek staan stil in die yskoue wind. Dit is ’n verstommende menslike prestasie en is verstaanbaar sentraal tot baie Chinese se kulturele identiteit.

Met ’n tas vol Chinese tee, porselein-koppies, handsakke en skoene fyn versier met krale, helder sy-serpe en sy-rose vir my baadjie, en die beste van als: ’n sy-jas handgemaak en -geborduur met honderde fyn blommetjies wat ek in die ou deel van Houhai gekoop het, klim ek vroegoggend in die taxi om my vlug na Hongkong te haal. In ’n park in die donker sien ek die silhoeët van ’n ou Chinese man besig met tai chi. Hy beweeg doelgerig, gedissiplineerd en met fokus. Als om die vloei van energie (chi) in die liggaam in balans te hou.
Byna soos Beijing.

10 dinge om te weet

  1. Visum en paspoort is nodig.
  2. Yuán, die geldeenheid, kan net in China gekoop word – 1 Yuán = R1. Amerikaanse dollar word aanbeveel.
  3. Fooitjies begin in Beijing posvat: R20 per dag vir ’n toergids, R10 per dag vir die bestuurder van elke toeris word aanbeveel.
  4. Moet nooit kraanwater hier drink nie.
  5. Chinese kos is dikwels ’n mengsel van groente en vleis, maar vegetariese kos is wel beskikbaar.
  6. Vir die beste Beijing-eend, gaan waar die Beijingers gaan – Quanjude Restaurant. Stukkies eend word in ’n dun pannekoek voorgesit saam met uie of komkommer en ’n pruimsous.
  7. Beginsels van feng shui soos gebruik in die Verbode Stad word steeds met die oprigting van nuwe geboue ingespan.
  8. Hongquiao-mark in sentraal-Beijing verkoop als: van pêrels tot sy tot leer. Pas op vir die fakes, behalwe as dít is wat jy soek. Inkopies hier is hope pret!
  9. Toere na die hútòngs is te kry by die Beijing Hutong Toeriste-buro aan die agterkant van Beihai-park.
  10. Vir die naglewe is die area Sanlitun Lu die plek om te wees.