Renette van der Walt

Renette van der Walt

Reise

Bonito: Die prag van Brasilië

Nadat sy in 2013 gegradueer het as wiskunde onderwyseres, was Renette van der Walt nie gereed om ’n 8-5 werk aan te pak nie en het toe besluit om eerder die wye wêreld van Brasilië aan te durf. Sy woon in São Paulo, Brasilië en werk as ’n au pair vir ’n gesin met twee dogtertjies.

Renette het onlangs na Bonito in Brasilië gereis en sy skryf oor hierdie besoek vir ons.

Die woord Bonito is Portugees vir mooi/beeldskoon/pragtig. Hierdie klein plattelandse dorpie is in die middel van Suid-Amerika geleë en die kulturele invloede van Brasilië se buurlande is sigbaar in Bonito.

Om Bonito te bereik, moet jy na Campo Grande vlieg waar die naaste kommersiële lughawe is en dan 260 km na Bonito ry. Ek en my vriendin, Rafaella, het ’n kar gehuur en hierdie lang reis self aangepak. Die pad is omring deur plase, berge, groenvelde, strome en oop vlaktes – die teenoorgestelde van São Paulo, wat ’n digbeboude stad is.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Aangekom in Bonito het ons dadelik by ’n agentskap aangeklop om aktiwiteite te bespreek. Hierdie was my eerste toer in Brasilië waar ek nie vooraf besprekings gemaak het nie – my eerste stap tot Suid-Amerikaner!
Gelukkig vir ons is daar vasgestelde pryse op aktiwiteite en is dit nie nodig om te onderhandel of rond te soek na beter pryse nie.

Ons eerste aktiwiteit was 50 km buite Bonito. Rio da Prata (Silwerrivier) is die helderste en skoonste rivier wat ek al in my lewe gesien het. Die agentskap verskaf snorkeltoerusting en ’n duikpak. Ons het twee kilometer gestap voordat ons die oorsprong van die rivier bereik het. By die riviermond sien jy hoe die water vanuit die grond borrel. Hier het ons ook die meeste visse gesien en omdat die sand wit is, is die water baie helder.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Renette onder die water. FOTO: verskaf

Renette onder die water. FOTO: verskaf

Vir twee ure lank het ons saam met die stroom gesnorkel. Dis baie ontspannend, want die stroom vat jou en al wat jy moet doen, is om asem te haal en na die visse te kyk!
Ek sien die gids wys iets en ek swem nader, wragtig, daar swem ’n anakonda verby ons. Ek het geweet daar’s die storie van die ‘sucuri’ slang wat in die rivier is, maar almal spot net daaroor en dis eers toe ek die slang sien dat ek besef dat ‘sucuri’ Portugees is vir anakonda. Die anakonda is regtig groot en sy middel is so groot soos my middel! Gelukkig was die slang rustig en kon ons ten minste ’n foto neem. Volgens die gids was dit ’n volwasse anakonda en ek kon sien dis ’n enorme slang.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Na hierdie opwindende oomblik was die res van die snorkeltoer maar vervelig!
Na Rio da Prata het ons die Ekologiese Park gaan besoek. Hierdie park bied verskeie aktiwiteite aan en ons het besluit om die Bóia Cross te doen. Dis basies klein rubberbootjies wat jou by die rivier afvat. Hierdie was heel prettig, want die gidse speel speletjies en hou kompetisies soos wat jy by die rivier afgaan. Gelukkig vir my gereelde Pilates klasse, was ek die enigste een wat op die bootjie kon staan sonder om te val.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Na so besige dag was ’n glaswyn en ’n gekookte bord kos ons volgende stop. Bonito het baie restaurante om van te kies en by Casa do João kon ons die heerlikste Filé Mignon met ’n bloukaassous en ’n bottel rooiwyn van Chili geniet.
Die volgende dag het ons die oerwoud ingevaar om Bonito se unieke boomtoptoer te doen. Dit het my baie laat dink aan die leierskapkampe wat ek op skool gedoen het. Dit was ongelooflik bedompig en warm, maar nietemin was daar ’n waterval aan die einde van die roete waar ons kon afkoel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die middag het ons ’n ontspanningsoord besoek. By hierdie oord is daar ook ’n verskeidenheid aktiwiteite om van te kies, maar om geld te spaar het ons vir lank net in hangmatte ontspan en later ‘stand up paddle’ trotseer.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Ongelukkig het dit die res van die naweek gereën en kon ons nie die bekende grotte besoek nie. Bonito is ryk aan fauna en flora en die mooi van die dorp lê in die mense se gesindheid om die natuur te bewaar en verantwoordelike toerisme te bevorder.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf