FOTO: Instagram (@sweetestpoison)

FOTO: Instagram (@sweetestpoison)

Reise

Brief uit Mauritius

 ’n Nuwe avontuur wag op Anni en Yasper in Mauritius. Dié Kaapse egpaar het onlangs daarheen verhuis.

Hulle het hul besighede in Kaapstad verkoop en die groot stap geneem om hulle op die eiland te vestig. Nou leer hulle Frans en oefen om te praat as hulle winkel toe gaan of as hulle stap of bus ry. Anni vertel meer:

“Bonjour madame, bonjour monsieur! Ca va?”
Dis hoe die vriendelike eiland bewoners ons groet hier in Mauritius.
Hulle ken nou al dié man en vrou wat soggens en saans langs die see stap.

Dis ’n rustige lewe hier in Mauritius. Die besighede maak eers negeuur oop en bly dan tot saans laat oop.
Selfs die straatbrakke is lui! Hulle lê soggens nog op straat en slaap as ons gaan stap. Dis hierdie vriendelikheid en rustigheid wat ons hier heen gelok het.

Toe ons Januarie 2014 vir familie en vriende sê ons gaan Mauritius toe, wou almal weet hoekom? Hoekom nie? Sommige was geskok, ander verheug. En ons? Wel . . . verheug, hartseer en opgewonde-bang.

Die grootste besluit was wat om met al ons goed te doen, want ons het albei tuisbedrywe bestuur met baie toerusting. Die besluit om alles op ’n veiling te verkoop was ’n goeie een – vinnig en pynloos. Die moeilikste besluit was om ’n geskikte tuiste vir ons 14-jarige African Grey te vind. Hy het vrylik in die huis en op die werf rondbeweeg, so Butterfly World Tropical Garden in Klapmuts was die beste paradys vir hom. Nou kan hy self vir hom ’n maatjie kies!

Met enige internasionale skuif is daar baie papierwerk – dienste wat gekanselleer moet word, nuwe paspoorte, soeke na verblyf in Mauritius en vele meer.

Ons het ’n “Retired Non-Citizen”- permit vir 3 jaar. Daar’s heelwat vereistes soos ’n klaringsertifikaat van die SA polisie, mediese ondersoeke en bewys van finansiële onafhanklikheid. Vir laasgenoemde permit moet jy ’n bankrekening in Mauritius open, maar jy moet egter in Mauritius wees om aansoek te kan doen daarvoor. Dis ’n goeie idee om alle korrespondensie by jou te hê wanneer jy vlieg. Op die lughawe in Kaapstad wou die lugredery ons nie deurlaat nie, omdat ons nie ’n retoerkaartjie gehad het nie. Gelukkig het ons al die korrespondensie by ons gehad en is die probleem opgelos.

So land ons 3 Junie in Mauritius, met ’n totaal van 4 tasse (ons aardse besittings) en ons ervaar ’n gevoel van algehele vryheid! Dis laat en ons is moeg, maar die vriendelikheid van die mense laat alle moegheid verdwyn.

FOTO: Straat in Flic-en-Flac

FOTO: Straat in Flic-en-Flac

Ons bly vir 4 dae in Mahébourg in die suide waar dit stiller is en ons soektog na ’n nuwe tuiste begin. Dis handig om vooruit kontak te maak met verhuringsagente. Baie gou het ons ’n woonstel in Flic-en-Flac aan die weskus. Dis binne stap-afstand van SPAR, ’n private kliniek, die busstop, see en banke. Ons het besluit om nie ’n voertuig te koop nie, want dis nogal duur om een te besit in Mauritius. Die busdiens is so gereeld en betroubaar en ons het gou die roetes onder die knie gekry. Die busbestuurders en kondukteure ken al die man met die trollie en die vrou met die turkoois hoed. Ja, ons het van daardie inkopietrollies wat mens assosieer met mense van gevorderde ouderdom. Makliker om inkopies te sleep as om dit te dra!

FOTO: Stirling Gebou

FOTO: Stirling Gebou

Te voet en per bus verken ons die eiland stukkie vir stukkie. So kry ons die werklike gevoel vir die eiland en sy mense. In die eerste maand hier het ons die busdiens 43 keer gebruik. Baie daarvan was na Port Louis vir administratiewe afsprake. Gedurende die permit-aansoekproses het ons geleer om rustig te wees, aangesien die sisteem verander het en ons ander vorms moes invul. Na ses weke huppel ons uiteindelik by die Sterling Gebou se trappe af met altwee ons permitte in die hand! En vier dit onmiddellik met ’n Phoenix-bier in Friends op die Caudan Waterfront. Met hierdie permit betaal ons ’n verlaagde tarief by sekere toeriste aantreklikhede. Ons kan ook vir beter tariewe beding vir sommige dienste.

FOTO: Anni met haar bier by Friends.

FOTO: Anni met haar bier by Friends.

Tussen die waggery deur het ons ook ons lywe toeriste gehou. Die langste busrit was 5 ure vanaf Flic-en-Flac na Baie du Cap in die suide, daarna na Souillac waar ons wegdraai binneland toe na Curepipe en Quatre Bornes en dan weer terug na Flic-en-Flac. So leer ons die kulture ken en kyk maar verby die rommelstrooiery en spoegery!

Hier is verskillende kulture en gelowe wat in vrede saam woon, werk, speel en aanbid. Ons voel veilig in die besige strate van Port Louis, op die strande, in die busse en in die woonbuurte. Hier leer ons wat respek is vir mekaar en geduld. Met ons stappery vergaap ons ons aan die boustyle, kleure en onklaar woonplekke. Dis ’n mengelmoes met oop stukke veld tussen in wat die voëltjies lok wat ons elke oggend groet.

Meer hieroor in ons volgende brief.

Au revoir uit Dodoland!

Anni