madelyn
Reise

Kuberkuier in Browns Bay, Nieu-Seeland

Waarom is julle soontoe?
Om vir ons kinders ‘n toekoms te skep met geleenthede vir goeie geleerdheid en werk. Ek het drie jaar lank elke dag oor die saak gebid en die Here het ons ‘n kans gegee waarvoor ons nie nee kon sê nie. Ek glo ons is gestuur met ‘n doel.

Wat doen julle?
Ek doen administratiewe werk vir die Waitemata District Health Board en vir North Shore en Waitakere-hospitaal. My man, Heinrich, en oudste seun (ook Heinrich) werk by Watercare en die jongste, Jacques, is op skool.

Die weer?
Winter is lank en nat, hoewel ons baie son ook het. Dit reën meer as in die Vrystaat waar ek vandaan kom. Die humiditeit in die somer is vir my baie erg. Ons los maar snags deure en vensters oop, sodat ons kan asemhaal en lekker slaap.

Was dit maklik om in te skakel by die plaaslike gemeenskap?
Ja, veral omdat hier so baie Suid-Afrikaners is. Ons het ‘n groot Afrikaanse kerk en die ondersteuning is onbeskryflik. Die Kiwi’s, Maori’s en eilandmense is baie aangenaam en verwelkom jou met ope arms. Ek het ‘n kursus in Maori gedoen om meer van die kultuur en gewoontes te leer.

Moeilikste dinge daar?
Verkeersreëls, landswette en die groot verlange – die verlange bly die ergste. Dit word makliker hoe langer ons hier is, maar gaan nooit heeltemal weg nie. Ek kry dikwels ‘n slegte dag en dan huil ek sommer net oor ek verlang en die alledaagse dinge mis wat families saam ervaar.

Hoe vier julle Kersfees?
Hier word twee keer per jaar Kersfees gevier. ‘n “Mid-year”-Kersfees met partytjies by die werk. Sommige Kiwi’s maak hul huis oop en hou ‘n Kersete nes in Desember.  As Christen-gesin voel ons die hele doel van Kersfees word gemis en ons neem nie hieraan deel nie.

Die meeste van ons het geen familie hier nie, en Kersfees is ‘n moeilike tyd. Ons kry soveel mense as moontlik bymekaar, sodat niemand alleen is nie. Oukersaand hou ons ‘n ete saam met vriende wat “naaste familie” vir ons is. Dis ‘n groot gedoente met baie kos en tafels wat spesiaal gedek is. Onder die Kersboom is baie geskenkies gepak vir die kinders en Kersvader is hier om dit uit te deel.

In die weke voor Kersdag sien jy oral vuurwerk. Die mense doen moeite met huise opmaak en duisende dollars word bestee aan liggies. Hier is selfs kompetisies vir die huis wat die mooiste versier is. In Auckland (20 km suid van ons) is Franklin Street ‘n groot attraksie saans en jy kan nie met jou motor daar ry nie. Almal loop en bewonder die huise met duisende liggies en versierings. Daar is ook huise met sneeumakers voor in die tuin, sodat die kinders ‘n wit Kersfees kan beleef. Die winkels is tot 12-uur in die aand oop met baie spesiale aanbiedinge. Vanaf Oktober skiet hier ook winkels op wat net Kersgoed verkoop, ongelooflike versierings in enige tema en kleur waaraan jy kan dink.

Mis julle SA?
Baie. Kleintyd het ons altyd in die Bosveld vakansie gaan hou, sonder elektrisiteit, en ‘n donkie moes laatmiddag aangesteek word vir warm water. Dit was nie vir my die cool-ste ding in die lewe nie. Nou, as ek saans draf en ek ruik die kaggelvure, verlang ek met ‘n diep hartseer na die groot vuur in die middel van die bos, met die jakkalse wat huil en die maan en sterre as dak oor jou kop.

Sal julle terugkom?
Ek wil graag ja sê, maar nie in die nabye toekoms nie. My kinders sal sukkel om weer aan te pas in ‘n plek sonder die veilige vryheid wat hulle hier het.

  • Angelique Delport

    Dit klink so baie soos ons lewe hier in Australie. Dis net ongelooflik. Alhoewel ons nie so baie reen ervaar nie, is ons vroeer in die jaar ontruim as gevolg van die vloede in Queensland. Steeds kilnk dit asof ek weet waarvan sy praat al was ons nog nie Nieu Seeland toe nie.

  • Annamarie Badenhorst

    Dis so lekker om jou storie te lees en ek weet hoe julle Suid Afrikaners verlang en in julle harte steeds Suid Afrikaners by, maar ek weet julle jong mense wat die stap geneem het om NZ toe te emigreer het die beste besluit ooit gemaak. Ons enigste seun,skoondogter en 3pragtige kleindogters het ook die stap in 2005 geneem en is VREESLIK gelukkig…..ons verlang van beide kant ….maar al julle SA Kiwis is pal in ons gebede en ons wens julle net baie sterkte toe……al doen julle dit alles net vir die kleingoed…hulle verdien die lewe soos dit in NZ geleef word!!! Ons het ons Residence Visas na 2jaar gekry en hoop maar dat ons so gou as moontlik werke daar kan kry…dan is ons op die 1ste vlug!!!