Reise

Camino-pelgrimsreis – ‘My 33 goue dae’

Ek het vanaand die laaste bietjie origanum uit die bruinpapiersakkie op my handpalm geskud. Die vaalgroen blaartjies het my met soveel herinneringe oorweldig dat ek op die vloer teen ons blou kombuiskassies moes gaan sit. Ek het die ritselende blare van die populierbos en die kabbeling van die fontein teen die kloostermuur gehoor. Bo alles het die gekwetter van honderde spreeus in die sipres langs die kloktoring uitgestyg. As ons nou in Santo Domingo de Silos was, sou ons ons wolmusse opsit, in die koue aandluggie met die voet van die heuwel langs stap en net betyds vir die Maitines van dreunsang (chanting) om sesuur wees.

Ek en my man, Ben, is hedendaagse pelgrims wat die Camino Francés vanaf die ooste na die weste oor die breedte van Noord-Spanje stap. (Dit het ons 33 dae geneem van St. Jean Pied de Port op die Spaanse grens met Frankryk tot in die stad Santiago de Compostela.) Die afgelope duisend jaar het mense uit alle vlakke van die samelewing al hierdie roete van bykans 800 km gestap. Baie om godsdienstige redes, ander, soos ons, vir die avontuur daarvan. Die spreekwoord sê mos: “’n Pelgrim is geen gewone reisiger nie. Hy dra sy kaart in sy hart.”

In Burgos, met ongeveer 260 km agter die rug, besluit ons om van die normale roete af te wyk en die klooster in Santo Domingo de Silos, 57 km verder, te besoek. Dis die aangewese plek om na Gregoriaanse dreunsang in sy oorspronklike vorm te luister. Dié sang het in die 6de eeu ontstaan en was baie gewild tot dit in die Middeleeue in onbruik verval het. Toe die val van die Berlynse muur en die einde van die Sowjetunie met groot gejuig aangekondig is, het die handjie vol monnike van Santo Domingo de Silos die byna onmoontlike reggekry: Danksy hulle het Gregoriaanse dreunsang stil-stil die gewildsheidsleer van klassieke en popmusiek in Europa en Amerika geklim. Toe die mensdom sy oë uitvee, is meer as 4 miljoen CD’s verkoop. En dít terwyl lang frases Latyn uit die Donker Middeleeue onveranderd aan die mense van die 21ste eeu gebring is.

In ’n kloostergemeenskap soos Silos word elke dag tot ses keer gesing. Die helende krag lê in die eenvoud van die melodieë, wat uit net ’n paar note bestaan. Daar is geen vorm van begeleiding nie en ook geen harmonisering van verskillende stemme nie. Absolute, gestroopte eenvoud. Met ons eerste ervaring van dreunsang wag die ou klipkerk klam en stil op ons. Saam met die dorpenaars skuif ons by die krakende houtbanke in en kyk hoe die flikkerende kerse aan die donker boog van die dak lek-lek. Die monnike stap geruisloos teen ’n groot houtkruis agter die altaar verby na die koorbanke. Hul donker jurke met die puntkappies maak só ’n sagte “swiesj”-geluid dat jy nie seker is of jy dit werklik hoor en of dit jou verbeelding is nie.

 

’n Pelgrim is geen gewone reisiger nie. Hy dra sy kaart in sy hart.

 

Vir die volgende halfuur sweef mansstemme soos wierook deur die ou gebou. Dit draai in elke hoekie en donker klipkrakie. Met ’n ritme soos golfies wat uitstoot en terugtrek, uitstoot en terugtrek op ’n strand vol gladde klippies, styg en val die stemme. ’n Kalmte spoel in my oop. Die Latynse klanke lê aanvanklik vreemd op die oor, maar later verstaan jy sonder dat woorde nodig is. Toe die laaste note wegsyfer, staan twee jong monnike op en sprinkel wywater weerskante van die groep. Daarna stap hulle na ons klompie in die banke en sprinkel ook die seëning oor ons. Ons laat sak ons koppe en ontvang dit dankbaar. Die monnike verdwyn net so stil soos hulle gekom het. Ons stap uit in die koue berglug om na die sterre te kyk. Om die draai in die pad, daar waar die stikdonkerte van die omringende berge soos ’n gordyn begin, wag die volmaan groot en geel. Ek dink aan Oscar Levant wat gesê het: “Happiness is not something you experience. It is something you remember.”

Kloosterbewoners
Met ons aankoms vroeër die dag in Silos klop ons by die klooster aan. ’n Monnik wat homself as frére Antonio (broer Antonio) voorstel, maak die deur binne die swaar houthek oop. “Quiere una habitación?” (“Soek julle verblyf?”) vra hy. Ons kry ’n kamertjie in een van die buitegeboue. Frére Antonio vertel in sy sagte stem dat die klooster geen betaling vir die verblyf wil hê nie en dat ons asseblief geen geld met ons vertrek moet agterlaat nie. Al wat ons moet doen, is om die ervarings in Silos met vriende en familie tuis te deel. Drie dae lank bêre ons die stapstokke en rugsakke en word deel van die klein dorpie en sy mense. Bedags verken ons die omgewing en geniet die heerlike tradisionele kos, Spaanse wyn, kaas en heuning uit die omgewing. Ben kan sy geluk nie glo toe frére Antonio hom nooi om die binnekant van die klooster te besigtig nie. Met verwondering en entoesiasme vertel hy dat die eetsaal al gedek was vir aandete. Brood en wyn op lang, skoongeskropte houttafels. Een oggend terwyl ek ’n bietjie later slaap, woon hy die dreunsang om sesuur op sy eie by. Dis net hy en ’n jong man van die dorp wat die koue aangedurf het. Hulle word elk ’n Latynse teks in die hand gegee en genooi om saam met die monnike te sing. My man ontvang ’n geskenk wat hy lewenslank sal koester. Die res van die dag “Al-le-lu-ia” en “Glo-ria in Ex-cel-cis Deo” hy met ’n salige uitdrukking op sy gesig.

Gunsteling-piekniekplek bo Santo Domingo de Silos

Laatmiddag op die derde dag in Silos gaan ons na die winkeltjie op die plein. Ons koop aspersies, olywe, ’n platbrood en jongwyn vir ’n piekniek teen ons gunsteling-heuwel. Ek merk die kruie op wat in netjiese porseleinskotteltjies uitgestal is. Met die heerlike lamsgereg in gedagte wat ons die vorige aand geëet het, koop ek ’n paar skeppies origanum om saam te neem huis toe. Die vaalgroen blaartjies ruik na son. Dit word met sorg in ’n bruin kardoessakkie toegevou. Die ou vroutjie agter die toonbank is vol grappies en gee ons ’n klompie amandelkoekies as nagereg present. Die hele Spanje deur maak mense soos sy hul harte oop vir ons peregrino’s (letterlik vertaal: wandelaars in ’n veld van sterre).

Die oumatjie, die ou tante en die monnik
In ’n klein dorpie keer ’n oumatjie ons voor met ’n ronde kaas uit haar eie melkery. ’n Jong man kom op sy fiets van sy groentetuin af. Agterop is ’n mandjie vol ryp rooi tamaties. Hy stop en gee met ’n tandelose glimlag vir ons elkeen ’n rypgeswelde vrug. Buite Astorga roep nog ’n ou tante ons oor die kombuis se onderdeur nader. In haar knobbelhande hou sy warm pannekoeke in ’n doek toegedraai na ons toe uit. Sy is van kop tot tone in swart geklee en met haar houtvurk op pad na die landerye om aartappels uit te haal. Ben neem ’n foto van ons twee. Die klein figuurtjie pas los onder my arm in. Ons geniet die aspersies, olywe, brood, wyn en amandelkoekies onder die groot akkerboom teen “ons” heuwel agter die klooster. Ek pluk geel veldblommetjies wat op lang stele in die briesie wieg. Grassade met lang, sagte koppe, amper soos ons katstert, en eenvoudige pers klokkies waarvan ek die naam nie ken nie. En teen die klipmuur by die fontein die jong lote van ’n klimop. Ek vleg ’n krans vir Silos. Vir sy berge, klooster en goudgeel maan. En vir sy monnike wat soos krygers van ouds dag ná dag hul dreunsang as swaard teen die wêreld opneem. Ek staan saggies op en stap tydsaam, soos iemand wat nie wil hê dat die dag moet verbygaan nie, na die kerk. Voor die groot deur besef ek teleurgesteld dit is gesluit. Ek wou so graag my krans aan Silos offer. My gedagtes in die groot stil koepels opstuur en ’n kers brand vir die 500 km wat ons nog moet aflê. Terwyl ek besluiteloos staan en wonder wat my te doen staan, knars ’n sleutel in die slot. ’n Monnik maak oop en nooi my in. Ek beduie na die krans en probeer verduidelik dat ek kom dankie sê. Hy staan terug en wys na die altaar. Ek stap tot teen die trappies, sit dit op die boonste een neer en gaan sit in een van die banke.

 

Ek vleg ’n krans vir Silos. Vir sy berge, klooster en goudgeel maan.

 

Aan die monnik dink ek nie weer nie. Dié het stil-stil verdwyn. Met die groot gebou vir myself draai ek die drie goue dae om en om in my gedagtes. Meteens dawer die mooiste orrelklanke tussen die houtbanke deur. Die diep basnote dreun deur die klipvloer onder my voetsole. Dit kolk in die paadjies af, stort oor die galerye en spoel teen die trappe voor die altaar vas. Ek sien hoe my krans op die skuimrand dans, gaan op my knieë en hou die bank voor my met albei hande vas. Die hout vibreer onder my vingerpunte. Toe die laaste note van die galery bokant my afdrup, stap ek na die donker figuur agter die orrel. Net sy vae buitelyne is in die skemerte sigbaar. Ek wil nie die towerkrag van die musiek met woorde versteur nie. “Uno mas por favor?” (“Nog een, asseblief?”) vra ek. Die klanke van “Ave Maria” kom soos ’n sagte reënbui vanaf die orrelpype teen die oorkantste muur na my toe aangesweef. Ave Maria, gratia plenta. Die laaste note sterf langsaam weg.

Die monnik kyk op. “Ek is Bernard Garçia Pintado,” sê hy. Ek verstaan net ’n klein bietjie Spaans; hy net ’n klein bietjie Engels. Ons ruil ’n paar Franse sinne. Verder meng ons die drie dat dit klink asof die toring van Babel van nuuts af gebou word. Ek word breedvoerig oor ons pelgrimsroete uitgevra. Tussenin speel hy van sy eie komposisies en maak ’n paar draaie, wat vir my ’n stuitige jazz-inslag het, op die orrel. Dit word tyd om te gaan. Die monnik neem altwee my hande in syne. “You are a good person. I will pray for you. You will always be my friend.”

Toe ek na ons piekniekplekkie onder die boom terugstap, is dit skemer. Die voëls is al stil. Net nou en dan hoor jy die laaste vlerkgeklap van ’n duif wat slaapplek kry vir die nag. Daardie aand, toe ons die laaste dreunsang, Completas, bywoon, lê my krans steeds teen die altaar. In die flikkerende kerslig skyn die vrolike veldblommetjies diepgeel. Frére Bernard se gesig is helder en oop tussen die ander monnike in die koorbanke. En vir ’n oomblik, net vir ’n oomblik, is daar ’n jazz-kinkel in die eeu oue Latynse klanke.

Om te weet

British Airways vlieg daagliks van Kaapstad via Johannesburg na Madrid.
Burgos is net 200 km vanaf Madrid. Daar is busvervoer. Die busmaatskappy Autocares Arceredillo bied ook ’n daaglikse diens (behalwe Sondae) vanaf Burgos na Silos. Vertrek 5.30 nm. vanaf die Burgos-bushalte. Dieselfde busdiens bied ook ’n terugrit van Silos na Burgos om 8.30 vm. Vertrek vanaf die kloosterhek. Jy kan jou kaartjie sommer op die bus koop. ’n Enkelkaartjie kos ongeveer €6. April, Mei en September, Oktober is die beste maande om Silos te besoek. Die toeristeseisoen is verby en die weer baie aangenaam.
Santo Domingo de Silos: Kloostertoere om 10 vm., 1 nm., 4 nm. en 6 nm. (behalwe Sondae en openbare vakansiedae). Toegang ongeveer €3. Maandae gratis.
Dienste met dreunsang om 7.30 vm., 9 vm., 1.45 nm. en 7 nm. Dienste wat uitsluitlik uit dreunsang bestaan om 6 vm. en 9.30 nm.
Hotel Santo Domingo de Silos is ’n goeie alternatief as jy nie blyplek in die klooster kan kry nie – bel 34 947 390 053, e-pos: reservas@hotelsantodomingodesilos.com.
Die hotel het ook ’n restaurant wat heerlike tradisionele etes voorsit.
Restaurante Cruces op die dorpsplein is ook goeie waarde vir geld en het ’n kelner wat Engels praat.