Reise

Deirdre en Rudi Brits skryf uit Coventry, Engeland

Julle is soontoe oor rugby?
Rudi, my man, het in 2004 vir ‘n seisoen hier kom rugby speel. Hy’s daarna terug SA toe om die Curriebeker-seisoen by die Pumas te voltooi. Ons wou tóé al Engeland toe verhuis. Einde 2005 is ons sak en pak hierheen, eers na Windsor, daarna na Bradford, en die afgelope drie jaar bly ons in Coventry. Dis naby die dorpie Rugby (waar die spel ontstaan het en die William Webb Ellis-standbeeld staan). Coventry is pragtig en word baie besoek vanweë die ruïne van die Coventry-katedraal. Dis in die Tweede Wêreldoorlog verwoes.

En die weer?
Dis dalk ‘n skok – Suid-Afrikaners is mos mal oor son – maar ek en Rudi geniet die winter hier vreeslik. Ons kan nie genoeg van die sneeu kry nie. Dit reën baie en die weer is nogal onvoorspelbaar, so ‘n braai saam met vriende kan nie vooraf gereël word nie.

Rudi speel professioneel rugby. En jy?
Ek werk by die Warwick-universiteit. Ons afdeling hanteer die bemarking van vakatures by alle universiteite in Engeland. Ons het eers net gefokus op die Engelse mark, maar bemark nou wêreldwyd poste by verskeie universiteite, onder meer die Universiteit van Kaapstad en Pretoria.

Jul honde is saam?
Ons staffies, Jinx en Aqua, is onderskeidelik 6 en 7 jaar oud. Dis ons kinders. Hulle het by my skoonouers gebly toe ons hierheen getrek het. Ná maande se beplanning, baie papierwerk en ‘n menigte inspuitings kon ons hulle eindelik oorbring. Toe moes hulle 6 maande in kwarantyn bly. Dit het soos ‘n ewigheid gevoel. Ons kon darem elke dag vir hulle gaan kuier. Hulle het gou aangepas en geniet die sneeu byna meer as ons.

Jy’s ‘n SARIE-leser. Hoe kry jy jou tydskrif daar?
Ek is grootgemaak met SARIE en het altyd deur e-pos uit my ouma en ma s’n geblaai. Ek geniet die tydskrif vreeslik baie. Daar is iets van alles in SARIE – modes, onderhoude met bekendes en natuurlik die nuttige resepte! My ma, Madeleine Barnard, pos myne Engeland toe en daarna pos ek dit weer aan my niggie Adel Kotze, wat in die Britse weermag dien.

Reis julle baie?
Ons het al heelwat deur Europa getoer. Ons prober elke jaar ‘n ander land verken.

Ek hoor jy speel reisagent vir jou kollegas.
Jy sal verbaas wees hoeveel Britte in SA gaan vakansie hou. Ons ken heelparty Britte wat vakansieeiendomme besit en na SA vlug vir somer en son! My kollegas het altyd hope vrae en ek is so trots om hulle meer te vertel oor wat in SA te doen en te sien is. Goeie Britse vriende het selfs verlede jaar in SA getrou, en die wittebrood was ‘n safari in die Krugerwildtuin. Baie van my kollegas beplan om die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 by te woon.

Mis julle iets van jul lewe in SA?
Ons is nie ‘n dag spyt ons het Engeland toe verhuis nie. Die gróótste gemis is maar altyd familie en vriende. En natuurlik lekker kampvuur- en plaasnaweke. Die meeste van ons Suid-Afrikaanse vriende is nou reg oor die wêreld versprei.

Lekkerste ondervinding daar?
‘n Hoogtepunt was ons troue in Engeland. Elke keer as die familie van SA kom kuier. Springboktoetse teen Engeland op Twickenham, en sommer net die voorreg om in die sneeu te kan baljaar!

  • Delonte

    Wow! Great thikning! JK