nov06reisartikel1a
Reise

Die kleur van Jozi

Saans wanneer ek, ingedruk tussen die grootmense, voor die TV ingeskuif het om na die agtuur-nuus te kyk, was ek só bly ek kon net my kop by die deur uitsteek om die groen
bome en blou berge van die Boland te sien. Daai arme mense van Johannesburg. Kyk net hoe woon hulle in ’n lelike grys stad . . . Oningelig soos ek was, het ek gedink die beeldmateriaal elke keer as daar moeilikheid In Hillbrow of in een van die townships was, is hoe Johannesburg lyk. Toe kom werk ek in dié “grys” plek en my kop begin draai, letterlik en figuurlik – van
die mengelmoes van kleure wat hierdie stad laat lééf.

Brûe en taxi’s
My eerste oggend hier was ’n dolle gesoek na die plek in Doornfontein waar ek vir ’n werkonderhoud moes aanmeld, oor die Queen Elizabeth-brug na die middestad. Nogals royalty waarna dié brug in die betongrys Braamfontein genoem is, het ek destyds half-half beïndruk gedink. Nou, ná ’n paar jaar van inburgering in die stad van goud – Jozi, soos hy in die strate genoem word – ry ek dikwels oor dié brug se nuwe buurman, die statige staalkonstruksie van die Nelson Mandela-brug. Dan speel my oë oor die kleure van die nuwe, gonsende kulturele gebied in Newtown. En saans neem ’n mengelmoes van gekleurde liggies jou al langs die brug na die nuutste speelplekke in die stad. Polsende, flikkerende lewe. Los jy die waardigheid van Queen E. en Madiba se brûe agter jou, kan jy deurry na die lawaaierige, bonte kakofonie van mense wat by die Breestraat-taxistaanplek druk en (meestal gemoedelik) baklei vir ’n plek in die ry. Kopdoeke, sari’s, etniese rompe in rooi en oranje en groen en goud wapper in die stadswind. Die taxi’s blêr advertensies vir enigiets onder die son uit – oor die radio en geverf op die minibusse. Ek verwonder my dikwels aan die vaardigheid van die township-kunstenaars wat dié taxi’s omtower in mobiele kunsgalerye (maar dan wonder ek ook met ’n glimlag of hulle ooit stadig genoeg ry dat ander motoriste die kunswerke kan waardeer).

 

Die mengelmoes van kleure laat hierdie stad lééf

 

Net oor die Nelson Mandela-brug en net voor die Markteater voor jou opduik, begroet ’n gebou jou wat staan en glimlag met stukkende vensters soos ’n haasbek-kind. Want hier word opgeknap, herlewing geskep. As jy oplettend is, sal jy op jou roetes deur Johannesburg die een ná die ander kleurryke kunswerk raaksien. Op mure, heinings, deure. Graffiti, advertensies en muurskilderye kleur die stad waar die reënboognasie teen ’n snelle pas woel en werk. Met ’n plaaslike selfoondiensverskaffer se hulp kry kunstenaars deesdae die kans om hul werke teen mure en op borde te vertoon – foto’s, sketse en skilderye verf die grysheid van beton toe met ’n palet vol kleur. As jy soms tussen minibusse, BMW’s en 4×4’s moet vleg en koes deur Jozi se strate, probeer straatop en straataf loer. Anders mis jy dalk die reuse-akkedis van blink klippies aanmekaargeplak in ’n muur naby ’n teater. Of die koningsblou deur voor ’n moskee, of die weerkaatsing van ’n bak malvas op ’n balkon in ’n wolkekrabber se glans. Ek sien ’n advertensiebord wat sê dat Sarafina weer in die Markteater aangebied word, en Leleti Khumalo en ander lede van dié musiekblyspel lok my met hul bont rompe, uitbundige glimlagte en stringe, stringe krale van elke denkbare kleur. Terug oor die brug, deur Braamfontein en regs in Empireweg in, wat vir ’n kort entjie kronkel voordat dit Louis Bothalaan word. Dis op dié kort stukkie pad waar ’n hele paar wêrelde joune kruis.

Van Hillbrow tot Houghton
In Hillbrow waai klere soos bont vlae op balkonne. Straatverkopers probeer by stopstrate en verkeersligte ’n bont basaar van plastiekspeelgoed tot selfoon-bybehore en landsvlae aan jou verkoop. Oral op sypaadjies staan hopies groente en vrugte op kleurryke plastiekborde uitgestal. ’n Bont Afrika-mark in die kleine op elke hoek. Woonstelgeboue is tot barstens toe vol. Matte en komberse hang oor balkonne. En soms verras ’n vensterbank vol blomme. Nes jy begin wonder hoe die mense in sulke woonplekke kan leef en oorleef, kom drie kinders speel-speel ’n trap af. En hulle skaterlag. Oorkant dié stukkie kosmopolitaanse Afrika in Hillbrow, Berea en Yeoville kies jou motor koers deur groen en goedversorgde dele soos die rykmansbuurt Houghton, waar Madiba ook saans sy kop neerlê. Soveel groen in dié plek, dink ek, en ’n lekker gevoel kom sit in my.

Johannesburg se jakarandas blom.

Wat van ’n vinnige draai deur Rosebank, meer na die noorde en ’n nog ryker deel van Johannesburg? Daar is twee hoofroetes na dié gemengde pot waar mense vanoor die hele Afrika (of altans, so lyk dit) op ’n goeie dag in die strate en koffiewinkels kuier. Die een roete is met Jan Smutsrylaan af, verby die Westcliffe-hotel, wat in haar salmpienk gewaad bra soos ’n neusoptrekkerige grande dame lyk, maar haar gaste warm ontvang. Haar uitsig oor die dieretuin en Dieretuinmeer oorkant is op ’n loofgroen stukkie Afrika-woud in die stad. Sagte groen gras vra vir ’n piekniek onder die hoë bome. O, ja, ek moet my nou nie so maklik van stryk laat bring nie – Rosebank wag. Op ’n Sondag woel dit hier. Net langs die Rosebank Mall is die Rooftop Market, wat ook tuiste bied aan die Afrikamark. Daar is houtbeelde, kiste, musiekinstrumente uit ver lande, meubels, lappe, snuisterye – wat sterk meeding met die ewe kleurryke mense wat dit probeer verkoop. Ek dink dis een van die plekke waar mens en produk ’n perfekte kombinasie vorm. Jy voel of jy in die hart van Afrika is en maak jou beursie leeg vir ’n beeld of prent sodat jy ook ’n stukkie van die magic kan besit.

 

Met die jakarandas laatjaar vol in blom, kry jy geen mooier stad op aarde nie

 

Dan is daar die ander pad na Rosebank en noordelike voorstede. Die M1 noord. Hou gerus in die linkerkantste (ja, stadige) baan en verkyk jou aan die groen, boomryke weelde wat langs jou uitgestal word. Met die jakarandas laatjaar vol in pers blom, kry jy geen mooier stad op aarde nie! Dis die reine waarheid dat Johannesburg die grootste mensgemaakte woud in die wêreld is. Soveel so dat dit uit die ruimte gesien kan word. Verbeel jou, die gryse Jozi is ’n groot groen kol uit die ruimte!

Kleurryke Jozi
Party dae draai my motor se neus suid in die koers van die geskiedkundige Soweto en sy buurman, Kliptown. Verby geelsand-mynhope, wat op ’n winderige dag jou agter ’n muur wil laat wegkruip – en op ’n herfsdag, as die lig net mooi en sag val, soos goud kan glinster. Ver van die seeduine, maar soms sien jy waaghalsige jonges teen die geel mynhope af ski. Adrenalien!
Kom ons gaan terug na die suide van die stad. Nie veel te sien langs dié pad nie, totdat die Ferriswiel by Gold Reef City se pienk, groen en rooi sitplekke jou aandag trek. Dan vat die Ou Potchefstroom-pad jou verby die oranjegeel bakstene van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, die grootste hospitaal in Afrika, waar toue mense op taxi’s wag. Daar is oop vure waarop skaapkoppe, derms en hoenders lê en braai. En ’n gekwetter in ’n warboel van Afrika-tale. Terwyl jy ry, sien jy oral langs die pad hoe entrepreneurs hul dienste teen lamppale, mure en bome adverteer. Van lomp geverfde kennisgewings tot “professionele” graffiti adverteer paneelkloppers, verwers, nuwe bande, lewende skape om te slag vir begrafnisse, troues en tradisionele vierings, bouers, karwassers.

Van die hospitaal af sien jy ook die bont koeltorings van die kragsentrale, wat vertel van ’n bankgroep, lewe in Soweto, sokker – alles in uitdagende kleure. Steek jou kop in by enige van die honderde sjebiens en voel welkom al verstaan jy nie altyd die tongval nie. As jy twyfel oor enigiets, mik na die sjebien-mama (vroue is steeds die onbetwiste heersers van dié bedryf!), waar sy oor groot potte groente en vleis waak om seker te maak niemand wat inval vir ’n bier, sal uitloop met ’n leë maag nie.

 

Op die presiese oomblik toe ek opkyk, het ’n weerligstraal die punt van die toring getref

 

Bly my by
As ek dink aan watter beelde van Johannesburg my altyd sal bybly, is dit beslis een laat somerdag toe ek in die rigting van die Sentech-toring in Brixton gery het. Op die presiese oomblik toe ek opkyk, het ’n weerligstraal die punt van die toring getref. Electrifying! was die woord wat in my kop opgekom het.

En ek dink aan die dae, laatmiddag wanneer ek huis toe ry, wanneer die oranje bol van die son my verblind met ’n magiese krag waarvan ek nie kan wegkyk nie. Dis glo danksy
die lugbesoedeling dat ons sulke asemrowende sonsondergange in Johannesburg kan sien. As ek dan Ontdekkersweg huis toe vat, word die wolkbelaaide hemele geverf in skakerings van grys, grysblou, oranje en rooi, wat binne minute van intens na poeierskakerings verflou. Later, uit my kamervenster, kan ek sien hoe verkleur die lig magenta en ligpienk en ligblou. Dan mis ek nie die blou berge van die Kaap so baie nie! En as ek nog later in die aand weer uit my huisie dop, ry ek terug deur die blink ligte van die stad. Gewoonlik onthou ek dan my eerste paar dae in die Goudstad toe die ronde Pontegebou in Hillbrow al kompas was wat ek gehad het. Toe was dit die rooi-en-wit Coca-Cola-teken wat in die donker geflits het om onsekere bestuurders soos ek die weg te wys. Deesdae kyk ek uit vir die blou Vodacom-teken bo die gebou, maar ek kyk nie meer daarna vir rigting nie, net vir bevestiging dat ek in ’n wonderlike stad woon.

Want, kyk, soms doem kleur onverwags in die stad op. Soos ’n hopie oranje-groen mango’s op ’n lendelam tafeltjie of die ryprooi aarbeie wat die smous by die verkeerslig verkoop. Of nóg ’n verkoopsman wat geruite sambrele byna by my motorvenster indruk. Partykeer tref die mooi serp om die vrou langs jou se kop jou oog as julle saam by ’n verkeerslig wag, of wens jy  die ridder agter jou wil ’n bevlieging kry en vir jou die bos purperrooi rose koop by die man met ’n spierwit glimlag. Die man in die motor voor jou haal ’n hand vol kleingeld uit vir die kaalvoet meisietjie in die geskeurde pienk rokkie. Haar voete brand seker op die warm teer as die son so ongenadiglik soos vandag neerbrand, dink jy. Dís Johannesburg. Hart van goud, maar soms ’n hart so koud soos staal . . . Dis my ander stad. My kleurryke Jozi, so ver van die Bolandse blou berge af.