feb06reisartikel1a
Reise

Die kwik styg soos die son sak in Spanje

In Augustus breek die somer aan soos ’n koors in Europa. Elke bleeksiel wyk uit vir ’n dosis son, see en saffier en ’n bietjie opwinding ná die goor, grys winter. Hulle breek veral weg
na plekke waar die kwik lekker styg, en die bloed warm raak. Só ontsnap ons ook aan die eindelose, bleek roetine. Spanje toe – na die Asturias-provinsie in die noorde, waar twee fikse Suid-Afrikaanse vriende aan die jaarlikse Descenso Internacional del Sella in ’n K2-kano op die Sella-rivier (Seia uitgespreek) gaan deelneem. Dis die 69ste kanovaart oor 21 km – vanaf Arriondas tot by Ribadesella, waar die rivier in die Golf van Biskaje uitmond. Duisende roeiers en internasionale spanne neem jaarliks deel, terwyl die toeskouers (en partytjiegangers) ook húl allerbeste uithaal. Letterlik en vreeslik figuurlik . . . Ons is ook daar, want ons het ook die gerugte gehoor van partytjies, kos en wyn . . .  Die vriende oefen al maande lank op die Teems in Engeland, waar ons almal woon. Hoewel die Britse Eilande ook deel van Europa is, vergelyk die grys, koue oggende met mis op die water nie met Spanje se stomende riviere en hittige son nie.

 

Elke bleeksiel wyk uit vir ’n dosis son, see en saffier en ’n bietjie opwinding ná die goor, grys winter

 

Ons kom een someroggend van Londen op die Oviedolughawe aan, en ry ’n halfuur per motor tot by Arriondas. Die tyd is min en voor ons bloed begin warm raak, moet ons darem eers groen Spanje bekyk. Die natuurpark Picos de Europa, 12 km van die kus, beslaan honderde kilometers en strek oor majestueuse berge en kusstreke. Cangas de Onis is ’n Middeleeuse katedraal en dorpie teen die voet van die berg Posada de Torcaz. Ons ry verby die dorpie op ’n duiselingwekkende bergpas tot op die kruin, waar dit groen en mistig is. Die turkoois bergmeer is diep en spieëlglad. Die beeste wat oral wei, is min gepla oor die klomp toeriste. Hul kake beweeg ritmies heen en weer, die bruin oë verveeld. Jy hoor die klokke om hul nekke nou en dan. Hier mag jy nie ’n toon in die water sit nie, want dis ’n beskermde gebied. Dié dat die beeste lyk of hulle die plek besit. (Hulle besit dit wel.) Ons lê op die gras en ruik suiwer beesmis.

Die volgende oggend is dit eers ons nie-roeiers se beurt om die Sella aan te durf – dis ’n dag of wat voor die amptelike resies. Op die blink water is dit ’n gespat en gespartel. Ons kyk wie roei die vinnigste en verste. Fiks is ek nou nie eintlik nie – en beslis nie in die klas van die roeiers wat dié afstand in twee uur gaan aflê nie. Laatmiddag kruip ons uitgeput op die wal uit – ons het hopeloos te ver geroei. Ek kry skaars my nat klere uitgetrek en sak in ’n moeë hopie bene neer. Selfs ’n warm stort help nie veel nie. In die restaurant bestel ek filet, maar met my arms wat in ’n pappery in geroei is, kan ek nie eens die sagte vleis gesny kry nie!

Die volgende middag laat parkeer ons in Arriondas, net voordat die amptelike plegtigheid vir die kanovaart begin. Die hoofplein is vol amptenare wat hardop babbel en beuels blaas. Later word die toeskouers en deelnemers deur die plaaslike skoolorkes, geklee in tradisionele drag, na die rivier begelei. Die dorp se burgemeester seën die wedvaart met water uit ’n antieke kruik. Daarna word vlae gehys en die deelnemers se onderskeie volksliedere gespeel. Die Spanjaarde het duidelik baie lanklaas nuus gekyk (seker van te veel fiësta en siësta), want hulle trek weg met “Die Stem” en nie “Nkosi sikelel’ iAfrika” nie! Ek sien die Suid-Afrikaanse span, en voel my bors uitstoot. Terug in die dorp is die volume oopgedraai. Elke winkel, stalletjie en kroeg het sy eie luidsprekers opgestel en elke boks spoeg harde, ritmiese Spaanse popmusiek uit.

 

Dis spookasem, oliebolle, springmielies, juwele, klere, lekkergoed, vleis, kaas, chorizo en brood

 

Skink die sider!
Sider vloei in die strate. Jy koop hierdie tradisionele appelwyn in liter-bottels en kry net een drinkglas. Die skinkery word gedoen met die bottel bo die kop en die glas wat heuphoogte gehou word. Die rede hiervoor is glo dat die sider lekkerder smaak as dit meer suurstof geabsorbeer het. Elke lid van die geselskap kry ’n beurt – en jy mag nie kyk wat jou hande doen nie! Dis maar ’n gesukkel en baie kosbare voggies word gemors. Wanneer jy uiteindelik iets in die glas het, drink jy ook net ’n sluk of twee en gooi dan die afsaksel uit. In die strate verkyk jy jou aan die stalletjies en jy voel amper verplig om iets by die sigeuners te koop. Party lyk soos Suid-Amerikaners, die velle blas en die dik, swart hare in lang vlegsels gebind. Dis spookasem, oliebolle, springmielies, juwele, klere, lekkergoed, vleis, kaas, chorizo en brood. Mense lag en praat, praat en lag. Soos die sider al vinniger begin vloei, word die strate voller met vriendelike mense. Ons vloei van die een straat na die ander. Dit neem ure om ’n paar blokke te loop. Aan die ander kant van die rivier is ’n polsende pretpark en ’n tentdorp. Dis tot barstens toe vol. Tente begin verskyn op straathoeke en selfs op graswalle tussen die afritte van die snelweg. Ek hoop nie dié mense dink hulle gaan ’n rustige nagrus geniet nie.

Señor Pepe van die Hotel Casa Pepe
Gelukkig was ons vriende al voorheen hier en hulle ken die klankgrens. So, ons het drie dorpe verder plek in ’n klein hotelletjie bespreek. Hotel Casa Pepe word besit en bestuur deur die vriendelike Señor Pepe, sy gesin en skoonfamilie. Ons is betyds vir aandete. Ons bestel vars brood met tapas: calamari, brood, olywe, sardyne, aartappels (patatas bravas met rissiesous en room), hoender en wors. Die plaaslike kaas is Gamonedo en Cabrales. ’n Baie tradisionele gereg is fabada, ’n ryk, warm boontjiebredie met spek, bloedwors en chorizo-wors. Ek bestel ’n geurige kreefsop en Spaanse rooiwyn.

Ontbyt is baie brood en sterk koffie. In die eetkamer sit ’n paar kort Spaanse omies, pette op die kop, en speel domino. Hulle stry hardop met handgebare oor wie gekul het. Ons vertrek ná ontbyt vir die groot geleentheid. Die plek skud steeds van die vorige nag se partytjie. Vrolike Spanjaarde “reël” die verkeer met hul strooihoede. Kleuters sit op oupas se skouers om die petalje te bekyk. Vroue word openlik op en af beloer. Op die oewers het derduisende mense nou vergader. Die partytjiegangers speel en rol in die vlak water. Sommiges is aangetrek soos Neptunus, vurk en al. Seegras dien as pruike. Die seremoniemeester brabbel luidkeels. Teen twaalfuur jaag hy die “seemonsters” uit die water. Uiteindelik is die rivier leeg. Eers wanneer die skoot klap, word die spane losgelaat. Die deelnemers hardloop na die kano’s en spartel vir ’n plek in die vlak rivier. Die laaste deelnemers het ’n ware stryd. Die mense het weer in die water begin stroom. Hulle wieg, skud en stoot die kano’s stroomop, of klim in die kano’s wat sink onder die gewig. Party deelnemers word kwaad, maar die meeste glimlag maar net. Ons klim in die motor en ry na Ribadesella om ons vriende daar te kry as hulle klaarmaak. Die Spanjaarde ry in geverfde motors (in die provinsiale kleure van Asturias), bromponies en motorfietse sonder helms. Ry sommer die hele pad vol. Dis net soos jool en intervarsity, net in ’n ander taal.

 

Die dag word nag, en die nag al hoe langer. Elke steeg en straat is vol luidsprekers, mense en stalletjies

 

Ons fikse vriende het klaargemaak en droë klere aangetrek. Ribadesella neem nou oor waar Arriondas die vorige nag opgehou het. Die hordes het toegesak. Ons maak sommer gou nuwe vriende. Van die plaaslike Spanjaarde wys ons hoe ons eintlik sider moet skink en drink. Hulle mors nie een druppel nie. Hulle is blas en bruingebrand. Jonk en gesond. Hulle speel doedelsak in die strate, deel Chupa Chups (Spaanse suigstokkies) uit en deel hul middagete met ons. Ons eet vars gebraaide, murgsagte calamari met swartpeper en suurlemoensap. En drink sider. Die dag word nag, en die nag al hoe langer. Elke steeg en straat is vol luidsprekers, mense en stalletjies. Plek-plek speel mense tradisionele speletjies – slaan ’n spyker reguit in ’n stuk plank met ’n hamer en wen ’n bottel soet vonkelwyn of sider. My Spaans het nou wonderbaarlik verbeter. Ons word dronk getol in die mallemeule van mense. Señoritas streel oor vreemde mans se borskaste en fluister in hul ore. Señors se donker oë beloer en koekeloer.

Passievolle Flamenco-dansers in aksie.

Die amptelike Asturias-lied word gespeel, en skielik is almal ernstig. Die stemme is dik van emosie, die Spaanse bloed warm van trots. (Asturias is een van die oudste koningshuise aan die Iberiese kus en het eeue oue tradisies.) Die atmosfeer is gelaai, die ritme skud in elke straat. Bruisend, kloppend, polsend. Jy voel dit met elke deel van jou liggaam, sien dit in die oë om jou en ruik dit in die gelaaide atmosfeer. Jy is so styf gesardyn in die nou straatjies dat jy ander se harte teen jou voel vibreer. Jy hoor jou eie asem in jou ore en voel hoe mense dig verby jou skuur. Ek voel ek begin Spaanse koors opdoen. Jy besef skielik jy moet wegkom, jou wegskeur, of jy gaan ernstig ingesuig en verlei word. Daar is geen kettings of bande meer nie. Vieruur die oggend is ons veilig by Hotel Pepe. Die volgende dag skyn die son soos al die vorige oggende. Die omies is steeds aan die stry oor wie kul. Maar vanaand gaan die kwik weer styg soos die son sak in Spanje . . .