ek_en_lourens_by_die_inland_sea_khor_al_udaid_
Reise

Die Jacobs-gesin woon in Doha, Qatar

Hoe lank is julle al daar en waar woon julle?
Ek en my man, Lourens, was nou amper twaalf jaar in Qatar. Die laaste paar jaar het ons ietwat rusteloos begin voel en besluit om ‘n nuwe avontuur aan te pak. Daarom het ons vroeër vanjaar na Australië verhuis. Ons mis ons vriende vreeslik en vind die lewe in Australië heeltemal te goed georganiseerd en rustig (maar dit maak die aanpassing baie maklik!). Ek en my man het albei verder begin swot – hy doen ‘n finansiële kursus en ek studeer onderwys. Ons soek nog werk, maar intussen geniet ons ‘n lang vakansie.

Wat het julle in Qatar gedoen?

My man was die besigheidsontwikkelingsbestuurder vir ‘n gas-maatskappy, wat gesamentlik deur Qatar Petroleum en SASOL besit word.
Ek het vir die eerste paar jaar as proses-ingenieur gewerk, maar was die laaste 8 jaar net by die huis, by my twee kinders, Zara (7) en Michael (5). Hulle is albei in Qatar gebore en het daar begin skoolgaan. As gesin was ons betrokke by die kerk en gemeenskap.

Hoe was dit om Qatar toe te trek?
Ons is ‘n jaar ná ons troue in 1997 soontoe. Toe Lourens die werk daar aangebied is, moes ons die plek eers gaan soek op die wêreldkaart – niemand het geweet waar dit is nie!
Die hoofstad, Doha, was twaalf jaar gelede klein en vuil, vol stofpaaie en hoekwinkeltjies. Sedertdien het die land en stad die wêreld se hoofopskrifte al ‘n paar keer gehaal. Die stad se gesig het baie verander en lyk nou eerstewêrelds, maar haar hart is nog steeds dié van ou Arabië.

Vertel meer van die lewenstyl, vriende en godsdiens?
Dis kosmopolitaans as jy ‘n Westerling is, of so Arabies, Indies of Oosters soos jy dit wil hê. Daar is ‘n mengelmoes van nasionaliteite en kulture van reg oor die wêreld en ons vriende daar was van Zambië, Maleisië, China, Costa Rica, Italië, Swede, Indië, Nigerië, Korea, Skotland, Australië en darem ook ‘n paar Suid-Afrikaners. Qatar se wette en kultuur is baie streng Islamities. Ons was betrokke by ‘n Christenkerk met lidmate van meer as 40 verskillende tale en kulture!

Het julle gereis?
Ons het baie gereis en plekke gesien wat miskien nie heeltemal die top-10-lys van wêreldbestemmings sal haal nie. Plaaslik het ons in die woestyn gekampeer, sandduine en kamele gery. Daar is winkels waar jy enige ding onder die son kan koop. Veral die souks (markte) is ‘n belewenis.

En die moeilikste?
Aanvanklik was dit ‘n groot aanpassing, veral omdat administrasie baie moeilik was. As vrou kon ek niks doen sonder my man se toestemming nie en oral het jy jou in derdewêreldse burokrasie vasgeloop. Die huidige regering het egter ‘n visie om die land te “moderniseer” en vandag is al hierdie dinge baie maklik.

Daar is ook baie dinge wat jy nie daar kan kry nie (veral boeke), maar die meeste daarvan kan darem deesdae oor die internet gekoop en ingevoer word – mits dit nie die landswette oortree nie.

Mis jy SA?
Ja, maar meestal omdat ek graag my kinders daaraan sou wou blootstel, soos die verandering van seisoene (in Qatar is net twee seisoene – ‘n warmerige winter en SOMER!). Hoëveldse donderstorms, kaalvoet kafee toe stap, ‘n see met branders (daar is die see plat), kampvure in die bosveld … meer die dinge wat heimwee bring uit my kinderjare.

  • Marlize Rossouw

    Hi hullo, julle is seker die mense wat uit Tebah Gardens Australie toe verhuis het? Ons gaan nou al vir ons 8ste jaar, reisend, wonend oor twee lande. Voel nog bevoorreg omdat my man se maatskappy een maal ‘n jaar ons vlugkaartjies betaal. Ons was twee jaar in Jubail, Saudi Arabie, ‘n jaar in Bahrain en die res van die tyd in Doha. Ons twee kinders het altwee hul skool loopbane voltooi in die Amerikaanse skole. My seun het nou sy eerste graad by Stellenbosch universiteit voltooi en my dogter is volgende jaar ook soontoe op pad. ‘n Nuwe fase in ons lewens breek nou aan.

    Die lekkerte van Doha is dat vrouens kan bestuur (dis nou as jy nie gou op hol raak deur die aggresiewe manier van bestuur van die "locals" nie. Bedoelende wees op jou pasoppens vir albei geslagte.

    Daar is baie Suid-Afrikaners in Doha en jy kan so besig of betrokke wees bymekaar, soos jy verkies. Ons het tot ons eie Suid-Afrikaanse Ambassade en ek wonder of ons volgende jaar weer so op no 99 gaan hoor of ons in buiteland kan stem of nie, met al die gepaardgaande uitdagings van spertye, id-boekies, paspoorte, naam op kiesersrol, VO5 en spertye daarby betrokke.

    Was ‘n belewenis om tot uit Saudi eendag op ‘n vriend van ons se brief in die koerant te lees oor hulle ervaring om vanaf Jubail die meer as 1000+ dink ek, se kilometers af te le om te gaan stem in Jeddah. Laasgenoemde is nogals ‘n plek waar ek nie sal wil wees oor die openbare teregstellings wat daar plaasvind nie

    Die gedurige kom en gaan van mense, in ons kringetjies troef maar die hart snare gedurig en met niks wat ooit seker is nerens nie, aanvaar ons niks as vanselfsprekend nie, als is ‘n besondere voorreg en hoop ek hoop ek kan party keer op die regte tyd, die regte oomblik iemand bemoedig wat huis toe verlang.

    Groetnis

    Marlize Rossouw (op die oomblik met Desember vakansie by ons huis in Onrusrivier

  • rene

    Ek was i Qatar en sal graag weer wil gaan. Sal ons weer aanvaar word.