FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Domenique Terry se lewe oorsee in ’n plek sonder winter

Domenique Terry wou op ’n plek woon waar daar nie eintlik winter is nie. Dit het sy reggekry in Viëtnam waar die winters baie matig is.

Waar woon jy en waarom juis daar?
Ek en my ander helfte, Reinardt Kühn, bly al vir ’n jaar en ’n half in die middel van Viëtnam in die derde grootste stad, Da Nang. Dis geleë by die see en die strande is van die mooiste wat ek al gesien het. In 2013 het ons alles in Suid-Afrika agtergelaat om in Suid-Korea te gaan werk. Alles het so vinnig gebeur! Binne ’n maand het ons werk gekry in Daejeon, Suid-Korea, ons moes begin met papierwerk en koebaai sê. Dit was baie moeilik, maar ek wou altyd oorsee werk en gelukkig het my beste vriend dieselfde drome as ek. Ná ’n wonderlike jaar van temperatuur uiterstes, het ons besluit om vir ’n paar maande te gaan reis en sommer navorsing te doen oor waar ons volgende wil bly. Ná ’n lekker lang ruk in Nepal, Indië en Suid-Afrika wou ons in ’n plek bly met matige winters by die see. Ons het besluit op Da Nang waarvan ons niks geweet het nie, behalwe dat dit nie baie koud word nie en dat daar ’n strand is. Reinardt is voor my daarheen om vir ons blyplek te soek, motorfietse te kry (al het ek nog nooit ’n motorfiets gery nie) en te kyk hoe die werksgeleenthede lyk. ’n Week later sit ek toe met my voete in die sand en drink ’n kokosneut.

Die strand by Da Nang.

Die strand by Da Nang.

Wat doen jy daar?
Ek het in 2012 my onderwysgraad by die Universiteit van Pretoria behaal met die idee dat ek enige plek in die wêreld sal kan werk. Nou’s dit my werklikheid. Ek’s ’n Engelse onderwyseres en mal oor my werk. Miskien omdat ek net so vier ure ’n dag werk! Ek kan myself in geen ander werk sien nie, behalwe dat ek ’n baie groot liefde vir diere het. In die toekoms wil ek baie graag veeartsenykunde studeer om al die straatdiere te kan help hier in Viëtnam. Ek en ’n vriendin het ’n projek begin, Paws for Compassion, om vir die jonger generasie te leer van diere en dat diere met liefde en respek hanteer moet word, en dat troeteldiere nie kos is nie. Hier word honde en katte gesien as kos, so diere is glad nie veilig op straat nie. Ons neem diere in en probeer hulle rehabiliteer. Meeste kere het die diertjies ’n baie slegte begin gehad, en maak dit nie altyd nie, maar daar is wonderwerke. Gaan kyk gerus op ons Facebook bladsy

Hier is van my studente.

Hier is van my studente.

Was dit moeilik om in te skakel in ’n gemeenskap?
Glad nie, ons was regtig baie gelukkig om ’n lekker groep vriende te maak.Meeste van hulle is steeds hier. Baie mense kom en gaan. Hier is darem ’n paar Suid-Afrikaners, van hulle is vriende wat ons al in Suid-Korea gemaak het.

Die vrou verkoop seekos op die mark in Da Nang.

Die vrou verkoop seekos op die mark in Da Nang.

Is dit duur of goedkoop om daar te woon?
Viëtnam is lekker goedkoop, veral die belangrike goed soos kos en bier. ’n Lekker groot bord kos sal jou so van R10 tot R40 uit die sak jaag, en ’n yskoue Viëtnamese bier kos net R7. Verblyf is ook redelik goedkoop, omdat ons in dollar verdien. As mens dit omsit in rand, dan kan dit duur wees. Die kos is van die lekkerste wat ek al geëet het. Baie vars elemente soos blare, grasuie, koljander en boontjiespruite word by die rys of noedels gesit. Meeste kosse hier is ook baie souserig en elke dis het ’n ander geur. Elke provinsie in Viëtnam het ook sy unieke dis. Dis altyd lekker om die verskille geregte op ander plekke te probeer. Hier is ook ’n groot verskeidenheid restaurante. As jy nie lus is vir Viëtnamese kos nie, kan jy Koreaanse, Italiaanse, Franse, Amerikaanse of Indiese kos gaan eet.

Dié gereg eet ons so vyf keer per week. Dit kos R10!

Dié gereg eet ons so vyf keer per week. Dit kos R10!

Tyd om te reis?
Ons maak altyd tyd om te reis, maar omdat Da Nang so rustig is met wit strande voel dit nie of mens ooit vakansie nodig het nie. Ons probeer om so veel moontlik van die land te sien, want Viëtnam het so baie om te bied: motorfietsritte, kamp op die strand, watervalle, die geskiedkundige dorpie, Hoi An, en dis alles net om Da Nang. Verder Noord is die bekende Ha Longbaai, een van die mooiste plekke op aarde, en Sapa met al die rysvelde. Ek het darem in die laaste twee en ’n half jaar lekker gereis na Indië, Nepal, die Filippyne, Thailand, Hong Kong, en die laaste land was Kambodja wat ek saam my ma en ’n vriendin gesien het. Dit was ongelooflik spesiaal. Volgende op ons lys is Sri Lanka.

Die hoogste berg in Nepal!

Die hoogste berg in Nepal!

Wat was die ding waaraan jy die moeilikste gewoond geraak het daar?
Die mense hier ry soos mal hase, enige kant van die pad, oor rooi verkeersligte, met 4 mense op ’n motorfiets . . . Om daaran gewoond te raak, was ’n nagmerrie en jy moet dink wat almal om jou dalk mag doen. Ek moes myself leer om ’n ‘scooter’ te ry. Die beste raad vir die pad is om die motorfietse voor jou te volg soos ’n skool visse, nog beter as daar ’n walvis (trok) voor jou is, dit maak alles makliker! ’n Ander ding is die taal. Viëtnamees is baie moeilik om te leer, maar ons neem klasse, so daar is hoop!

En en Reinardt op reis in Indië. Voor die Taj Mahal.

En en Reinardt op reis in Indië. Voor die Taj Mahal.

Wat mis jy van SA?
My familie en vriende natuurlik, maar gelukkig maak Whatsapp en Facebook dit baie maklik om daagliks hallo te sê of net ’n foto te stuur. Ek probeer so een keer ’n jaar teruggaan om al die stories in te haal, my ma se lekker kos te eet en met die honde te gaan stap.  Goed wat ek daagliks mis, is die reuke van die bos en ’n kampvuur. Ek mis ook Pretoria se lekker donderstorms, vars kruie, ’n yskoue Castle draught en goedkoop wyn.

In Krabi, Thailand, het ons op 'n olifant gery.

In Krabi, Thailand, het ons op ‘n olifant gery.

Het jy nog bande met SA en sal jy ooit terugkom?
Ek is nog in kontak met al my vriende en familie. Dis partykeer moeilik met die 5 ure tydsverskil, maar ek weet nou al wanneer ek middagete eet, dan word die familie wakker. Daarom verwag ek altyd ’n boodskap so net ná 12 in die middag.

Suid-Afrika sal altyd my huis wees. Op die oomblik jeuk my alie nog te veel om te kan sê of ons ooit sal teruggaan. Dalk wanneer daar eendag ’n klein lyfie is met pienk voetjies, wie weet . . .

Links na regs: My ma, Magda Terry, ekke en 'n vriendin op Rabbit Beach in Kambodja.

Links na regs: My ma, Magda Terry, ekke en ‘n vriendin op Rabbit Beach in Kambodja.