sr0703kuberkuier01
Reise

E-pos uit Aboe Dhabi, Verenigde Arabiese Emirate

HOE HET JULLE DAAR BELAND? Fanie doen sake met die weermag hier. Aboe Dhabi is die hoofstad van die VAE. Daar is 7 emirate – Aboe Dhabi, Doebai, Sjarja, Ras al-Chaima, Ajman, Oemm al-Kaiwain en Foedjairah.

VERTEL VAN JOU GESIN? Ons twee dogters woon ongelukkig nie by ons nie. Die oudste, Leoni (24), is getroud en woon in Pretoria. Yolandé (21) was vir 9 maande lugwaardin by Qatar Airways, wat vanuit die Midde-Ooste vlieg. Sy gaan vanjaar voort met haar studies. Jean-Pierre (27), ’n ingenieur wat vir Fanie werk, woon by ons, so ons is darem nie heeltemal kinderloos nie.

HOE LYK ABOE DHABI? Dis ’n groot stad met pragtige geboue en tuine – dit voel glad nie soos woestyn nie! Ons het stad, see én woestyn. Verlede jaar het ons die 35ste bestaansjaar van die stad gevier. Die mense hier het baie bereik in dié 35 jaar. Dis werklik ’n verhaal van rags to riches. Besoekers staan sprakeloos voor die ongelooflike ontwikkeling van dié plek. Die infrastruktuur is uitstekend en alles is groter en beter.

KULTUURVERSKILLE? Aangesien dit ’n Moslemland is, verskil die kultuur drasties van dit waaraan ons gewoond is. Hier is baie verskillende nasionaliteite en gelowe. Wat opvallend is, is die vreedsaamheid waarmee almal saamleef. Hier heers ’n “leef en laat leef ”-filosofie. Geen gebruike word afgedwing nie. Inteendeel, van die supermarkte het inderdaad ’n afdeling met SA produkte en verkoop selfs varkvleisprodukte. Islam is die nasionale godsdiens en hier is besonder baie moskees. Hier is ook baie Christene in die VAE en ons kerkdienste is op ’n Vrydag. Naweke bestaan net uit Vrydae en Saterdae – Sondag is die eerste werkdag van die week. In die middag van ongeveer tweeuur tot vieruur is al die winkels toe. Hierdie mense lééf in die aand. Sommige winkelsentrums en straatwinkels is tot elfuur en selfs later oop.

HOE IS DIE WEER?
Tussen November en Maart is die temperatuur matig. Soms is dit amper koud. Die gemiddelde dag temperatuur is 26 °C en saans 15 °C. Maar die humiditeit is baie hoog in die somer (tussen Junie en Augustus). Die temperatuur styg dan gereeld tot 45 °C, en dan is die meeste mense bedags binnenshuis.

BESKRYF DIE KOS EN DIE MENSE SE KLEREDRAG? Met soveel nasionaliteite is hier uiteraard ook baie verskillende kossoorte. En restaurante waar enige gereg denkbaar bestel kan word. Westerlinge dra gewone klere. Die Arabiese vroue is heeltemal bedek en dra almal lang swart rokke (abajas). Die mans se “rokke”, wat ’n disjdasja genoem word, is wit.

WAT DOEN JULLE VIR ONTSPANNING? In die winter gaan ons woestyn toe. Hier is baie om te sien. Ons maak vroegoggend ontbyt en wag vir die sonsopkoms, wat gewoonlik iets besonders is. Dan word daar met die 4×4’s tussen die duine gespeel. Andersins stap, swem en gym ons gereeld. Die locals kuier vreeslik graag saammet hul families in een van die baie goedversorgde parke. Hier is ook baie gholfbane en verskeie ander sportsoorte word gereeld beoefen.

PLANNE OM TERUG TE KOM?
Ons bly vir nou nog lekker!