Reise

E-pos uit Accra, Ghana

VERTEL MEER VAN GHANA. Dis in Wes-Afrika en die hoofstad is Accra. Polities en ekonomies is dit een van die mees stabiele lande in Afrika. Dit het al bekendes soos Kofi Annan (oud-sekretaris-generaal van die VN) en Kwame Nkrumah (invloedryke Pan-Afrikanis) opgelewer en 74% van die volwassenes is geletterd – besonder hoog vir Afrika. Hier in die trope is nie die gewone vier seisoene nie, maar twee droë seisoene en twee nat. Dis dwarsdeur die jaar baie warm met temperature in die hoë dertigs. Tussen Desember en Februarie is die harmataan-tydperk wanneer die woestynwinde soveel stof van die Sahara-woestyn hierheen waai dat ons soms nie die son kan sien nie. Kakao, koffie en katoen word uitgevoer en die land is geseën met heelwat goud.

HOE HET JY DAAR BELAND? My man, Pieter, is hier verbonde aan die SA hoë-kommissariaat en ons is in Junie 2004 hierheen verplaas. Ons kinders, Jan (18) en Yolandi (16), gaan hier skool. Hier woon heelparty Suid-Afrikaners – sakelui en mense wat verbonde is aan mynmaatskappye, kontrakwerkers en sake-konsultante.

WAARMEE HOU JY JOUSELF BESIG? Ek is ’n opvoedkundige sielkundige, maar werk tans nie. Ek’s besig met ’n doktorale proefskrif oor kinders wat in derdewêreldlande woon, en ek’s betrokke by ’n SA vroueklub en liefdadigheidswerk. Ons onthaal gereeld aan huis. Dis moeilik om te reis in Ghana weens die swak paaie en druk verkeer, asook die risiko om malaria op te doen.

HOE BEHANDEL PLAASLIKE MENSE BUITELANDERS?
Hulle is gasvry, eerbiedig en vredeliewend. Ek het heelparty plaaslike vriende. Ons is altyd gewilde gaste, want hulle wil òf inligting oor SA hê òf hul kennis en ervaring van SA met ons deel!

VERTEL MEER VAN DIE KULTUUR.
Die meer as 60 verskillende etniese groepe het elk hul eie tradisies, kultuur, kuns, musiek, kleredrag en waardes. Ghana is bekend vir sy geweefde kentemateriaal. Dit word sommer so onder ’n boom geweef en met ’n ou naaimasjien aanmekaar gewerk.

EN GELOOF? Ongeveer 70% van die bevolking is Christene en 15% Moslems. Godsdiens speel ’n baie belangrike rol in die daaglikse lewe van Ghanese. Die name van alle besighede/taxi’s/busse vertoon die eienaar se persoonlike godsdienstige credo. Só koop jy byvoorbeeld brood by die “Only God Knows Provisions and Cosmetics” of eet by “Jesus never fails chop bar”, ry in ’n “God is Able”-taxi of “Clap for Jesus”-bus.

WAT EET DIE MENSE?
Kenke is baie gewild. Dis ’n suur pap wat in piesangblare toegedraai word en bedags in glaskaste vertoon word as wegneemetes. Saans kan jy ’n bokvleis- kebab koop by verkopertjies wat oral langs die strate ’n vuurtjie maak en hul kebabs braai.

WATTER TAAL PRAAT HULLE? Daar is 52 verskillende taalgroepe in Ghana en honderde dialekte, maar die voertaal in Accra is Engels. Daar is interessante uitdrukkings soos “my ear is blind” (ek hoor jou nie), “the gas is dead” (die gas is op), “my pocket does not reach” (ek het nie geld nie), “the road is choked” (verkeersknoop).

HET JULLE PLANNE OM TERUG TE KOM?
Ja! Ons termyn verstryk teen 2008 en dan keer ons terug na Suid-Afrika.