aug06kuberkuier1a
Reise

E-pos uit Beijing, China

WAAR KOM JULLE VANDAAN? Oorspronklik van die Oos-Rand. Bertus is betrokke by gesondheidsorg. Ons was in Windhoek toe Beijing ter sprake kom. Eers was dit ’n grap, maar twee weke later was ons hier vir die finale onderhoud. Bertus bestuur nou ’n aantal klinieke hier.

HOE LYK DIE WÊRELD DAAR? Beijing is plat soos ’n snoekertafel. Geen heuwels nie, net veraf omring deur berge. In die somer word die paaie en snelweë versier met veelkleurige blombakke en groen gras. In die winter is daar plastiekblomme in dié bakke – eie aan Beijing. Die parke is pragtig. Jy sien nie sommer rommel hier nie, maar die lugbesoedeling is vanjaar erg weens die nywerhede en motors. Daagliks word glo 1 500 nuwe motors verkoop. Die verkeer is erg en dit kan ure neem om ’n kort afstand af te lê.

DIE DAAGLIKSE LEWE? Beijing is vol verrassings. Mense wat op hul eie tai-chi oefen in die parke tussen bome, groepe mense wat baldanse doen in die ope lug op die maat van Chinese musiek of koor sing. Oud en jonk kom in die parke bymekaar en sing saam. Hier sien jy ook maklik ’n gesin hul huisraad trek op ’n Chinese driewielfiets, of ’n 12 m lange lamppaal wat per fiets vervoer word.

WAAR WOON JULLE? In ’n kompleks waar net Westerlinge woon. Dis noordoos van Beijing naby die lughawe en die kinders se skool. Ons braai gereeld en het ook gou geleer om met stokkies te eet, die kinders ook. Elke huishouding het ’n ryskoker – die rys hier is heerlik. Die vrugte en groente is wonderlik vars en van uitstekende gehalte. Ons koop dit op die naaste mark. Beijing is oortrek met markte, en inkopies doen is my stokperdjie!

WAT DOEN JY BEDAGS? Ek is ’n skool-ma en nou betrokke by die Britse internasionale skool. En ek loop klas in kookkuns, massering en Chinees.

DIE GROOTSTE FRUSTRASIE? Kommunikasie. Ons het ’n oorlewingswoordeskat vir inkopies, maar ons huishoudster, Ayi, moet tolk as herstelwerk by die huis gedoen moet word. Sy is my regterhand en my oë en ore.

HOE HET JULLE AANGEPAS? Ons bly 20 minute van die stad en maak van ’n motorbestuurder gebruik – dis die manier van doen van Westerse maatskappye. Hoewel ons Chinese rybewyse het, bestuur net Bertus oor naweke. Dan verken ons die stad. Ek bestuur net in die onmiddellike omgewing. Die bestuurkultuur hier is: “Elke man vir homself.” Ons ry graag fiets in die landelike gebied tussen die hutongs (geskiedkundige ou stadslane). In die somer is hier baie meer fietse op die pad.

DIS ’N HOOGS ONTWIKKELDE BESKAWING, MAAR ANDERS. HOE ERVAAR JULLE DIT? Die verskil is geweldig. Die Chinese is verdraagsaam en daar bestaan nie iets soos vergeet en vergewe nie. Hulle wys nooit emosie nie. Dis baie moeilik, veral vir Bertus in die werkplek, maar jy pas aan. Die Chinese is baie familievas, tevrede met min en baie hardwerkend.

JUL TOEKOMSPLANNE? Dis effe vaag. Ons sal sekerlik volgende jaar nog hier wees, waarskynlik in ’n ander land. Ons sal graag meer van China se pragtige geskiedkundige plekke wil sien.