Reise

Marina Wesselowski skryf uit Berlyn, Duitsland

Hoekom daar?
Ons was in 1984 die eerste keer hier en was beïndruk met die stad wat in twee gedeel was. Hier het ek die eerste keer sneeu gesien, ‘n autobahn wat regdeur ‘n woonstelblok gebou is – en natuurlik die muur. Tien jaar later was die muur iets van die verlede. Dit was die natuurlikste keuse, omdat die stad
nuwe moontlikhede gebied het. Berlyn is ook ‘n verdraagsame stad – anything goes.

Ons spot oor Duitsers wat geen sin vir humor het nie en alles volgens die boek doen. Is dit so?
Dis so snaaks dat elke nasie kollektief hul dinge het en doen. Dis baie min dat iemand hier ‘n grappie vertel. En as hulle dit wel doen, verstaan ons dit nie altyd nie. Die Duitsers probeer regtig om alles korrek te doen. Dis wonderlik dat ‘n bus of trein presies om 05:11 of 13:07 vertrek.

Hoe is jul leefwyse daar?
Ons braai as die weer begin mooi word en hou eers op as dit te koud is om buite te kom. Ons geniet die kulturele aktiwiteite hier en het goeie vriende gemaak deur die kinders. Hulle is in die Nelson Mandela State International School. Vir ons is dit belangrik om hard te werk en lekker te kuier.

Jy het nog sterk bande met Afrikaans?
Ek lees en praat steeds Afrikaans. SARIE was nog altyd my gunsteling- Afrikaanse tydskrif. Al my vriendinne wat kom kuier, bring biltong, Mrs Ball’s en Peppermint Crisp, en my SARIE. As ek die tydskrif nie kan kry nie, lees ek dit aanlyn. Maar ek het nou hierdie probleem opgelos deur in te teken. SARIE is my lewenslyn met my land en sy mense.

Jou twee dogtertjies is in Duitsland gebore, maar praat suiwer Afrikaans?
Dit was vanselfsprekend om my moedertaal met my kinders te praat. Hulle moet ook met hul niggies, nefies en ouma Afrikaans kan praat. Achim (my man) praat net Engels met die kinders en ek altyd Afrikaans. Duits is hul “oorlewingstaal”. Ons huistaal is ‘n bietjie deurmekaar, maar dit werk.

Julle versprei die SA velsorgreeks Environ. Was dit moeilik om die produk bekend te stel?
In die begin was ons begroting maar skraps en die bedryf was verras oor ‘n produk wat uit Afrika kom. Destyds het niemand oor vitamien A, antioksidante en vry radikale gepraat nie. Ons het 15 jaar gelede begin en vandag het ons 25 werknemers. Ons versprei aan uitsoek- plastiese chirurge, dermatoloë en meer as 1 000 skoonheidsalonne in Duitsland.

Raak die ekonomiese resessie julle?
Duitsland is amptelik in ‘n resessie. Gelukkig is skoonheidsmiddels een van die laaste dinge waarop ‘n vrou sal besnoei.

Reis julle baie?
Soveel moontlik. Ons was onlangs in Oostenryk om te ski en beplan om die Europese somer in Kanada te wees. Skiathos is ons gunsteling- Griekse eiland. Natuurlik wil ons Kersfees by die huis (Suid-Afrika) wees, soos die afgelope 15 jaar.

Die lekkerste van jul lewe daar?
Die kulturele blootstelling, vryheid, veiligheid en die feit dat openbare vervoer betyds is.

Wat mis julle van SA?
Die mense, die natuur, die wonderlike lewenswyse, familie, vriende en ons geliefde Tafelberg. Enigeen wat al iewers anders gewoon het, sal met my saamstem Kaapstad is die mooiste plek in die wêreld. Ek huil as ons land en ek huil as ons opstyg. Achim mis sy branderplankry en die kinders hul ouma.

  • Ingrid du Preez

    Achim! Dit is SO goed om jou weer te sien, na al hierdie jare! Jy het sowaar ‘n PRAGTIGE vrou, en twee ‘adorable’ en pragtige dogtertjies!