aug07kuberkuier1a
Reise

E-pos uit Brisbane, Australië

HOE HET DIT GEKOM DAT JULLE IN KANGAROE-WÊRELD WOON? Ek het in 2005 ’n aanbod van ’n Australiese universiteit aanvaar om my twee meestersgrade in Perth te doen. Ná twee jaar se voltydse studies het ek en my man, Carl, besluit om in Australië te bly. Ons het van Perth (in die weste) na Brisbane (indie ooste) met ons motor gery. Dié verkenningstog van 7 000 km het ons twee weke geneem. Ons het sommer gestop waar ons wou en gekamp onder bome, visgevang of geswem, en soms in hotelle geslaap. Hierna het ons ons in Brisbane gevestig.

WAT PRESIES DOEN JULLE NOU? Ek werk by ’n maatskappy wat sagteware vervaardig en Carl in buitelandse handel en risikobestuur.

IS DIT NET JY EN HY DAAR? Dis net ons twee in Brisbane, maar my ouers woon in Perth, waar ons ook vroeër tydens my studiejare gebly het. Brisbane is baie soortgelyk aan die KwaZulu-Natalse kusgebiede met sy rustige gevoel en alles wat ’n mens in, op en om die see en strand kan doen.

HOOR ’N MENS GEREELD AFRIKAANS OP STRAAT? In Perth loop ’n mens gereeld Suid-Afrikaners raak, maar ons het nog geen Afrikaans in Brisbane se strate gehoor nie. Behalwe natuurlik by rugbywedstryde!

MENSE EET DAAR GLO KANGAROE-STEAKS! Ja, ons eet dit graag as ’n alternatief vir gewone steak en geniet dit baie! Dit bevat baie proteïene, min vet en het baie dieselfde tekstuur en voorkoms as volstruisvleis. Dis boonop baie bekostigbaar.

HERINNER DIE LAND BAIE AAN SA? Dit herinner my aan die jare tagtig toe ek as laerskoolmeisie stoksielalleen in die oggend kon gaan draf.

WATTER INTERESSANTE VAKANSIEDAE VIER JULLE DAAR?
Australia Day word op 26 Januarie gevier. Op hierdie datum, in 1788, het ene kaptein Arthur Phillip formeel besit van die kolonie Nieu-Suid-Wallis geneem en het die land onafhanklik tot stand gekom. Brisbane spesifiek is bekend vir sy kakkerlak-resies, wat elke jaar op Australia Day gehou word. Kakkerlakke word losgelaat op ’n ronde seil en die eerste van die skarrelende goggas wat die rand van die seil bereik (se baas), is die wenner! Sodra die son sak, het elke stad in Australië die indrukwekkendste vuurwerkvertonings, wat op die riviere van bote afgeskiet word.

WAT MAAK AUSTRALIË NÓG INTERESSANT?
Dis algemeen hier vir troeteldiere om saam met vakansie te gaan – per vliegtuig. Die Australiërs is verder baie gesteld op aardverwarming en gesondheid. Oral langs die pad soggens is daar mense wat oefen – fietsryers, drawwers, oefengroepe in parke, rolskaatsers en selfs mense wat op die riviere werk toe roei. Dis algemeen om openbare of ongemotoriseerde vervoer te gebruik eerder as motors.