sr0812kuberkuier01
Reise

Anette en Gareht Stevens skryf uit Casablanca, Marokko

WAAR WOON JULLE? In ‘n buurt genaamd Californie. Ons kyk uit oor die hele stad tot by die Atlantiese Oseaan.

WAT DOEN JULLE DAAR? Gareth werk vir ‘n internasionale koeldrankmaatskappy en reis baie. Ek dien in die oueronderwyser-vereniging. Die kinders, Matthew en Kiera, is in die Casablanca American School. Hulle volg ‘n Amerikaanse leerplan. Dit was vreemd om skielik goed soos Halloween en Thanksgiving te vier.

WAS DIE AANPASSING MOEILIK? Nogal. Die eerste taal is Marokkaanse Arabies, dan Frans. Engels is vyfde of sesde! Die meeste mense vra: “You speak no French?” Ons eerste Kersfees hier was baie erg. Hier was geen versierings in die winkels nie. (Nie eens Boney M nie!) Gelukkig het meer Christen-families die afgelope drie jaar in Casablanca ingetrek en nou kan ‘n mens taamlik maklik Kersversierings kry. Ek moet baie van die bestanddele vir ons Kersete – bosbessies (cranberries) en maalvleis vir pasteitjies – van SA of Engeland invoer. Kersdag se kalkoen kos ‘n fortuin. En dis mos winter, nat en yskoud.

HOE VIER JULLE KERSFEES? Ons probeer ons tradisies behou en vier ‘n Christen-fees. Ons het ‘n Kersboom, speel Kersmusiek, vertel die Kersverhaal en kyk na Kersfees-flieks. Die dag word rustig saam met vriende en familie deurgebring, en ons gesels per rekenaar met die oumas en oupas. Laas Kersfees was ons in Engeland. Die kinders was bang Kersvader mis hulle! Ons moes ‘n briefie, koekies en ‘n bottel water los sodat hy nie kwaad is omdat hulle nie in Marokko is nie.

HOE IS DIE MENSE EN DIE KOS? Vriendelik en mal oor kinders. Met ons aankoms was Matthew nog in sy stootwaentjie. In die winkel het almal hom summier op die mond gesoen. Dit het ure geneem om inkopies te doen. Vrydae ná Moskeetyd eet Moslem-families saam koeskoes. Dit word in ‘n spesiale pot gemaak wat soos ‘n stoompot werk. Die groente en lamsvleis is onder en bo-op stoom die koeskoes. Dit word gegeur met kaneel en komyn. Hier is nie ‘n wegneemetekultuur nie, alles is vars van die mark af.

WAARVAN HOU JY DIE MEESTE VAN JOU LEWE DAAR? Ons lewe geweldig rustig en veilig. Ons wag se werk behels hekke oopmaak, swembad skoonmaak en motors en die hond was. Die skool en werk is naby – ons sit nie ure in verkeer nie. Ons speel en swem saans saam met die kinders voor aandete.

WAT MIS JY? Familie en vriende, en goed soos Marmite, biltong, Mrs Ball’s en Woolworths. As iemand Suid-Afrika toe gaan, moet hulle altyd tydskrifte en biltong bring.

REIS JULLE BAIE? Ons was al in Spanje en Engeland. Dis naby en nogal goedkoop. My gunsteling-plek in Marokko is Marrakesj. Treinvervoer is betroubaar en veilig.

EN DIE LEWENSKOSTE? Verbasend duur. Ons koop klere as ons in SA kuier. Elektriese goed is duur en die keuse beperk. Dit word van Europa ingevoer. Eiendom is geweldig duur, want die Europeërs koop hier naweek en aftree-plekke.

ENIGE INTERESSANTE ERVARINGS? Ramadaan was vanjaar in September. Dit was baie warm en niemand mag tydens die vas bedags water drink nie. Week twee was almal reeds geïrriteed en moeg. Teen week vier waag jy dit nie op die paaie nie – almal leef hul irritasie in die verkeer uit. Gelukkig was alles gou weer normaal nadat die vas gebreek is. Casablanca spog met die derde grootste moskee ter wêreld. Dit het plek vir 25 000 aanbidders en in die binnehof vir nog 80 000. Die gebou is ‘n mengsel: ou-Arabiese invloede met 21ste eeuse geriewe soos verhitte vloere,’n oopskuif-dak en elektriese deure.

SAL JY PERMANENT DAAR KAN WOON? Nee. Dis soms ‘n hartseer bestaan. Ons groet heeltyd vriende wat trek. Maar my kinders speel met maatjies uit Duitsland, Amerika, Egipte, Frankryk en Marokko. Geld kan nie dié blootstelling koop nie.