jul05kuberkuier1b
Reise

E-pos uit Chifeng – Binne-Mongolië

VERTEL VAN DIE LEWE IN CHINA. Die toeters maak jou mal gedurende die etensuur in Chifeng! Dit is dan net fietse, mense en oorlaaide vragfietse, maar daar is verbasend min ongelukke in hierdie “georganiseerde” chaos.

MONGOLIË KLINK OPWINDEND? Chifeng, oftewel Rooiberg, is in Binne-Mongolië (Inner Mongolia). Dis ‘n plattelandse dorpie (in Chinese terme) met die bevolking van Pretoria, maar die grootte van Polokwane. Mense frons as hulle hoor waar ons woon – selfs Chinese! Chifeng is omtrent 350 km noordoos van Beijing. Die klimaat wissel van -25 °C in die winter met sneeu tot droë, bedompige somers wat tot 35 °C kan haal.

HOE HET JULLE OP SO ‘N PLEK BELAND? Ons is een van net twee Suid-Afrikaanse gesinne in Chifeng – en die enigste buitelanders. Ek kom van Springs af en my man, Danie, van Bloemfontein – ons het op Tukkies ontmoet en Pretorianers geword. Twee jaar gelede het Danie se werkgewer betrokke geraak by die sinkmynboubedryf in die noordweste van China.

VERTEL VAN DIE KULTUUR. Dis heeltemal anders, en ’n ongelooflike ervaring. Dis ‘n mengsel van Mongolese en Chinese nalatenskap – ou mense wat heeldag kaartspeel, die vroegoggend Tai chi, die hutong-lewe (courtyard) van die gewone Chinees en Nuwejaarsfeeste. Die beste manier is om met ‘n fietstaxi die agterstraatjies te verken. Op die straatmarkte is groente en vrugte goedkoop en jy ontdek allerhande kossoorte soos gestoomde kluitjies (baozi) en gevulde pannekoeke. Aanvanklik was dit vreemd om in ‘n vuil, modderige agterstraatjie te koop, maar dis só lekker om iets anders te ervaar.

HOE TREK DIE MENSE DAAR AAN? Daar is so baie modegiere – jy kan enigiets aantrek en steeds “in” wees. Pers by geel en oranje by rooi is ‘n ideale mengsel. Die vroue trek netjies aan. Gepunte hoëhakskoene, stylvolle langbroek of jeans met ‘n baadjie, en al hoe meer vroue gebruik grimering. Dit klink dalk snaaks, maar hier is min Westerse invloed.

HOE KOM JULLE OOR DIE WEG MET DIE TAAL? Jy leer gou ‘n paar woorde om kruideniersware te koop, pryse te onderhandel, te tel (hoeveel appels) en kleure van artikels aan te dui. Enigiets is onderhandelbaar. Die Mandaryn-woordeboekie help ook in nood! Én mimiek – veral vir vleis. Die Chinese lag hulle slap as jy ‘n vark of skaap in ‘n vol supermark namaak. Eers het ons self brood gebak, want Chinese brood smaak soos koek. Gelukkig het ons ‘n markie ontdek wat souterige witbrood verkoop. Hier is min Westerse produkte. Elke maand reis ons met ‘n klein tassie en koelsak op ‘n oornag-trein na Beijing om kaas, spek, room en pasta te koop.

VERTEL VAN DIE TRADISIES. Iets spesiaals is die tradisionele Mongolese banket. Etes is sosiale gebeurtenisse. Jou glasie word deurentyd gevul met maotai (Chinese witblits). Met heildronke ganbei jy heeltyd jou glasie (dit beteken letterlik dry cup of bottoms up). Musikante in kleurryke drag tree op en Mongolese liedjies gaan gepaard met ‘n witserp-seremonie waartydens jy twee glasies maotai op ‘n spesiale manier moet drink. Aan die einde van die ritueel word ‘n wit syserp om jou nek gehang om jou as gas te eer. Jy drink die heeltyd, maar dis Chinese gasvryheid!

KRY JULLE KANS OM TE REIS? Verder noord is dit baie meer primitief. ‘n Hoogtepunt was ‘n besoek aan die pragtige kort graslande wat die berge en vlaktes bedek, die tipiese skaaptroppe wat deur ‘n skaapwagter opgepas word en groepies hutte (yurts) in halfsirkels. Asemrowend! ‘n Ander hoogtepunt was ‘n besoek aan die Harbin-ysfees. Mongolese kos val meer in ons kraal – baie vleisdisse met groente. In die suide het ek twee keer onwetend hond en brulpadda geëet! Maar die idee is erger as die smaak. Hulle het ons eerste braaipoging letterlik met water geblus. Met die tweede probeerslag het ons die regte kanale gebruik om toestemming te kry. Ons is Rooiberg toe met ons klein Webertjie en het geskiedenis gemaak! Net pap en sous het gekort. ‘n Mens mis jou vriende en familie hier, maar die vars  kultuurervarings maak dit die moeite werd.

WANNEER KOM JULLE TERUG? Teen einde Augustus sal Danie se plaasvervanger waarskynlik hier wees en dan is ons op pad terug Suid-Afrika toe!