Reise

E-pos uit die Karibiese eilande

HOE HET JY OP ’N SKIP MET ’N STETOSKOOP OM DIE NEK BELAND? Deur ’n skeepsagent, en my juweel-vrou het ja gesê.

KOM KUIER SY DAREM? Drywende hotels val nie in almal se smaak nie. Sy verveel haar dood op die skip. Miskien sal ’n 4×4 met spogwiele haar genoegsaam vergoed! Ons het ’n 600 jaar oue kliphuis op ’n kleinhoewe op die Franse platteland naby Bourgogne opgeknap en Rosalie het die meeste van die boubestuur self behartig. Sy soek nou ’n tweede huis om op te knap.

HOE IS DIE LEWE OP DIE SKIP?
Die lewe op die Princess of the Seas is nes ’n mens gedink het dit sal wees – en heeltemal anders. Van die 850 bemanningslede is 33 Suid-Afrikaners. Daar’s 60 nasionaliteite. Die 2 600 passasiers is meestal Amerikaners.

WATTER ROETE VOLG DIE SKIP? Daar is twee kort vaarte per week, gewoonlik tussen Los Angeles en Ensenada (Mexiko).

JOU GUNSTELING-AFKLIMPLEKKE? San Diego is eerste, en dan Santa Catalina-eiland.

WATTER TAAL PRAAT JULLE? Afrikaans kry ons gereeld in die moeilikheid! Die pasiënte dink ons skinder van hulle (dalk is dit soms waar), maar ons dokter almal mooi reg. My kollega is ook oorspronklik van die Kaap. Ons is albei algemene praktisyns met heelwat noodgeneeskunde-ervaring. Die susters in die hoësorg-eenheid is ons steunpilare – ook albei Suid-Afrikaners.

WATTER SOORT KRISISSE KRY JY AAN BOORD? Die man dink dis net ’n wind, maar die EKG jok nie. Soos vele ander kwale op die skip is dit iets wat lankal aankom, maar geïgnoreer is. Vieruur die oggend kom die helikopter hom oppik en voor sonop hoor ons hy sit al regop en eet. Sy hartaanval is darem reeds hier gekeer. Helikopters kom haal pasiënte aan boord omdat die skip nie alle hawens aandoen nie.

VIR WATTER SIEKTES IS JULLE DIE BANGSTE? ’n Maaggriep-epidemie. Dit vereis nie mediese wonderwerke nie, maar as dit rugbaar word, verloor ’n skip geweldig kliënte. Streng isolasiemaatreëls geld.

WAT IS TABOE OP DIE SKIP? Drank en dwelms sorg beslis vir trekpasse – al is jy van diens af. Heul met die gaste en jy kan ook maar jou tassie pak.

WOON JY DAREM GERIEFLIK? Ek het ’n slaapkamertjie, ’n badkamer met ’n bad en ’n sitkamertjie met ’n TV. Die gaste se hyser en jacuzzi is verbode, maar die res is my beskore – mits ek uniform dra. Die kajuite van laer range is beknop – tot vier deel ’n kajuit vir agt maande lank. Hulle werk soms tot 12-uur-skofte.

EET JY SAANS SAAM MET DIE KAPTEIN?
Die kaptein se tafel is nie meer so eksklusief nie, want daar is twee eetsale. Daar is ook allerhande vertonings, asook verskeie gaskunstenaars wat vir ’n naweek of drie saamseil.

WAT DOEN JY VIR ONTSPANNING?
Ek leer die salsa dans! Aand ná aand. En die gimnasium is puik (maar die kos is gans te lekker).