Reise

E-pos uit Eden, Utah, VSA

HOE HET JULLE DAAR BELAND? My man, Johan, het nog altyd van Amerika gedroom. Ná ’n kuiertjie by vorige bure van ons het ons in 1986 vir drie jaar gekom. Maar die land en sy gasvrye mense hóú ons nou hier. Toe Johan vier jaar gelede Utah toe verplaas is, het die gedagte aan Mormoon-wêreld my effe afgeskrik, maar toe sien ek Eden. Dit was winter. Die berge en vallei was toegewikkel in ’n digte sneeukombers.

DIT KLINK SOOS ’N SPROKIESLAND. Elke winter kom ’n moose (’n Amerikaanse eland) drie weke lank reg oorkant ons huis by die 15de putjie op die gholfbaan uitkamp. Bokke, eekhorinkies en ’n groot verskeidenheid voëls kom gereeld peusel. As die sneeu te diep bo in die berge raak, kom ’n elk-kudde kuier. Arende sirkel bo in die ysige, diepblou lug en dis pret om al die watervoëls te fotografeer. In die omliggende berge is drie ski-oorde, waarvan Snowbasin die bekendste is. Die 2000 Winter Olimpiese Spele is daar gehou en het nuwe intrekkers van oor die wêreld gebring. Dis ’n wintersportparadys. Om die vallei se dam en in die omliggende berge is talle stap-, fiets- en perdryroetes. Ek vang ook die hele jaar vis.

HOE KOM ’N MENS OP EDEN?
Salt Lake City, die hoofstad van Utah, en die lughawe is ’n uur se ry van ons af. Die Ogdenvallei is baie afgesonder van die buitewêreld. Die gewildste pad om hier te kom, is Trappers Loop – ’n pragtige bergpad, spesiaal gebou vir die Olimpiese Spele. Utah se klimaat is soos Gauteng s’n – min reën, droë hitte en pragtige sonsondergange. Wanneer stortrëen die droogte breek, is ek terug in die ou Transvaal!

VERTEL VAN DIE MENSE EN WAT JULLE DOEN?
Sowat 8 000 inwoners woon op die drie dorpies in die Ogdenvallei en hier is volop perde- en skaapplase. Eden het ’n supermark, poskantoor, bank en vulstasie. Almal hier ken mekaar se name en is vriende – van die skoonmakers tot die vuurpylwetenskaplikes. As iemand trou of iets vier, is almal genooi. Op die klein dorpies is die mans in hul vrye tyd vrywilligers by die plaaslike brandweer. Ouers rig self basketbal-, voetbal- en sokkerspanne af. Ander neem weer ’n straat aan en sorg dat dit skoon bly.

HOE MOES JULLE JUL TAAL AANPAS?
Ons uitspraak het al vir snaakse situasies gesorg. Jy begin by “gress” vir “grass” en “gless” vir “glass”. ’n Mens “post” nie ’n brief nie, jy “mail” dit en “making out” beteken nie ’n paartjie gaan uitmekaar nie – hulle vry!

FAMILIE EN VRIENDE? Dis nie maklik sonder jou vriende en familie nie. Jy moet van vooraf ’n netwerk opbou. Twintig jaar verander babas in tieners, tieners is getroud en het hul eie babas. Gelukkig kom my ma baie gereeld kuier – sommer vir drie maande op ’n slag.