Reise

E-pos uit Fort Lauderdale, Florida

VAN WAAR, GEHASI? Ek’s ’n boerseun van Citrusdal. Ná matriek was ek ’n Rotariër-uitruilstudent in Lake Havasu City, Arizona. Daarna het ek B.A. aan die Universiteit van Kaapstad en toe Honneurs in joernalistiek op Stellenbosch geswot. Toe het ek twee jaar diensplig as regisseur by die video-eenheid van die SA Vloot op Simonstad gedoen.

HOE HET JY IN FORT LAUDERDALE BELAND? Ek het twee jaar gespaar terwyl ek in ’n Kaapse restaurant gewerk het. My broer, Albert, werk by SAA en ek kon goedkoop vlieg! Einde 1992 het ek ’n gesin in Hongkong ontmoet (’n Britse egpaar van Suid-Amerika) met wie ek die volgende 11 jaar die wêreld vol saam getoer het. Ek het hulle o.m. gehelp om eiendomme in Kaapstad te koop, hul kinders vakansietye in Engeland rond te karwei, ens. ’n Lewenstyl wat min plaasseuns beskore is! Ek mis dit geweldig. Dinge het in Julie 2003 verander toe ek my Groen Kaart vir Amerika in die lotery gewen het. ‘n Mens moet binne ses maande soontoe trek, anders verbeur jy dit. Gelukkig kon ek in Fort Lauderdale by my suster, Alida, intrek. Ek het op 1 Januarie 2004 met my nuwe paspoort hier aangekom om my nuwe lewe te begin.

WATSE WERK DOEN JY? Sedert Maart 2004 werk ek by Barnes & Noble Booksellers, een van die grootste boekwinkelkettings in Amerika. Die betaling is nie waffers nie, maar die grootste enkele voordeel is mediese versekering, wat hier omtrent hoër geag word as jou salaris self! Mediese behandeling is angswekkend duur.

VERTEL MEER VAN JOU OMGEWING? Ek en my sussie woon in ’n klein “dorpie”, Dania, vyf minute suid van Fort Lauderdale-lughawe. Fort Lauderdale is rustiger as Miami, 26 myl verder suid. Dit word die Venesië van Amerika genoem vanweë die baie seiljagte en passasierskepe. Van die wêreld se grootste passasierskepe, bv. die nuwe Queen Elizabeth II, beskou Fort Lauderdale as hul basis. Baie Suid-Afrikaners (na raming 10 000) werk op die seiljagte en verwante bedrywe. Omdat so baie skepe in die Bahamas of ander lande geregistreer is, hoef die bemanning nie Groen Kaarte te hê om op hulle te werk nie.

EN DIE WEER? Die somer was ’n nagmerrie! Vier orkane het binne ses weke oor die staat geploeg. Ons moes byna elke uur van elke dag die storms sien nader kom op TV, of oor die radio hoor hoe vinnig die orkaan beweeg, waar dit die land gaan tref, ens. Die hele staat was later orkaan-voos … nog vóór die storm ons getref het!

ANDER SUID-AFRIKANERS DAAR?
Vir baie Suid-Afrikaners wat ’n kuierplek soek wanneer hulle huis toe verlang, is daar die oulikste kroeg, die Kalahari Bar. Die eienaars, Hal en Dee, is Weskus-mense. Daar’s o.m. tuisgemaakte droëwors te koop, benewens Suid-Afrikaanse drank.

ENIGE AANPASSINGS? Mense se afsydigheid. Daar is geen belangstelling in jou herkoms nie, en geen sosiale interaksie ná werk nie. Hulle weet bitter min van ander lande, en nog minder van Suid-Afrika. Baie ontvlug van hul probleme in die kouer state en kom woon hier net vir die warmer weer en minder belasting. Hoe ook al, dit het vir my gevoel asof ek gevonnis is tot eensame afsondering. Die intimiteit en warmte van ons Suid-Afrikaners bestaan nie hier nie. Daar is darem kroeë waar mense kuier, maar ek drink nie, en op my salaris sal dit maar sukkel om baie uit te gaan.

IETS VAN JOU NUWE LANDGENOTE GELEER? Dat mens omtrent álles self moet kan doen, want om enige hulp te kry kos net te veel.

REISHOOGTEPUNTE? Die asemrowende Angkor Wat-tempelkompleks in Kambodja. Hanoi. Viëtnam. Om vir Kevin Costner op Paaseiland raak te loop. Die pragtige eiland Bora-Bora in Polinesië. Die suide van Chili. Hawaii. Alaska. Nieu-Seeland, asook Parys en al die pragtige plekke tussenin.

TOEKOMSPLANNE? Ek gaan vanjaar ’n diplomakursus in toegepaste fotografie by die Art Institute of Fort Lauderdale volg. Aangesien ek ná drie jaar ’n Amerikaanse burger kan word, sal ek beslis hier bly en my bes doen om suksesvol te wees. Ons behou ons SA burgerskap, en sal altyd “huis toe” kom.