Reise

E-pos uit Hilversum, Nederland

HOE HET JULLE DAAR BELAND? Ek en Roeland, my man, het mekaar in 1995 by die destydse PU vir CHO op Potchefstroom ontmoet. Ons is in Januarie 1999 getroud en kort daarna het hy die geleentheid gekry om in Nederland te studeer. Ná sy studies het ons besluit om in die land te bly. Ons woon in Hilversum in die provinsie Noord-Holland. Die meeste TV- en radio-organisasies van die Nederlandse uitsaaibedryf is hier gesetel.

WATTER WERK DOEN JULLE? Ek is ’n persoonlike assistent by ’n finansiële-adviseursonderneming en Roeland is ’n bedryfsbestuurder in die telekommunikasiebedryf.

HOE ONTSPAN JULLE? Hier is fietspaaie van langer as 22 000 km in Nederland, wat ons in die somer verken. Daar is sowat 18 miljoen fietse in Nederland, en 16 miljoen inwoners!

VREEMDE GEBRUIKE? In die omgewing waar ons woon, maak die mense nie hul gordyne toe nie! Mense is ook baie lief daarvoor om pepermente in die kerk te eet en stuur die rolletjie lekkers in die ry op en af.

JY MOES SEKER NEDERLANDS LEER PRAAT? Ja. Roeland is in België gebore en praat Vlaams. Ons spot soms en sê ons praat Afrilands en Nederkaans, want ’n mens is
geneig om Afrikaanse woorde te gebruik wanneer jy nie seker is wat die korrekte Nederlandse woord is nie.

DRA BAIE NOG TRADISIONELE NEDERLANDSE KLERE?
Tradisionele drag was oorspronklik streeksgebonde en hoe meer geïsoleer ’n streek geraak het, hoe langer het hulle
daaraan en aan ander tradisies vasgehou. In 2003 was daar 12 stede en gebiede waar mense nog tradisionele drag gedra het. Dorpe soos Spakenburg, Staphorst en Walcheren is bekend vir die taamlik baie mense wat nog tradisionele drag dra.

WATTER FEESTE WORD NOG GEVIER? Daar is twee groot nasionale feesdae. Een is Koninginnedag, wat al van 1949 op 30 April gevier word – dit was koningin Juliana se
verjaarsdag. Alles is dan oranje. Die tweede is Bevrydingsdag, wat op 5 Mei gevier word. Op dié dag in 1945 is besluit dat Duitse troepe in die land die volgende dag sou oorgee.

WAT MIS JULLE VAN SUID-AFRIKA?
Ons familie.

EN GLAD NIE? Kragonderbrekings, honde wat blaf in die nag en Hoëveldse weerlig.

WAARHEEN SOU JY TOERISTE AANBEVEEL? Daar is meer aan Nederland as Keukenhof of ’n bootvaart op die 165 gragte in Amsterdam.Toeriste kan De Koninklijke Porceleyne Fles in Delft besoek om meer te sien van egte Delftse blou. Die Van Gogh- en Rijksmuseum in Amsterdam is definitief die moeite werd vir kunsliefhebbers. Plekke soos die Anne Frank-huis in Amsterdam, Zuiderzee Museum in Enkhuizen en die Kaasmarkt in Alkmaar is ook ’n besoek werd.

BLYKBAAR TREK JULLE BINNEKORT? Ja, Australië toe. Ons was in 2004 daar met vakansie en toe ons terugkom in Nederland, het dit gevoel ons mis iets.

SAL JULLE TERUGKOM SA TOE?
Ons sal nie sê “nooit” nie, maar nou is daar nie eintlik rede om dit te oorweeg nie.