sr0701internet01
Reise

E-pos uit Janboe Al-Sinaijah, Saoedi-Arabië

BESKRYF ’N TIPIESE DAG. Ek het ’n halfdagpos by ’n Amerikaanse internasionale skool in Janboe Al-Sinaijah – die junior kleuterklas met sewe vierjariges. Saans maak ek kos en val dan op die bed neer. Die klas kan ’n handvol wees. Ek help ook die dogter van ons Egiptiese bure met haar Engels. Ek en my man, Danie, wat sedert 1999 by ’n petrochemiese aanleg werk, het deur ’n internetgeselskamer ontmoet en ek het hierheen verhuis.

HOE ERVAAR JULLE DIE KULTUUR WAT SO ANDERS IS? Ons bly lekker, maar om nie te mag bestuur nie, beperk my bewegings. Al woon ons by die Rooisee, het ons nog net een keer geswem. Vroue mag nie sonder hul abaja (’n ligte, swart jas) in die see swem nie, tensy jy op ’n private strand is. Jy mag ook nie jou geloof hier uitleef nie en hier is geen Engelse Christelike kerk nie.

VERTEL VAN JANBOE AL-SINAIJAH EN SAOEDI-ARABIË. Janboe is die ontwikkelingsbrandpunt van die noordwestelike kusstreek. Woestyngrond is ontwikkel in woon- en nywerheidsgebiede. Saoedi beskik oor 25% van alle ru-olie ter wêreld. Hier is dit veilig om snags langs die see piekniek te hou.

HOE WORD VROUE DEUR MANS BEHANDEL? Westerse vroueregte bestaan nie hier nie. Vroue is minderwaardig, mag nie werk nie en word wetlik verplig om “kuis” geklee te wees deur ’n abaja en ’n serp om die kop te dra. (Dis ’n “baie warm” onderwerp!) Omdat ek nét ’n abaja dra, word ek aangestaar. Vroueklerewinkels het nie aantrekhokkies nie, mans wel. Mans rook graag die sjisa-pyp (brandende geurige blare wat deur water gesuig word), maar vroue mag nie.

HOE WORD WESTERLINGE BEHANDEL? Ons is nog nie sleg behandel nie, maar daar is ’n mate van antagonisme teenoor die Weste (lees “Amerika”) weens die gebeure in die Midde-Ooste. Westerlinge ontlok soms negatiewe kommentaar omdat ons verwar word met Americano’s. Ons het dus Suid-Afrikaanse sleutelhouers en -plakkers agterop rugsakke, selfone en ons motor. Veral Amerika word as ’n verrottende invloed uitgekryt, maar snaaks genoeg word die Amerikaanse kultuur verslawend aangehang.

HOE LYK DIE LAND? Ons bly in die woestynagtige weskus. Hier is min plantegroei. Die boere se water word aangery. Hier is geen windpompe, boorgate en damme nie. Die kleur van die Rooisee is ’n besonderse diep blougroen. Dit lyk eerder soos ’n dam, want daar breek geen branders nie. Dit bied van die beste skubaduik-geleenthede ter wêreld. Die huise het vierkantige platdakke met hoë mure vir privaatheid. Heinings en tuinhekke het die mooiste dekoratiewe krul-ontwerpe. Die paaie is ’n plesier om te gebruik.

BRAAI JULLE SOMS VLEIS?
Ons braai op ’n piepklein roostertjie op ons balkon of langs die see. Vleis is peperduur en die gehalte is swak. Die Saoedi’s braai ook baie, maar hulle het nie dieselfde gebruike as ons nie. Die tjops lyk asof dit met ’n byl uitmekaargekap is.

PLANNE OM TERUG TE KOM?
Ons wil Saoedi-Arabië oor ’n paar maande groet. Ons is albei oorspronklik van Bloemfontein en verlang baie.

SUKKEL JY OM JOU SARIE DEUR DIE POS TE KRY?
Leesstof uit die buiteland kom nie maklik ongeskonde deur die doeane nie. Enige onbedekte deel van ’n vrou word toegekrap. Blaaie word uitgeskeur en die tydskrif kan selfs vernietig word.