jul06kuberkuier1
Reise

E-pos uit Kaïro, Egipte

IS DIT LEKKER DAAR? Jy vra nog! Van die sewe wonders van die Antieke Wêreld is die groot piramide van Choefoe (Cheops) die oudste. Dis gebou op die Giza-plato net buite Kaïro. Al het mense min kennis van Egipte, weet almal van Choefoe se horison. Almal leer op skool van die Nyl en hier sit ek in die land waar ek elke dag die Nyl kan sien! Dis ’n voorreg om hier te woon – die Nyl, die piramides en die geskiedenis wat daarmee gepaard gaan, is ongelooflik. Naweke sit ons op die groen strook langs die rivier en eet in ’n restaurant. Op ’n helder dag kan jy die groot piramides by Cheops sien – dis so 20 minute van Maadi af. Jy leef aldag met die besef van waar jy is.

WAAR PRESIES WOON JULLE?
Maadi is aan die suidelike buitewyke van Kaïro op die wal van die Nyl. Dis ook waar die meeste buitelanders woon – Amerikaners, Britte, Franse en ’n handjie vol Suid-Afrikaners. Die voertaal is Engels. Een keer per maand eet ons melktert en sjokoladekoek, drink rooibostee en praat Afrikaans. Hier ken almal mekaar en voel jy nooit alleen nie. Dis pragtig groen hier met hoë palms en bome. En jy moet maar met die stofstorms saamleef. Die somers – Junie tot Augustus – is baie warm, maar dan gaan ek terug Pretoria toe waar ons nog ’n huis het. Die skoolvakansies duur twee en ’n half maande. Die Amerikaanse skool is twee minute se stap van ons huis af.

IS KAÏRO REGTIG SO GROOT EN RASERIG?
Kaïro ís ’n besige stad met 17 miljoen mense. Dis tegelyk ryk en modern en baie arm en vol antieke geskiedenis. Maar die mense help mekaar en families is heg. Dié wat arm is, glimlag nietemin altyd. Ja, daar loop donkies in die strate en bokke eet die gras op die sypaadjies, maar dis baie veilig hier.

HOE HET JULLE BY DIE SPREEKWOORDELIKE VLEISPOTTE VAN EGIPTE BELAND? Friederich werk vir ’n Duitse maatskappy wat motors vir die Afrika-mark vervaardig. Vóór Egipte was ons in Amerika, waar Simone (12) gebore is.

WAT MIS JY DIE MEESTE? Mrs Ball’s en ons rooiwyn, niks kom by ons wyn nie! Kuiergaste bring altyd wyn saam. Ai, en Woollies se koeksisters en ystervarkies … Maar ek speel tot vier keer per week gholf. Hier is die mooiste gholfbane en ek het onder andere al Retief Goosen by ons gholfklub, Kattamiea, ontmoet. Soggens is ons in die gimnasium.

DIE LEKKERSTE DAAR?
Die Rooisee. Dis die beste plek in die wêreld om te duik, met die mooiste visse. Dis heerlik om soontoe te gaan vir ’n naweek. Dis so 1 uur se vlieg of 5 uur se ry van ons af. Ons is juis môre op pad Sjarm el-Sjeik toe. Die spreekwoord lui hier: As jy een keer van die Nyl se water gedrink het, kom jy altyd weer terug. Mense wat wegtrek, verlang bitterlik na Egipte. Miskien is dít wat die Israeliete van ouds oorgekom het!