jul08kuberkuier1a
Reise

E-pos uit Korcula-eiland, Kroasië

HOE BELAND MENS OP SÓ ’N EILAND? In Mei 2003 het ek en my man, Kobus, in Kroasië vakansie gehou. Ná drie weke se kuier al langs die asemrowende mooi kuslyn van Korcula-eiland het ons besluit om later weer terug te keer. Ná talle besoeke het ons in Desember 2006 ’n woonstel hier bekom. Ons woon in ’n klein dorpie, Prigradica.

WAT DOEN JULLE? Ons hou eintlik maar nog vakansie sedert ons in September 2007 hier woon. Kobus kyk uit vir werkgeleenthede aangesien hy gelukkig was om ’n sakevisum te kry. Ek het ’n langtermyn-besoekersvisum en mag nie ’n inkomste hier verdien nie. Ek het in elk geval reeds afgetree, maar sal Kobus bystaan wanneer hy met sy besigheid begin.

BESKRYF DIE KULTUUR? Die mense hier is tipies Europees en jy kan die Duitse, Italiaanse en Oostenrykse invloede duidelik sien. Die manne hier is ernstige vissers en die vroue werk in die plaaslike supermarkte en klein winkeltjies. Die werkure is van 8 vm. tot 12 nm. en dan weer van 5 nm. tot 8 nm. Alles sluit om 12 nm. wanneer die hoofmaal van die dag geëet word. Daarna rus hulle of werk in die olyfboorde en wingerde. Ja, ons drink baie lekker wyn op die eiland! Die olyfolie is ook eersteklas – die mense oes self hul olywe. Ons het ook al die plaaslike inwoners bietjie uitgehelp hiermee – dis baie harde werk. Hulle is baie geduldig en hou daarvan as ons hulle in hul eie taal met dorba dan (goeie dag) groet.

WAT MIS JY VAN SA? SARIE! Hier is natuurlik geen Afrikaanse tydskrifte nie. Die meeste is in Kroasies en ’n paar in Engels en Duits.

HOE ONTSPAN JULLE? Ons gaan na Blato, die naaste dorpie. Daar is die straatjies nou en vol mense wat hul brood, vars produkte en ander benodigdhede koop. Almal ken mekaar, groet en sal kort geselsies maak.

WAT EET HULLE? Seekos soos seekat en sardyne is gewild omdat die mans meestal vissers is. Hulle eet ook baie brood – dis nie gesny soos ons dit in SA ken nie, maar in verskillende vorms en teksture. Vye is baie gewild en word in elke huis geëet. Van die ouer vroue maak en verkoop hul eie skaapmelkkaas, maar hiervoor moet jy ’n smaak ontwikkel. Die mense maak ’n eiesoortige ham – die varkboud word opgehang en gerook totdat die vleis so ’n groen omhulsel kry. Dan word die ham baie dun gesny.

WAT IS VREEMD? Calamari wat voorgesit word met die kop, oë, vinne en ink!

EN DIE WEER? Tipiese Europese koue in die winter met reën maar sonder sneeu, behalwe in die noorde van die eiland waar die hoofstad Zagreb geleë is. In Mei begin die somer en dan kry ons van 5 vm. tot ná 9 nm. warm sonskyn.

HOE LANK BEPLAN JULLE OM NOG DAAR TE WOON? As dit moontlik is, vir die res van ons lewe, of dan solank ons visums hou. Ongelukkig kan ons nie aansoek doen om permanente verblyfreg nie, want dit word nie hier toegelaat nie.