Reise

Riaan Bolt skryf uit Leipzig, Duitsland

HOE LANK IS JY AL DAAR EN WAAR WOON JY? Ek studeer reeds drie jaar musiek aan die Felix Mendelssohn Hochschule für Musik und Theater in Leipzig. Ek woon in ’n tipiese Hochhaus uit die laat 19de eeu in ’n rustige, sentrale buurt. Die huis het houtvloere, sierplafonne en pragtige Art Nouveau-deure.

WAAROM LEIPZIG? Die Hochschule is die oudste konservatorium in Duitsland en een van die bestes ter wêreld. My mentor in Suid-Afrika, dr. Lorraine Joubert, het hier studeer en aangesien heelparty van haar studente al in haar voetspore gevolg het, wou ek die tradisie voortsit. Dis een van die min universiteite wat my veelsydige kursus aanbied.

BESKRYF JOU TIPIESE DAG? My week bestaan uit ses werkdae. Ek het baie praktiese vakke en moet baie oefen. Saans maak ek tyd om te gaan stap. Kosmaak is ook heerlike afleiding!

WAT IS DIE MOOISTE EN LEKKERSTE VAN WAAR JY WOON? Ek het skilderye, meubels en dekoratiewe voorwerpe uit Suid-Afrika laat kom toe ek begin studeer het. Dit was nodig om Leipzig “my huis” te maak. Ek kombineer graag ou Kaapse meubels met 20ste eeuse kuns. Dis wonderlik om in ’n land te bly waar historiese geboue bewaar word. Ek geniet dit om oral op my fiets te kan ry of saans deur ’n park te stap. Ek mis my familie en vriende, maar gaan twee keer per jaar huis toe. Ons het daagliks kontak, maar dit bly moeilik. Openbare vervoer is prakties en doeltreffend, maar ek begeer soms die afgesonderde stilte van my eie motor.

IS MUSIEK MEER MEDEDINGEND IN DUITSLAND? Ja, dis straf. Daar is baie briljante en hardwerkende musici uit die Ooste (veral Korea en Japan) wat honger is om hier te studeer. Die arbeidsmark raak moeiliker vir klassieke musici weens die toenemende vermindering van geldelike ondersteuning deur die staat. Orkeste en teaters raak hier, soos in Suid-Afrika en Amerika, afhanklik van ondersteuning deur die private sektor. Maar hier is steeds meer geleenthede vir klassieke beroepsmusici om ’n bestaan te voer.

REIS JY BAIE? Ek verken nuwe plekke in die week tussen Kersfees en Nuwe Jaar. Vakansies is ek meestal in Suid-Afrika.

WAS DIE KOS VIR JOU ‘N AANPASSING? Ek kan die kere dat ek tradisioneel Duits geëet het, op een hand tel! Heeltemal te veel vet en stysel. Ek kook vars, Mediterreens geïnspireerde kos. Ek mis rooivleis.’n Groot, sappige filet kos hier byna dieselfde as ’n klein motor! Gelukkig is SA wyn redelik beskikbaar. Ek mis ook botterskorsies – iets wat ’n mens glad nie hier kry nie.

HET KLASSIEKE MUSIEK NOG ‘N PLEK IN AFRIKA EN ‘N TOEKOMS IN SA? Beslis. Dis nie ’n “Westerse” erfenis nie – dis ’n wêrelderfenis. Ek sien in SA ’n honger vir klassieke musiek en ek het ongelooflike respek vir die talle musici wat ongeag moeilike omstandighede die stryd stry. Dis nie nodig om Mozart met ’n beat te speel om dit verteerbaar te maak nie. Mense het ’n inherente herkenning van briljantheid, en ’n roerende vertolking raak elke mens.

WAT IS DIE GROOTSTE WANOPVATTING OOR JOU SOORT WERK? Ek hoor gereeld: “Oe, maar jy is darem talentvol.” Talent is noodsaaklik, maar jy kan niemand aanstel om vir jou te oefen nie! Jy kan nooit terugsit en sê “ek het gearriveer” nie. ’n Mens se interpretasie van dieselfde werk groei ook soos jy ouer word.