Reise

E-pos uit Llanidloes, Wallis

HOE HET JULLE DAAR BELAND? Ons is drie jaar gelede getroud en het besluit om ’n paar jaar in Londen te gaan skoolhou. Londen was nie lekker nie – ons verkies die platteland. Toe kry Marius ’n rugbykontrak in Wallis en siedaar, nou sit ons al twee en ’n halwe jaar hier op ’n piepklein dorpie met die snaakse naam van Llanidloes. Die Walliesers is ’n besige lot en ons geniet dit baie hier. Só baie dat ons eiendom gekoop het en ons eie huisie gebou het. Wallis sou nooit ’n keuse gewees het as dit nie vir die rugby was nie. Marius speel en rig af by die plaaslike klub en doen baie goed. Ons kry ’n huissubsidie en ’n motor.

WAAR PRESIES IS LLANIDLOES? In die hartjie van Wallis. Dis deel van die graafskap Powys. Ons is omring deur groen heuwels en plase, waar hoofsaaklik met skaap geboer word. Werk is baie skaars. Llanidloes is ’n gesogte plek en daar’s baie “bekeerde” stadsjapies wat hulle hier kom vestig. Soos op alle klein dorpies skinder die mense hier ook maar lekker.

JULLE DOEN OOK BAIE ANDER DINGE? Ja, soos evangelisasiewerk. Dis maar ’n ongelowige spul en ons het baie sielewerk om te doen. Ons is albei onderwysers. Marius hou skool by ’n hoërskool op die buurdorp en ek is by die plaaslike hoërskool, waar ek ’n spesiale eenheid vir kinders met outisme het. Ek werk vir die regering. Onderwysers verdien heelwat minder in Wallis as in Londen, maar ons lewenstandaard is goed.

VERTEL MEER VAN DIE WALLIESERS. Hulle is eenvoudige mense met ’n werklike lus vir die lewe. Hulle is buitelug-mense en kranige stappers en kampeer graag. Die Snowdonia-bergreeks is niks vir hulle om uit te klim nie.

AANPASSINGS? Nie besonder moeilik nie. Die mense het ons met ope arms ontvang. Daar is nie ’n naweek dat ons nie deur iemand genooi word vir ’n ete of ’n ding nie. Ons het baie vriende gemaak, soveel dat ons in 2003 ’n groep van 24 van ons vriende Suid-Afrika toe geneem het vir ’n toer.

WAT MIS JULLE? Familie en vriende. Braai, biltong en boerewors.

VERSKILLE? Mense lewe eenvoudig en is nie ingestel op aardse besittings nie. Hulle is nie baie gelowig nie en seker net 2% van die dorp se mense gaan kerk toe. Die kinders is ook baie anders. Hulle het nie eintlik respek vir volwassenes nie, en eien hulself meer toe as kinders in SA. Ons mis die ordentlikheid en respek van Suid-Afrikaanse kinders. Die weer … Ons het net drie maande per jaar somer. Dié jaar moes ons die somer gemis het, want dit was bewolk en het regdeur gereën!

IS DIE GRAS DAAR GROENER? Nee, nie altyd nie. Dalk in die begin toe alles nuut, interessant en lekker was, maar die realiteit kry jou beet ná so ses maande. Londen en Wallis is mooi en lekker as dit tydelik is, maar daar is geen manier hoe enige Suid-Afrikaner kan sê hulle geniet dit om permanent hier te bly nie. Die geld is goed, maar wat mense vergeet, is dat ons ook in pond moet lewe, en dis duur.

RAAD VIR SUID-AFRIKANERS WAT OORSEE WIL GAAN WERK EN WOON? Maak seker van ál jou feite. Moenie na vriende luister nie. Almal in Londen sal natuurlik sê dis great, want dis lekker om nog stemme in die koor te hê. Moenie Suid-Afrika afskryf nie. Hou jou spaarrekenings oop, hou jou pensioen aan die gang en moenie jou eiendom verkoop nie. Daar is géén beter plek as die huis nie. Gaan met liefde, gaan kyk wat jy wil kyk, maar keer terug, want jou wortels kan jy nie sommer skuif nie.

EK NEEM AAN JULLE KOM TERUG? Hoewel dit pragtig is tussen die Walliese heuwels, wil ons. Ons is besig met planne om huis toe te kom. Ons mis ons ouers te veel.