Reise

Susan Klynsmith e-pos uit Luxemburg

Vertel meer van waar julle woon en hoe dit is.
Ernst (my man), ek en ons twee dogters, Alizandré en Mizanderlé, woon al die afgelope 2 jaar in Luxemburg. Ernst werk vir Nando’s en hulle internasionale hoofkantoor is hier. Luxemburg is ‘n klein landjie en ons woon in die hoofstad, Luxemburg self. Ernst werk al die afgelope 10 jaar vir Nando’s en is ‘n pos hier aangebied. Ons het om verskeie redes besluit om hierheen te trek, een daarvan is die internasionale blootstelling vir die kinders. Ek is tans ‘n “tuisteskepper” – volgens my man is dit net ‘n mooi woord, sodat ek my “speelgroepie” meer kan sien.

Was die aanpassing moeilik?
Die aanpassing was massief! Hier is basies twee amptelike tale, Luxemburgish en Frans – nie een wat ek tot op hede kon bemeester nie. Met my Engels en Franse woordeboek kry ek gewoonlik al die goed wat ons soek. My dogters, nou 8 en 9, kon nie Engels praat nie. In die internasionale skool leer hulle baie vinnig Engels met ‘n program, English Additional Language, praat.

En die leefstyl?
Ons Suid-Afrikaners is baie meer sosiaal in Suid-Afrika. Hier eet meeste mense hul hoofmaaltyd in die middag en in die aande is almal omtrent by die huis. Moet ook sê dis in die winter vyfuur reeds donker en het ons dan ook nie ‘n behoefte om rond te ry nie. Baie winkels is hier oor middagete gesluit en ook veral Sondae. Die polisiestasie sluit ook op ‘n Sondag. Ons kan geen pille soos Panado’s by die supermark koop nie. Alles moet by die apteek gedoen word. Jy moet dan ook die apteker vra daarvoor. Daar is nie rakke vol medisyne waarvan jy kan kies nie.

Hoe bestee jy jou tyd?
In my vrye tyd is ek nogal besig. Ons is ‘n groep SA vrouens wat elke Woensdag saam middagete eet, soms elke tweede Vrydag ook. Van hulle speel ook graag tennis en ons leer ook French Cuisine kook by ‘n kok, Bertrand!

Ons bak ook gereeld koeksisters. Ons gesin ry gewoonlik baie rond oor naweke. Ons probeer soveel moontlik sien van al die lande. Moet ook sê as daar rugby op die Sky-televisie is, is ons gewoonlik voor die televisie. Ons gesin braai elke Saterdag nog steeds. Dit maak nie saak of dit sneeu of reën nie. Ons bure in die straat verwys altyd na die Suid-Afrikaners op die hoek wat al weer braai. Ons mis net die vetjies op die skaaptjops baie. Hier sny hulle al die vet af en bly net die been en ‘n stukkie vleis omtrent 3 cm x 3c m in die middel oor. Die eerste keer toe ons braai, het Alizandré toe 7, sommer agt tjops opgeëet.

Is dit mooi daar?
Luxembourg is pragtig. Ons beleef elke seisoen. Daar is baie woude rondom ons. In April is die wilde affodille orals. Die blare begin reeds val en daar lê ‘n kombers van blare onder die bome. Die stadsraad kom verwyder dit gereeld. Ek moet gewoonlik vinnig wees om foto’s te neem. Ons Kersmarkte is baie mooi. Ons geniet ook al die lekker Belgiese sjokolade. Ons eet gereeld pastries, wat natuurlik baie vet maak. Een maal ‘n jaar kry ons die geleentheid om ‘n Pick n Pay-lys deur te stuur en word ons bestelling met ‘n vraghouer ingebring. Ons betaal in euro’s daarvoor. Ons bestel dan alles wat ons nodig het vir die volgende jaar. Ons kan nie wag vir die houer om te arriveer nie.

En kontak met mense in SA?
Ek praat nog daagliks met my skoonma in Suid-Afrika. Ek hou ook kontak met al ons vriende. Wanneer jy alleen in die verte is, is dit baie belangrik vir die kinders om te weet daar is nog familie en vriende wat aan jou dink. Maar dis ook belangrik vir ons. Dit is veral moeilik vir die kinders as dit hulle verjaarsdae is, veral wanneer ons terugkeer na ‘n lekker vakansie in SA. Ek kry ook my SARIE elke maand – ek moet op die hoogte bly wat in my land gebeur. Ek lees ook Beeld elke dag op die internet.

Wat mis jy?
Ek mis baie dinge van Suid Afrika. Ek mis my familie, my viende, my troeteldiere, my taal, maar veral my land. Dit is vir my ongelooflik belangrik om Suid-Afrika twee keer per jaar te besoek. Een keer moet ek net Wildtuin toe gaan om seker te maak ek kan nog diere herken . . . en vind! Ek mis lekker gekerfde biltong, ek mis Mrs Ball’s-blatjang. Ek mis die donderstorms op ‘n laatmiddag.

Ons weet nog nie hoe lank ons hier gaan wees nie, maar ons sal wel beslis in Suid-Afrika kom aftree indien ons nie vroeër terug is nie.

  • 2zrGs6 wwlmrxspndid, [url=http://apukwlbvtsjm.com/]apukwlbvtsjm[/url], [link=http://wjkkisoinajm.com/]wjkkisoinajm[/link], http://wamyhpgamdgq.com/

  • coqgpmt

    pZyvOv emsdazbtrcnj, [url=http://ovnmrsxhapor.com/]ovnmrsxhapor[/url], [link=http://kvpledelxraj.com/]kvpledelxraj[/link], http://goxvjtnkgjqk.com/