jun08kuberkuier1
Reise

E-pos uit Luz, Portugal

HOE LANK WOON JULLE AL IN PORTUGAL? Tien jaar! Ek en my man, Gert, het saam met my suster Linda en haar man, Willem, hierheen geëmigreer net nadat ek en Gert afgetree het. Ons almal was gereed vir ’n verandering. Ons woon in Luz in die suide van Portugal, oftewel die Algarve.

WAT DOEN JULLE MET JUL TYD? Ons verken die land, speel rolbal en gholf, en ek en Linda speel brug. Só het ons gou vriende gemaak en in die gemeenskap aangepas. Almal hier maak ook meestal hul eie huise skoon – ons vier inkluis. Gert en Willem, wat nooit juis danige nutsmanne was nie, het hier kom leer van skroewedraaiers en bore en silikoon-gewere. As iets breek, maak ’n mens dit self reg, en in die reënseisoen vertrap die manne wat raad het vir lekkende dakke en klam mure mekaar voor die rakke.

HOE IS DIE MENSE? Ongelooflik geduldig, saggeaard en sonder begrip van tyd. Tot hulle agter die stuurwiel van ’n motor inklim – dan is hulle ongeskik en ongeduldig! En in Portugal is kinders koning. ’n Baba kan die hele supermark of poskantoor tot stilstand bring as al wat ’n vrouewerker is haar pos verlaat om eers na die baba te kyk. Daarom dat die verdwyning van die McCann-kind hier so ’n skok was en daar maande later nog oor gepraat is. Toe die nuus omstreeks tienuur die aand hier in Luz rugbaar geword het, het restaurante gesluit en almal het begin soek.

WAS DIE AANPASSING MOEILIK? Ná tien jaar hier beleef die Portugese ons steeds as aggressief! Hoewel ons probeer om dit nie te doen nie praat ons vinniger en harder as waaraan hulle gewoond is. Nog iets wat aanvanklik vir ons baie moeilik was, is die stadige pas waarteen alles hier gebeur. Alles is amanhã (môre), maar in die praktyk beteken dit eintlik “nie vandag nie, miskien môre of miskien eers volgende maand”.

ENIGE INTERESSANTE STAALTJIES? Ek het gordyne laat maak, wat gans te kort uitgekom het. Ek gaan gee hulle toe terug en gee weer die afmetings, maar dit was steeds te kort. Ek en die gordynvrou meet toe elk met ons eie maatband. Skielik verhelder haar gesig en sy vra of ek geweet het ’n Portugese meter is korter as ’n gewone meter! (Die bestuurder het darem erken dit is nie so nie. Ek het my geld teruggekry en dit self by die huis gaan langer maak.) Vandat ons ons Portugese kredietkaarte gekry het, het ons nie toegang tot die Engelse taalfunksie op die OTM nie en ons moes leer om ons banksake in Portugees te doen.

MIS JULLE SUID-AFRIKA? Ons gaan almal minstens een keer per jaar Suid-Afrika toe om vir familie en vriende te kuier. Vir my en Linda is ouma Betjie (88), wat op Heidelberg (Gauteng) in ’n aftree-oord woon, die grootste trekpleister. Maar vir ons, soos vir baie ander Suid-Afrikaners, het die lewe ’n vol sirkel geloop. Ons voorgeslagte het eeue gelede van oral uit Europa in die Kaap die Goeie Hoop ’n heenkome gevind, en nou keer baie van ons terug na die kontinent waar ons voorvaders vandaan gekom het.