jul07kuberkuier1
Reise

E-pos uit Malmö, Swede

VERTEL MEER VAN SWEDE EN WAAR JULLE WOON. Malmö is Swede se derde grootste stad met ongeveer 275 000 inwoners en is in die provinsie Skåne. Dit staan algemeen as “die stad van parke” bekend. Die wilde ganse, eende en swane leef in wonderlike harmonie met die inwoners en hul goed gemanierde honde (en selfs katte!). Ja, die katte stap ook aan leibandjies in die parke.

HOE’T JY DAAR BELAND? My man, Ockert, werk die afgelope 2 jaar vir ’n maatskappy hier, maar ons het SA al in 1999 verlaat toe ’n Sweedse maatskappy hom genader het om in die Oekraïne en later Moskou as finansiële direkteur te gaan werk.

IS DIT NET JY EN HY IN DIE HUIS?
Ons het drie seuns. Die twee oudstes, Ockert-John (23) en Renier (21), studeer in Suid-Afrika. Die jongste, Stéfan (16), is hier op skool.

WAT DOEN JULLE WANNEER JULLE UITGAAN OF ONTSPAN?
Ná Rusland en die Oekraïne is ons terug in die paradys waar ons weer in Engels kan fliek, uiteet, koffie drink, en sommer net stap in die vele parke en pragtige loopstrate. Ons woon ook konserte by en gaan na kunsuitstallings.

’N MENS HOOR BAIE HOE MODERN EN LIBERAAL DIE SWEEDSE SAMELEWING IS?
Buitelanders stereotipeer Swede volgens die vier s’e: seks, selfmoord, sosialisme en “spirits” (alkohol), maar dis onakkuraat. Die Sweedse “oop” ingesteldheid teenoor seks en nudisme, die pragtige blonde meisies en die progressiewe, liberale flieks van onder andere Ingmar Bergman het die verkeerde beeld geskep. Die meeste Swede verafsku byvoorbeeld die Duitse term “Schwedenfilm”, wat “pornografiese film” beteken. Statistieke bewys die selfmoord-stereotipe ook verkeerd. Die land probeer wel tradisionele sosialisme (’n goue middeweg tussen kapitalisme en kommunisme) handhaaf, maar dis net gedeeltelik suksesvol. En die feit dat die res van die wêreld Swede as ’n beskonke nasie sien, is beslis onwaar.

IS DAAR NOG TEKENS VAN DIE VIKINGS SE KULTUUR? Ja, hier in die suide veral is daar straatname soos Vikingagatan. Daar is verskeie besienswaardighede, soos die replika Vikingstad in Trelleborg, die werkende Vikingstad naby Falsterbo en die hoogtepunt, Ales Stenar (Ale’s Stones) naby Ystad. Daar is ook talle klipstapel-grafte oral langs die pad.

HOE IS DIE KOS? Die Swede eet nie sommer iets sonder sous nie. En hulle is mal oor koffie – die Swede is glo die grootste koffieverbruikers per capita ter wêreld.

IS DIE MENSE BAIE ANDERS AS IN SA? Hoewel die meeste Swede tweetalig is (Sweeds en Engels), is hulle versigtig om met uitlanders kontak te maak. Kulturele waardes van onafhanklikheid, gelykheid en samewerking is belangrik en kom vanuit die Viking-era.

PLANNE OM TERUG TE KOM?
Ons beplan om so lank moontlik oorsee te werk.