Reise

Heleen en Gert de Necker e-pos uit die ‘outback’, Australië

Waarom Mt Isa?
Ek en my man, Gert, en ons kinders, Dupreez (3) en Kate (1), woon van Augustus af in Mt Isa. Ons het reeds in 2008 Australië toe gekom, maar het eers in Brisbane gewoon. Mt Isa is 1 500 km van Brisbane af en in die Outback. Elke Augustus is dit die rodeo hier en dan lyk dit soos ‘n regte ‘cowboy’-dorp.
Gert het ‘n goeie aanbod gekry deur die werk. Dis ‘n baie beter leefstyl vir ons as gesin. Gert het in interne oudit gewerk in Brisbane en moes elke tweede week weggaan na die myne om daar te oudit. Hy is nog steeds by dieselfde mynmaatskappy, maar werk nie meer in oudit nie en sy werk is net vyf minute van die huis af. Ek is ‘n prokureur, maar is nou ‘n tuisbly-ma.

Hoe lyk dit daar?
Dit lyk soos Bosveld hier om ons – baie droë hitte. Die natuur is ‘n sensitiewe saak. Hier is die geitjies en paddas die hele wêreld vol! Maar dis pragtig groen op die oomblik en vir my baie mooi. Hier is ook ‘n rivier, Lake Moondarra so 13k m uit die dorp en dis regtig pragtig. Alles is vyf minute van mekaar af, wat beteken ons hoef nooit vasgevang te voel in verkeer nie en het baie meer tyd om dinge saam te doen. Mt Isa het ‘n heerlike klimaat. In die somer styg die kwik tot in die hoë dertigs. Die wintersdae het perfekte weer met koel aande. Ons kry alle Suid-Afrikaanse produkte, van boerewors tot Fling-skyfies hier. Daar is ‘n plek, Springbok Foods, wat Suid-Afrikaanse produkte invoer en gereeld voorraad na Mt Isa bring.

Waarmee hou jy jou besig?
Met die kinders, want hulle is maar nog baie klein. Naweke braai ons as gesin en speel in die park met die kinders. Die lekker ding van Mt Isa is dat die winkels nie op ‘n Sondag oop is nie – so ons gaan kerk toe en is die res van die dag tuis.

Wat mis julle die meeste?
My kinders mis uit op ‘n Oupa en Ouma se liefde en familiekuiers – Sondae se luilekkerkuier en saam eet. En ons kan ook nie vir elke geleentheid Suid-Afrika toe vlieg nie – ek het my oudste broer se troue gemis en mis in November ook my beste vriendin se troue. Ons is so geseënd dat beide my en Gert se ma’s nog elke jaar vir ses weke aaneen kom kuier. Dis ‘n groot voorreg en bederf vir ons en die kinders. Ten spyte van alles is ons baie gelukkig. Ons kuier gereeld met voormalige kollegas van my man van Brisbane (ook Suid-Afrikaners). Ons braai gewoonlik en net soos dit ‘n goeie Suid-Afrikaanse huisvrou betaam, sit ek (gebrande) tuisgebakte mieliebrood voor – ‘n resep uit my Kook en Geniet!

  • Claus Kempen

    Dis moerse nice!!! Mis julle nou baie.

  • Wilna Dreyer

    Sjoe dit was lekker om nuus vanaf Heleen te kry. Ek is bevoorreg om die gesin te ken, daarom weet ek hoe baie verlang Ouma Elize en Oupa Abe na die kinders en klein kinders. Heleen dis pragtige fotos ek is so bly julle bly lekker in julle nuwe tuiste. Kuier lekker saam met ouma Elize en dra ons almal se groete oor aan haar.

  • Hanlie

    Die beste vriendin huil nou so klein bietjie.

    Baie lief vir julle. Dit lyk regtig pragtig daar!

    "hans"

  • Tannie Annatjie en oom Fanie Kruis

    Hallo Julle, dit was nou ‘n lekker artikel en nou weet ons presies wat ons altyd wou geweet het. Waar julle presies bly en hoe dit daar lyk. In my gedagtes sien ek Thabazimbi. Ek dink dit lyk so by julle. Dankie dat jy jou tannie ook aan ‘n nuwe deel van die tegnologie bekendgestel het. Dit was voorwaar ‘n ondervinding. Julle moet lekker kuier met ouma Elize. Dit is nou nie meer lank nie dan is oupa Abè ook daar. Ons mis julle!

  • Die Pienaar’s

    Dit is so lekker om altyd te hoor dit gaan goed met julle!! Ons mis julle sommer baie, veral die koffie kuiers 🙂

  • Afv1jz qumxujzkgctj, [url=http://dykpzzxtqurh.com/]dykpzzxtqurh[/url], [link=http://qbqoumsrwwwc.com/]qbqoumsrwwwc[/link], http://nptfqcmtfazx.com/