Reise

E-pos uit Nahariya, Israel

‘Volgende jaar Pasga in Jerusalem.’ Dís die versugting van alle Jode, waar hulle hulle ook al bevind. En Christene wil graag oor die Pase in Jesus se voetspore loop. Dié jaar begin die Joodse Pesach met die Pasga-maaltyd op die aand van 12 April, die Weste vier Goeie Vrydag op 14 April en die Oosterse Ortodokse Christene op 21 April.

WAAROM ISRAEL? Ek het 20 jaar lank daarna gestrewe om na Israel te verhuis – as gevolg van my Joodse herkoms en ’n belangstelling in die land. Ek het in 2002 Israeliese burgerskap gekry en woon nou saam met my vriendin, Yehudit, in Nahariya, ’n klein dorpie aan die noordelike kus van die Middellandse See, sowat 10 km suid van die Lebanese grens.

HOE VERSKIL DIE LAND VAN SA? In sekere opsigte maar min. Die politiek verskil radikaal en sosiale verkeer geskied dikwels in kafees en restaurante. Veiligheid is die grootste kwessie omdat ons midde-in ’n oorlog lewe. Maar hoewel gewone misdaad toegeneem het, is dit steeds veilig vir my om saans alleen huis toe te stap.

IS DIE LEWENSKOSTE HOOG? Huisvesting word in Amerikaanse dollar betaal. Die res is soortgelyk aan SA, met interessante verskille: Op die mark (souk) is alles goedkoper, van vars vrugte, groente, neute, klere tot huishoudelike goedere. Israeli’s eet báie vrugte en groente. Ek is mal oor humus, falafel, shwarma, jogurts en wonderlike wit kase. My studente leer my hoe om hul tradisionele disse te kook. Heerlik! Russies, Roemeens, Chinees, Lebanees, ens.

GEE JY KLAS? Vier aande per week, Engelse klasse vir volwassenes. En ek maak ook huise skoon.

KOM ’N MENS OOR DIE WEG NET MET ENGELS? Met Engels kan jy oorleef, maar nie as jy wil inskakel nie. Dié jaar wil ek regtig leer geséls. Hebreeus is maar die voertaal en hoewel dit anders as Bybelse Hebreeus is, kan elke Israeli die oorspronklike Bybeltekste lees en verstaan.

PAS JY GEMAKLIK IN? Ja, ek het geweet wat lê vir my voor, en dis ’n oop samelewing – hier woon mense van elke vasteland en meer as 80 lande: Álmal is vreemd, dus is niemand vreemd nie!

NUWE VRIENDE?
Ja, verskeie, hoewel nie veel intieme vriende nie. My beste vriend hier is ’n betreklik nuwe immigrant uit Kanada.

WAT GENIET JY DIE MEESTE DAAR?
Die ontspannendheid en hartlikheid. Alles is baie laid back. As nuwe immigrant word ek hartlik verwelkom. Niemand sien op my neer omdat ek klasgee en huise skoonmaak nie.

IETS WAT JOU MINDER GEVAL? Die algemene Midde-Oosterse chauvinisme.

SLUIT JOU TOEKOMSPLANNE SUID-AFRIKA IN? April gaan ek Kaap toe om by my kinders te kuier. Maar ek is hier gevestig en werklik gelukkig.