Reise

Erica Bezuidenhout skryf uit Salmijah, Koeweit

HOE HET DIT GEBEUR DAT JY IN KOEWEIT WERK? Stella McKay, ‘n vriendin wat hier gewerk het, het my vertel watter wonderlike ervaring dit vir haar was. Ek was gereed vir ‘n verandering, want ek het reeds lank skoolgehou in Kaapstad. My aansoek by ‘n skool hier is deur die onderhoof, Miriam Dien (ook ‘n Suid-Afrikaner), aanvaar en ek is sedert September 2007 by die Gulf British Academy. Ek woon in Salmijah, naby Koeweit Stad.

WAT BEHELS JOU WERK? Ek leer kleuters (3- en 4-jariges) Engels. Hul moedertaal is Arabies. In die begin was dit moeilik omdat ek nie hul taal praat nie, maar gelukkig leer hulle vinnig! Ek het intussen ook ‘n bietjie Arabies geleer. My assistent se naam is Reem Hasan,’n Jordaniër. Ons begin net ná sewe soggens en werk tot halfdrie. Tydens Ramadaan kom die kinders gewoonlik eers nege-uur soggens en is die klasse korter. Die somervakansie (middel Junie tot middel Augustus) hier is lank, omdat die temperatuur gemiddeld 46 °C is. En hier is baie sandstorms.

HET JY MOEILIK AANGEPAS?  Nogal, veral oor die taal. En ek moes baie leer oor die Koeweitse kultuur, soos dat restaurante gedurende Ramadaan toe is tot die vas gebreek is en dat niemand tydens die vas in die openbaar mag eet nie. Ek het ook moeilik gewoond geraak aan die week wat op Sondag begin en Donderdag eindig. Vrydae is stil, soos ‘n Sondag in SA, dan gaan ons kerk toe.

IS JY MAKLIK AANVAAR? Ek het gou vriende gemaak wat my vir ete aan huis genooi en ook met trots hul land vir my gewys het.

EN DIE KOS? Hulle het my dadelik die heerlike Arabiese koffie leer drink, nes espresso, maar saam met dadels! Dis moeilik om nie gewig aan te sit nie – die kos is so lekker. Ek kook byna nooit nie, want hier is ‘n groot verskeidenheid eetplekke. Hier is verskillende soorte brijani en ander kerriedisse wat met rys of naan-brood (byna soos ‘n pitabrood) voorgesit word. En die wonderlikste olywe.

IS TAAL STEEDS ‘N PROBLEEM? Soms. Soos toe ek en my woonstelmaat kos bestel het en nie kon verduidelik waar dit afgelewer moes word nie. Ons het na die winkel langs ons woonstel gegaan, weer gebel en toe die telefoon vir die eienaar gegee en gevra hy moet vir die man verduidelik waar ons is!

KRY JY KANS OM TE REIS? Ek was by ‘n party vir vroue in ‘n reuse tent in die woestyn met tradisionele danse en die heerlikste kos. Ek beplan om na Bahrain, Doebai en Egipte te reis, want dis baie bekostigbaar hier. Die Saoedi-Arabiese grens is maar ‘n uur se ry ver.

SAL JY TERUGKEER NA SA EN WAT MIS JY DIE MEESTE? Ek is nog ‘n jaar hier, maar sal vir seker langer bly as my kontrak verleng word. Ek mis my kar! Omdat ek nie ‘n Koeweitse rybewys het nie, ry ek taxi, bus en stap baie. Ek mis ook my familie. Ons praat per e-pos en SMS’e.

ENIGE INTERESSANTE GEBEURE? Ons was in ‘n sandstorm. Dis onmoontlik om te beskryf hoe jy letterlik niks kan sien nie en die lug heeltemal oranje is. Van die ouers het hul kinders by die skool kom haal, terwyl die res van ons maar moes wag totdat die storm verby is. Ons het ook onlangs drie dae lank gerou toe die emir dood is en alle winkels en skole was gesluit.