Reise

E-pos uit Samarkand, Oezbekistan

Hoe het julle oorsee beland?
Jacques:
Ek was onseker oor wat ek ná matriek wou doen. Ek wou nog altyd reis en Londen was ’n trekpleister. Ek is direk ná skool soontoe.
Mandy:
My ouers is oorspronklik van Engeland en ek wou sien waar hulle vandaan kom. Nadat ek Jacques in 1999 in Londen ontmoet het, het ek gebly. Ons was uiteindelik 8 jaar in Londen voor ons Australië toe is.

Wat het julle in Londen gedoen?
Jacques:
Verskeie werke. Die opwindendste was motorfietskoerier – harde werk en nogal gevaarlik, veral op koue, nat dae. Ek het ook deeltyds aan Oxford studeer en ’n kantoorwerk in finansiële administrasie gekry. Later het ek as ouditeur by ’n groot onderneming gewerk.
Mandy:
Ek het aanvanklik deeltydse werk gedoen vir ondervinding. Daarna het ek as ’n persoonlike assistant gewerk en by dieselfde maatskappy as Jacques beland, totdat ons besluit het om na Australië te verhuis.

Waarheen was jul eerste reis saam?
Thailand. Dit was kort nadat ek Mandy ontmoet het en besef het sy is die een vir my! Dit was ’n paar weke voor ek sou teruggaan SA toe en ek wou eers ’n paar maande deur Thailand reis. Ek het Mandy oortuig om saam te kom. Ons was 4 weke lank heeltyd bymekaar en dis nogal intens as jy iemand pas ontmoet het. Ons het mekaar baie goed leer ken.

Is julle gemaklike reismaats?
Ons dink so. Ons vul mekaar goed aan. Ons is albei nogal laid-back, Mandy ’n bietjie minder as ek.

Julle is nou op ‘n uitgebreide wêreldreis. Waarom?
Ons wil soveel moontlik leer oor verskillende mense en hul kulture. Hopelik kan ons daardie kennis en ervaring later terugploeg in SA en ander mense help om mekaar te aanvaar vir wie en wat hulle is.

Waar kry julle geld?
Ons betaal alles self. Ons het hard gewerk, gedissiplineerd gespaar en moes baie luukses opoffer, soos uiteet en fliek. Ons voertuig was ook ’n groot onkoste. Ons is bereid om produkte te toets wat ons lewe op reis makliker sal maak en kan gekontak word via ons webwerf www.seeyouwhenwegetthere.com of per e-pos aan contactus@seeyouwhenwegetthere.com.

Waar was julle al?
Ons motor is verskeep van Sydney, Australië, na Seoul, Suid-Korea. Hier is ons per veerboot van Sok Tsjo na Zarubino (3 uur suid van Vladivostok) in die verre ooste van Rusland. Van daar is ons na die noorde, na Jakoetsk, voor ons weswaarts na die Baikalmeer en toe suidwaarts na Mongolië gereis het. Ons het omtrent die hele Mongolië deurkruis en is weer terug na Rusland. Toe is ons suid, deur Kazakstan en Kirgisië, al met die sg. Pamir-snelweg in Tadjikistan. Nou’s ons in Oezbekistan.

Interessante ervarings?
Ons het by 2 Kazak-Mongoolse families in hul gers (tradisionele huise) gekuier en dit was ongelooflik om te sien waaruit hul daaglikse roetine bestaan – kos maak, kinders oppas en die versorging van hul jak-kuddes. Die moderne beskawing het beslis ’n invloed, hoewel hulle steeds ’n nomadiese lewe lei. Die meeste gers het nou sonpanele vir elektrisiteit en ’n TV-skottel! Selfs die trek tussen hul somer- en wintertuistes is deesdae per trok (baie besit nou voertuie), waar dit vroeër per kameel of te perd was en weke geduur het.

Moeilikste van so ‘n reis?
Die feit dat ’n mens nie lank op een plek is nie. Nes jy ’n plek leer ken, is dit weer tyd om aan te beweeg. Natuurlik ook die kampeerdery, veral wanneer dit koud is.

Sal julle weer ‘n normale roetine kan hê?
Hopelik! Ten minste tot ons genoeg gespaar het om weer die pad te vat vir ’n paar jaar.