mei08kuberkuier1b
Reise

E-pos uit Santiago, Chili

HOE HET DIT GEBEUR? Ek het so vier jaar gelede ’n Chileense meisie in Taipei ontmoet en saam met haar deur Chili en Peru getoer. Ná die besoek was ek heeltemal verlief – in meer opsigte as een! Ek en Carla Agurto het in 2005 ’n jaar lank aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit gestudeer en is nou reeds twee jaar weer in Chili. Ek werk in die media en sy gee Engels en Spaans. Hier word soveel Spaans gepraat dat dit my gehelp het om dié taal finaal onder die knie te kry.

HOE IS DIE MENSE DAAR? Die Chilene is warm, vriendelik en plat op die aarde. Hulle het wel ’n streep van daardie Latynse sensualiteit wat jy gewoonlik met Sentraal- en Suid-Amerika assosieer, maar ander Suid-Amerikaners beskou hulle as meer konserwatief. Ek toer baie en in vergelyking met die meeste Europese kulture is die Chilene baie uitbundige, vry, oop en liberale mense. Hulle is lief vir die lewe, leef vir die oomblik en is duidelik lief vir kuier. Die meerderheid van die mense is Rooms-Katoliek.

IS DAAR BAIE UITLANDERS? Nogal. Die meeste van die jongmense wat ek ontmoet, gee Engels of is studente of reisigers. Die ouer expats in Chili werk in ’n verskeidenheid van velde, onder meer die mynwese, finansiering, internasionale verskeping en die media.

EN DIE KOS? ’n Vriend van my het die Chileense kos eendag mooi beskryf en gesê dis soos jou ouma se Sondagmiddagete. Hulle kos is nie baie eksoties nie, maar heerlike, hartlike kookkos, sou ek sê. Die mense is baie lief vir chorizo – ’n skerp gegeurde varkwors, wat hulle gewoonlik braai. Van my gunsteling-disse is cazuela, ’n geurige hoendersop met groot porsies vleis, pampoen, mielies, aartappels, rys, gekapte koljanderblare en ’n paar druppels suurlemoensap.

VERTEL MEER VAN CHILI? Dis demografies ’n lang land en strek in totaal oor ’n afstand van omtrent 4 500 km. Die klimaat verskil baie van noord na suid. Santiago en die sentrale deel is op dieselfde breedtegraad as Kaapstad en die weer is taamlik soortgelyk – matig Mediterreens met droë, warm somers (tot by 35˚C) en koue, nat winters. Maar die Atacama-woestyn (die wêreld se droogste woestyn) is in die noorde en die suidpunt van die land eindig in die Antarktiese streek. Dis ’n reuse- en pragtige kontras.

WAT SLAAN JOU ASEM WEG? Die Andes-gebergte, wat net buite die stad begin. Dis ’n magtige bergreeks en hou nooit op om my te verstom nie.

WAT PLA JOU VAN DIE LAND? Die Chilene is áltyd laat!

ENIGE INTERESSANTE STAALTJIES? ’n Vrou in ons buurt probeer so af en toe om haar iguana vir ’n uitstappie in die park te vat, maar sy maak nie vreeslik vordering met die ongedierte nie.

WAT IS NOG INTERESSANT DAAR? Die land het in 2006 Suid-Amerikaanse geskiedenis gemaak deur die kontinent se eerste vroue-president te verkies.

SAL JULLE OOIT TERUGKOM? Ek en Carla gaan ons later vanjaar in Londen vestig vir ’n paar jaar.