Reise

E-pos uit Seoel, Suid-Korea

HOE VIND JY DIE KOREANE? Die innemendheid van die Koreane is ’n onverwagse hoogtepunt. Hulle staan algemeen bekend as die “Italianers van die Ooste” – in skrille kontras met hul emosielose Japanse bure. Hulle waardeer mekaar, die nabyheid van familie, is versot op kinders en deel graag wat hulle ook al het. Dié hardwerkende nasie met ’n beskawing van meer as 5 000 jaar, is gedrewe, passievol en werklik inspirerend. Seoel is die woonplek van 12 miljoen mense en een van die digs bevolkte stede ter wêreld.

IS DAAR BAIE SUID-AFRIKANERS? Net ’n handjie vol, meestal kontrakwerkers. My man, DJ, is ’n rekenaarkonsultant. Ons het 18 maande gelede vir 2 jaar hier kom woon. Westerse vroue is ’n aardigheid vir hulle en blonde kinders sien mens net in Amerikaanse TV-advertensies.

WAS DIE AANPASSING GROOT? Die grootste was beslis die taal en kos. Koreaans (Hangoel) is ’n fonetiese taal met 10 verskillende alfabet-tekens vir vokale en 14 vir konsonante. Dis maklik om die alfabet-tekens te leer en ’n mens lees Hangoel ook van links na regs. Maar die gesproke taal is ’n onbegonne taak. Begrippe soos goeie dag, asseblief, dankie, links, regs, tot siens, nee, ja en hoender het ons heel eerste geleer. Die Koreane is baie intelligent en kommunikasie met behulp van animasie is pret en suksesvol.

WAT IS ANDERS AAN DIE KOS? Dis so sterk jy verloor ’n paar uur lank alle gevoel in jou neus, mond en keelholtes. ’n Gróót verskeidenheid rissiepoeiers, smeerbare rissies en rissiesouse word in oormaat op alles gegooi. Varsheid is so belangrik dat seekos soms half lewend geëet word! Rys is ook ’n bestanddeel in allerlei drankies. Geen groente oorleef Korea se strawwe, koue winters nie en ’n mengsel van knoffel, rissies en speserye word as preserveermiddel oor groente gegooi, en dan in groot bruin keramiekpotte bewaar. Ons koop sover moontlik rou produkte en kook maar tuis sodat dit minder vreemd is – en ons koop net vleis wat sê: “Australian beef” of “New Zealand mutton”.

IS JUL KINDERS IN GOEIE SKOLE? Wel, die skoolgeld vir ons twee seuns, Bailey en Ethan, is ongeveer $20 000 (sowat R122 000) per jaar!

WAT IS DIE DING OOR BLONDE HARE? Die Koreane ken dit nie. Omdat ek en die kinders blond is, is dit ’n reuse-aantrekkingskrag en ’n gewone besoek aan die winkels of ’n vinnige uitstappie park toe ontaard in ’n toeloop en bestorming. Hulle probeer gedurig aan ons vat of naby ons staan. Oral word foto’s van ons geneem en groepe jong meisies sal entoesiasties nader staan met: “I lub you” of “Hab a nice dê.”

HET JULLE ’N SOSIALE LEWE? Ek het heelwat goeie vriendinne. ’n Paar ma’s kom soms bymekaar vir ’n koppie koffie en Engelse geselskap. Die Engelse kerkdiens is Sondagmiddae – meesal vir Koreaanse Amerikaners. Ons huisvriende is in dié groep, wat in alle kulturele opsigte Westers is.

EN VOLGENDE? Vir ons volgende avontuur gaan ons Amerika toe!