Reise

E-pos uit Siheung Stad, Suid-Korea

HOEKOM SUID-KOREA? Ná my studies het ek doelbewus ’n effense kultuurskok gaan soek. Ek is nog altyd gefassineer deur die Ooste omdat die kultuur so baie van ons s’n verskil. Toe ek ernstig daaroor begin dink het, het ek op Suid-Korea besluit. Dis so ’n besonderse, misterieuse en onontdekte land – nog meer as byvoorbeeld China en Japan. Ons is nou byna ’n jaar hier.

WIE IS SAAM MET JOU DAAR? Ek en my kêrel, Christiaan Louw. Ons het albei grade in joernalistiek aan die Grahamstad Universiteit verwerf, en ook diplomas in Engels-onderrig. Ons leer mense hier Engels praat. (Ons is albei 23, maar in die Koreaanse tradisie is ons reeds 24 omdat jy in dié kultuur al een jaar oud is op jou geboortedag!)

WAT WAS DIE GROOTSTE AANPASSING VIR JOU? Om te aanvaar dat mense op straat my oopmond aanstaar of voorkeer om hul Engels te oefen.

HOE IS DIE WEER? Die Koreane is baie trots daarop dat die land vier ekstreme seisoene het. Winter is baie koud met sneeu landwyd. Lente is warm en dis ook die tyd wanneer toeriste hierheen stroom om die kersiebloeisels te sien. Somer weer is bedompig en ongelooflik warm. Al wat ’n mens in die somer sien, is lywe met papierwaaiers vir gesigte. Herfs het matige temperature, reën en die pragtigste kleure.

WAT EET DIE MENSE? Basies rys en/of kimtsji (vrotterige kool!). Lg. is die vreemdste ding waaraan ek nog my mond gesit het. Daarby word verskillende soorte bykosse soos rou seekat in chilisous en tofoe-sop geëet. Die disse is baie speseryagtig en branderig, wat natuurlik goed is vir spysvertering.

IS DAAR ENIGE ANDER VREEMDE KOS WAARVOOR JY NOG MOED BYMEKAAR SKRAAP?
Sywurmlarwe-sop en lewende seekat!

WAT DOEN DIE KOREANE NÁ WERK? Die werksdag begin baie later as in SA en eindig meestal eers ná nege-uur of selfs tienuur. Die mense is baie sosiaal en drink graag ná werk ’n drankie.

TROETELDIERE IS BLYKBAAR BELANGRIK? Die oorgrote meerderheid van die mense woon in woonstelblokke en klein honde is baie gewild, veral onder pasgetroudes. Hulle word oral saamgedra. Daar is selfs in groot supermarkte spesiale houers waarin jy jou hond kan los terwyl jy inkopies doen. Troeteldier-bykomstighede is ook baie gewild en jy sien oral hondjies met pienk gekleurde hare en hondeklere – selfs skoene – aan. Ek het ook al ’n poedel met geverfde toonnaels gesien. Ek moes wyd en ver soek en boonop duur betaal vir my troetelkat, omdat die mense baie bygelowig is – katte lok glo bose dinge en slegte karma.

HOE LANK BEPLAN JY OM NOG DAAR TE WOON? My kontrak verstryk middel September.

IS DAAR BAIE ANDER SUID-AFRIKANERS? Heelparty, die meeste is Engels-onderwysers. Dis lekker om so nou en dan bymekaar te kom om die Springbokke aan te moedig!