apr08kuberkuier1a
Reise

E-pos uit Skopje, Macedonië

HOEKOM IS JULLE DAAR? ’n Tydelike kontrak in die mynbedryf het my man, André, hierheen gebring. Ismi se skoonsuster is my beste vriendin en só het haar man, Riaan, ook hier werk gekry.

WAT DOEN JULLE ALMAL? Ons mans is deel van die finansiële span van ’n mynmaatskappy. André werk in ons buurdorp Kavadarci en Riaan in die buurland Kosovo. Hier is ’n groot behoefte aan ’n Engelse private skool vanweë die baie buitelanders. Ismi is ’n private onderwyseres vir die politieke attaché van Italië se seun in Skopje. Ek het afstandswerk vir Unisa gedoen, maar is nou voltyds ma vir André (7) en Aniella (1).

IS DAAR BAIE SUID-AFRIKANERS? Hier is vyf SA gesinne in Skopje en talle gesinne in Kosovo. Die meeste het tydelike werkkontrakte.

HOE GOU HET JULLE AANGEPAS? Ons is nou agttien maande hier. Om deur die eerste grys en mistroostige winter te kom was ’n groot uitdaging, want dit raak baie koud (tot -10 °C). Gelukkig is hier kerke en ’n sterk internasionale vroue-organisasie waar ons wonderlike vriendinne van oor die hele wêreld ontmoet het. Ons doen liefdadigheidswerk en selfverrykingsklasse soos glasmaak en kookkuns-kursusse.

HOE IS DIE SOMER? Temperature styg tot 47 °C en Skopje verander in ’n lushof vol groot, groen bome. Die meeste restaurante hier onthaal graag buite en die inwoners stap, draf, ry fiets of rolskaats langs die Vardar-rivier.

EN HUL EETGEWOONTES? Macedoniërs eet nie gereeld ontbyt nie, maar hulle sal wel ongegeurde jogurt en sesam-ringbroodjies eet. Middagete is teen vieruur en aandete eers teen tienuur. Hulle eet baie brood, slaaie, kouevleis en kasserolgeregte, wat bestaan uit paprika, preie en kool.

DIE KULTUUR? Die mense is baie familievas en twee of drie geslagte woon dikwels in een huis. Hulle is lief om in die somer tot laataand buite te kuier en die volgende dag laat te slaap. Winkels het nie altyd vaste ure nie en kan soms eers twaalfuur die middag oopmaak, maar bly dan oop tot tienuur. Die invloed van kommunisme slaan steeds deur en die plattelanders is nog baie arm.

WAT IS OPVALLEND VAN SKOPJE? Die kontras tussen geboue is groot – langs ’n ultramoderne gebou is dikwels ’n vervalle, eeue oue een. Daar is ook geen onderskeid tussen die sosio-ekonomiese stand van die woonbuurte nie. Mense van alle klasse woon in een buurt. Die geboue, sypaadjies en paaie is soms nie in ’n goeie toestand nie, en vullis word ongelukkig oral rondgestrooi. Die natuur is egter pragtig. Skopje word aan twee kante deur berge begrens en André ry daagliks langs die Vardar-rivier deur die berge en wingerde na sy werk.

WAT IS DIE EEN DING WAT JULLE SOU VERANDER AS JULLE KON? Mense se rookgewoontes (tot 80% van die bevolking rook) en die verontagsaming van padreëls.

BEPLAN JULLE OM TERUG TE KEER NA SA? Beslis. Ons keer terug wanneer ons mans se werkkontrakte verstryk.