Reise

E-pos uit St. Petersburg, Rusland

HOE HET JY DAAR BELAND? Ek werk vir ’n internasionale hotelgroep, The Rezidor. Dié groep het die Park Inn Pulkovskaya, ’n hotel met 840 kamers, oorgeneem en my ’n aanbod gemaak. Ek kon die avontuur nie misloop nie. Ek’s al twee jaar hier, en sal graag ook elders in Rusland wil werk.

WAT IS DIE HOOGTEPUNTE? Die verskille tussen ons en hulle, die gesukkel om in te pas en aan te pas en om dan uiteindelik te voel jy word deel van die plek.

WAT WAS DIE MOEILIKSTE AANPASSING? Die taal, om nie te kan verstaan of te kan hulp vra wanneer jy verdwaal nie. Of in ’n winkel te kan vra waarna jy soek nie. Ek loop wel Russiese klasse.

VREEMDE GEBRUIKE? As jy gaan kuier, moet jy jou skoene uittrek sodra jy binnekom. As jy nie ’n gereelde vriendin is wat ’n paar huisskoene daar gelaat het nie, gee hulle vir jou pantoffels. Net mans word met die hand gegroet. As ’n vrou haar hand sou uitsteek, word dit gesoen!

DIS ’N STAD VIR OPERA EN BALLET. GAAN KYK JY OOIT? Ja. Die ballet en opera is pragtig, maar die teaters self is net so mooi. Soos die Mariinski-teater met sy klassieke voorkoms en die pragtige House of Architects-teater.

WATTER GEBOU OF STUKKIE NATUURSKOON LAAT JOU MOND OOPHANG? Die Kerk van die Verlosser van die Vergiete Bloed. Dit is gebou waar Tsaar Alexander II vermoor is. Vandaar die naam. Dit word ook die Mosaïek-kerk genoem, want die hele interieur is van die mooiste mosaïek gemaak. Peterhof, met sy fonteine en tuine rondom die paleis van keiser Peter die Grote wat die stad in 1703 gestig het, is ook pragtig.

WAT DOEN JY VIR ONTSPANNING? Ek stap in die parke of stad rond en geniet dit om na die ou geboue te kyk. ’n Mens voel nooit jy’t alles gesien nie.

HOE IS DIE WEER? In die somer raak dit soms tot 30 °C. Dan is almal in die parke of in die woude buite die stad. In die winter raak dit soms tot -20 °C! Dan dra ons dik jasse en spesiale opgestopte buiteskoene. Die sole breek die ys en dit keer dat jy gly.

EN DIE KOS? Die moeilikste smaak om aan te leer is dié van dille. Die Russe eet dit op alles, selfs pizza. Hulle eet gesond – baie slaai, groente en vrugte. Voorbeelde van tradisionele geregte sluit in borsch (beetsop), pirozki (pasteie), sjasjlik (sosaties) en blini (pannekoekies).

VERTEL VAN DIE MENSE? Aanvanklik lyk hulle nors, want hulle glimlag nie. Daar’s baie stories hieroor. Soos as jy glimlag, probeer jy ander besteel of met hulle spot. Sommige sê die Russe glo die enigste manier om hul taal reg te praat is met ’n ernstige gesig. Dit duur maar lank om hulle beter te leer ken, min praat Engels. Hulle is baie familievas en sosiaal. Ongelukkig drink hulle regtig baie, veral bier en vodka.

WAT MAAK DIE STAD VIR JOU SPESIAAL? Die wit nagte. Die hele Junie-maand word dit omtrent glad nie donker nie. En in die winter, wit dae. Oral is ys en sneeu.