sr0905kuberkuier_2_
Reise

Anton en Leigh-Anne Wolfaardt skryf uit Stanley, Falkland-eilande

Hoekom die Falkland-eilande?
Anton is ‘n bewaringsekoloog wat in seevoëls spesialiseer. Nadat hy sy Ph.D. oor die pikkewyne van Afrika voltooi het, is hy ‘n pos deur die Britse Joint Nature Conservation Committee aangebied om hier oor albatrosse en stormvoëls navorsing te doen. Ons het voorheen 5 jaar op Dasseneiland aan die Weskus gebly en Anton was ook ‘n jaar op Marioneiland. Ons het in Maart 2008 hier aangekom en sal 3 jaar bly.

En wat doen julle?
Anton is natuurlik gemoeid met die bewaring van albatrosse en stormvoëls. Ek is ‘n kunstenaar en gebruik die kans om te skep. Ek werk met verskillende mediums, onder meer olie op doek, pen en ink, linosnee en keramiek. Dié unieke plek is so kreatief-inspirerend – uitgestrekte landskappe, fassinerende wildlewe en die eiesoortige nedersettings met hul onderskeie geskiedenisse.

Die aanpassing was seker groot? Hoe is die mense?
Dis altyd ‘n aanpassing, ja, maar ons het darem al voorheen onder soortgelyke omstandighede op Dasseneiland gewoon. Om in te skakel by die gemeenskap was maklik. Hier is soveel interessante mense van reg oor die wêreld. Die Falklandgemeenskap is saamgestel uit locals en kontrakwerkers, soos ons, wat vir verskillende tydperke hier woon. Kontrakwerkers kom van Brittanje, Portugal, Duitsland, Rusland,Amerika, Australië en Nieu- Seeland. Dus ‘n interessante gemeenskap met ‘n aktiewe sosiale lewe! Die inwoners is bekend vir hul gasvryheid en laat vreemdelinge vinnig welkom voel. Soos met klein en geïsoleerde gemeenskappe het die eiland ook sy eie versameling eksentriekes, mense wat die lewe op hul eie terme aanpak. Daar is selfs enkelinge wat meeste van die tyd op hul seiljagte leef, en dan is daar indrukwekkende landbouers wat manalleen op uitgestrekte plase boer.

En die weer?
Die somers het langer dae en hoër temperature. Winters is vriesend (nooit eintlik bo 4 °C nie) met gereelde sneeu en ysige winde. Omdat dit so ver suid is (52 °), is die winterdae kort. Jy kan darem steeds uitgaan om te stap en te kampeer, maar die korter dae en koue weer beteken dat jy deeglik moet beplan. Ekstra tyd om by jou bestemming te kom, genoeg beskermende klere, beslis ‘n GPS, en jy moet seker maak dat jy iemand inlig oor jou presiese roete. Jy kan nie bekostig om iewers gestrand te raak nie!

Is julle avontuurlik met ‘n aktiewe buiteluglewe?
Ons is albei buitelewe-entoesiaste en bestee soveel tyd moontlik om die omgewing te verken. Dis reeds ‘n avontuur om net hier te kan wees!

Waarvan hou julle die meeste?
Die uitgestrektheid en ongereptheid van die landskap, die oorvloedige natuurlewe en die
warmte van die mense. Daar is min plekke op aarde waar jy soggens van jou huis langs ‘n
dramatiese kuslyn kan stap tot by ‘n pikkewynkolonie waar jy ure lank die snaakse voëls kan dophou sonder dat jy ‘n ander lewende siel sien.

Wat mis julle die meeste?
Familie, vriende en ‘n verskeidenheid vars vrugte en groente!

Interessantste ervaring tot dusver?
Daar was baie en ek sien uit na nog. Ek was onlangs op ‘n seil-ekspedisie na een van die eilande in die weste van die argipel om rotte uit te roei omdat hulle die voëls bedreig. Dit was uitputtende en taai werk, maar lonend oor die natuurskoon en tyd saam
met die ander spanlede. En ook om meer van die eilandbewoners se lewe uit te vind. Dit was ook my eerste seiljagvaart, en die opwindendste daarvan was die skool dolfyne wat heelpad saam geswem het, en die alomteenwoordige seevoëls.