Reise

E-pos uit Tianjin, China

WAAR IN CHINA IS TIANJIN? Tianjin is China se derde grootste stad en so twee ure suidoos van Beijing. Ek studeer by Tianjin Normal University. En is besig met een van die grootste uitdagings van my lewe: Ek leer Chinees praat!

HOE HET DÍT GEBEUR? In 2004 het ek ’n beurs gekry om vir ’n M.Sc. in ekonomiese geskiedenis in Londen te studeer. Daar het ek ’n kursus gedoen in pre-moderne Chinese geskiedenis.Toe ek in 2005 na SA terugkeer, het ek deeltyds private Chinese klasse begin loop. Kort daarna het ek gehoor van beurse wat die Chinese regering vir Suid-Afrikaners gee om daar Chinees te gaan studeer.

BESKRYF ’N TIPIESE DAG IN JOU LEWE. Ek verkies gewoonlik om tot taamlik laat saans te studeer (ek is nie ’n wafferse oggendmens nie). So, as ek soggens betyds opstaan, haal ek soms nogal die kafeteria voor die klas begin. Ná vier ure van klasse, waarin ek nie altyd baie verstaan nie (al wat my een dosent in Engels kan sê, is okay en banana), eet ek saam met vriende. As ’n buitelander wat Engels kan praat by ’n universiteit met baie Chinese studente wat amper nooit geleentheid kry om hul Engels te oefen nie, is my geselskap gewoonlik in groot aanvraag.

WAS DIT MOEILIK OM VRIENDE TE MAAK? Dit was glad nie moeilik nie, want die Chinese is van nature baie vriendelik en nuuskierig. Dis boonop ’n goeie idee: Hulle oefen hul Engels en ek my Chinees.

DIS SEKER ’N BESONDER INTERESSANTE LAND? Die land en sy mense is baie uiteenlopend. Die noorde en suide verskil baie van mekaar wat betref natuurskoon, kossoorte, ens. En die ontwikkelde ooste van die land is heeltemal anders as die bergagtige en meer afgeleë weste.

BESKRYF DIE KOS. China se koskultuur is baie divers: Van die heerlike sappige lamsvleis van Xinjiang in die noordweste en die tradisionele opgestopte bun met varkvleis, tot die vuurwarm vis van Sichuan in die suidweste. Kos word amper altyd met rys voorgesit. ’n Vreemde verskynsel is die akwariums in restaurante se voorportale. Gaste kies met die intrapslag vir hulle ’n vis uit wat later aan hulle voorgesit word!

VREEMDE GEBRUIKE? Chinese spoeg op straat en eet gewoonlik oopmond. Hulle skroom ook nie om vullis rond te gooi nie! Hulle meen daar is mos mense wat dit skoonmaak.

HOE IS DIE WEER? Waar ek woon, kan die weer jou soms ietwat depressief stem. Die winters is uiters koud met temperature wat soms hier in Tianjin tot -15° daal, terwyl die somers baie warm is. Met die groot stede en besoedeling hier is dit boonop nie ongewoon dat jy sommige dae geen son sien nie.

WATTER GEWILDE TYDVERDRYF IS DAAR? Vriende eet saam uit en kuier dan tot laat. Sommige van die jonger garde is natuurlik lief vir Westerse styldansplekke, en ’n ander uiters gewilde aktiwiteit is karaoke, wat ek self geniet!

WAS JY AL BY DIE GROOT MUUR? Dis ’n ongelooflike ervaring, ten spyte van die klomp roomysverkopers daar. Maar die Verbode Stad (koninklike paleis van die middel van die Mingdinastie tot die einde van die Qingdinastie) is indrukwekkender – selfs ook meer as Versailles in Frankryk.

PLANNE OM TERUG TE KEER NA SONNIGE SUID-AFRIKA? My studies en avontuurlus sal my nog ’n ruk hier hou.